
Die gesprek oor globalisering duur voort
US Internasionaal dra op verskeie maniere by tot die skep van 'n transformerende studente-ervaring en die bevordering van omvattende internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch. Een voorbeeld is die program “In gesprek met globalisering" — 'n samewerkingsprojek met die Universiteit van Stuttgart (Duitsland), St. Xavier's College (Indië) en die Universiteit van Bergamo (Italië).
Die program, wat al vir byna twee dekades aangebied word, is tradisioneel 'n gemengdeleerkursus met sowel 'n aanlyn as 'n mobiliteitskomponent. As gevolg van die pandemie was die fisiese mobiliteitskomponent vir die afgelope twee siklusse onmoontlik. Nietemin is aktiewe skakeling en produktiewe interaksies deur aanlyn seminare en werk voortgesit.
Die mees onlangse aflewering het in Oktober 2021 'n aanvang geneem toe studente oor die politiek, ekonomie, kunste en die pandemie begin gesels het — alles teen die agtergrond van globalisering. Seminare is oudergewoonte deur die kursuskoördineerder, dr Wolfgang Holtkamp van die Universiteit van Stuttgart, aangebied, hoewel stemme van elke deelnemende land ook ingesluit is deur middel van gasdosente in die verskillende sessies. Studente het kort aanbiedings gelewer, en assessering het sowel skriftelike as meer skeppende take ingesluit.

Die kursus het teen die einde van Februarie 2022 'n hoogtepunt bereik met 'n virtuele projekweek oor die leerkromme van die wêreldwye pandemie. Die week se program het deelname aan die jaarlikse fees Stuttgart Meets Mumbai sowel as seminare deur prof Flavio Porta (Bergamo), me Ankita Gujar (St. Xavier's) en dr Chet Fransch (Stellenbosch) ingesluit. Die projekweek is afgesluit met voorleggingsdag (sien skermskoot), waar die studentegroepe voorleggings gedoen het oor wat samelewings in verskillende stadiums van pandemies geleer het. Die voorleggings het oor vorige pandemies, die aanvang van die huidige pandemie, die huidige stand van sake sowel as moontlike toekomstige pandemies gehandel. In 'n slotpraatjie is daar besin oor waarop nasies dalk in die nadraai van die pandemie moet konsentreer.
In 'n stadium toe fisiese skakeling beperk was, het die program steeds daarin geslaag om studente van oor die hele wêreld met mekaar te verbind en 'n relevante onderwerp te verken wat alle deelnemers in staat gestel het om oor hulle praktiese ervarings te gesels.