Skip to main content
Die US in die Parlement

Die US in die Parlement

Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
02 Junie 2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag (31 Mei 2017) weer met die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding vergader. Dít volg ná die Universiteit se besoek aan die Parlement in September 2015 en die komitee se besoek aan die US in Maart 2016.

Die US is hierdie keer gevra om verslag te doen oor transformasie, die samestelling van sy personeelkorps, die nuwe Taalbeleid, studentehuisvesting sowel as kampusveiligheid. (Klik hier vir die US se volledige aanbieding.)

"Die vergadering het goed afgeloop. Die komitee het die US geloof vir die vordering wat reeds gemaak is, maar ook kritiese vrae gestel, soos dit hoort. Die Parlement vervul 'n belangrike toesigrol in Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie. Die US is ʼn trotse openbare universiteit en doen dus graag via die portefeuljekomitee aan die land verslag," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, na die tyd gesê.

Hy het die komitee meegedeel dat die US nog 'n hele ent moet stap, maar dat die Universiteit die reis saam met sy belanghebbers sal voortsit. "Dít is in die belang van nie net ons personeellede en studente nie, maar die samelewing in die geheel."

Die Senaat het die US se Transformasieplan in Maart vanjaar goedgekeur. Verbandhoudende beleidstukke wat sedert September 2016 goedgekeur is, sluit in die nuwe Taalbeleid, die Toelatingsbeleid, die Beleid oor Diensbillikheid, die Dissiplinêre Kode vir Studente, en die Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering.

  • Klik hier vir die US se volledige aanbieding
  • In die foto hierbo staan die US-afvaardiging voor die parlement. Van links, mnre Wayde Davidse, Maxwell Mlangeni, Sello Molapo en Victor Mothobi, me Nicolette van den Eijkel, prof Wim de Villiers, mx Liana Letabo Maheso, mx Lynshay Julies, prof Arnold Schoonwinkel, dr Adelbert Scholtz, prof PW van der Walt, dr Jerome Slamat en prof Nico Koopman. FOTO: Desmond Thompson