
Departement Geografie verloor voorste navorser in menslike geografie
Prof Izak Johannes van der Merwe, 'n leier in menslike geografie aan die Departement Geografie en Omgewingstudies by die Universiteit Stellenbosch (US), is vroeër vandeesmaand oorlede na hy sy stryd teen kanker verloor het.
Van der Merwe is op 21 Maart 1941 gebore en verwerf sy matriek aan die Hoërskool Hottentots‑Holland in Somerset‑Wes. In 1962 ontvang hy 'n BA-graad van die Universiteit Stellenbosch, gevolg deur 'n BA Honneurs en 'n Meestersgraad, wat hy cum laude behaal. Tien jaar nadat hy die eerste keer by die US ingeskryf het, behaal hy 'n DPhil, met die fokus van sy proefskrif op Die differensiële ontwikkeling van die binnestedelike ruimte van Kimberley.
Hy sluit in 1966 as junior lektor by die Departement Geografie aan en vir die volgende 29 jaar bou hy aan 'n akademiese loopbaan in dié omgewing, wat hom tot die posisie van professor laat vorder en die hoedanigheid van Voorsitter van die Departement (1991-1996) insluit, met die bykomende verantwoordelikheid as Direkteur van die Instituut vir Kartografiese Analise by die US vir 15 jaar. Van 1997 tot 2002 is hy die Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en in 2003 sluit hy weer by die Departement Geografie aan, dié keer as navorsingsgenoot.
Oor die jare fokus sy navorsing en onderrig op verstedeliking en stedelike probleme in suidelike Afrika, sosiokulturele en taalpatrone, regionalisme en grense, asook hoëronderwysveranderinge en ‑strukture, ofskoon sy navorsing hoofsaaklik aan ruimtelike sosioëkonomiese verandering in die groter Kaapstad-gebied gewy word. As 'n voorste menslike geograaf in die Departement vir die grootste deel van die 1970's tot die middel 1990's, lewer hy ook deur taal- en mediese geografie unieke bydraes tot die Suid-Afrikaanse geografiese diskoers. Een van sy mees onlangse bydraes was "'n beleggingstrategie vir effektiewe dorpsontwikkeling in die Wes-Kaap" in 2005.
Van der Merwe publiseer 53 wetenskaplike artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte in Suid-Afrika en oorsee, en is die outeur en mede-outeur van altesaam 15 boeke en atlasse, asook 12 navorsingsverslae. Sy eerste boek, Die stad en sy omgewing: inleiding tot nedersettingsgeografie (The City and its Environment: a Study in Settlement Geography, in Engels), verskyn in 1983 en word 'n wyd voorgeskrewe handboek vir studente aan Afrikaanssprekende universiteite in die 1980's en 1990's. Dit word opgevolg deur titels soos Social Atlas of the Cape Town Metropolitan Area, Atlas for Encyclopaedia of the World, Economic Atlas of South Africa, Language Atlas of South Africa, Language in South Africa: Distribution and Change, Stellenbosch University: Origin of students, en The Linguistic Atlas of South Africa – Language in space and time. Oor die afgelope tien jaar voor sy aftrede lewer hy gemiddeld twee referate 'n jaar by nasionale en internasionale konferensies.
Hy beklee 'n hele aantal professionele posisies, onder meer dié van redakteur van die vaktydskrif die Suid-Afrikaanse Geograaf (van 1992 tot 1993), en tussen 1995 en 1997 is hy die eerste president van die nuut gestigte Vereniging van Suid-Afrikaanse Geograwe. In die 1980's was prof Van der Merwe 'n lid van die redaksiekomitee van die Israeliese akademiese tydskrif Geography Research Forum en lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, terwyl hy in die 1990's ook 'n lid van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgenootskap (SAOG) en die voorsitter van die bestuursraad van die Sentrum vir Geografiese Analise aan die US was. In 1993 dien hy op die amptelike Taakgroep van die Onderhandelingsraad oor die afbakening van provinsies in Suid-Afrika, wat tot die samestelling van die land se nege postapartheid-provinsies lei, en in 1998 is hy 'n besoekende professor aan die Instituut vir Territoriale Beplanning aan die Universiteit van Ancona in Italië.
Tydens sy voortreflike akademiese loopbaan ontvang prof Van der Merwe in 1984 ook die Stalsprys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en gedurende 1991 kry hy 'n toekenning van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Geograwe. In 2002 ken die Nasionale Navorsingstigting 'n C-gradering as navorser aan hom toe.
"Hy was 'n fantastiese mentor, dosent en studieleier en het duisende gegradueerdes in die geografie geïnspireer om krities te dink oor die uitdagings wat ons stede in die gesig staar," sê prof Ronnie Donaldson, 'n voormalige PhD-student van prof Van der Merwe en tans die Voorsitter van die Departement Geografie en Omgewingstudies.
Van der Merwe word oorleef deur sy vrou Audrey Erica Rankin en hulle twee seuns, Izak Johannes en Rian.