Skip to main content
De Jager jaag persoonlike beste by SA kampioenskap

De Jager jaag persoonlike beste by SA kampioenskap

Maties HP
15 April 2016

Die Matie-atleet Shaun de Jager se afrigter Suzanne Ferreira glo hy sal die Olimpiese kwalifiserende tyd vir die 400 m-wedloop by die naweek se ​Suid-Afrikaanse Senior Baan- en Veldkampioenskap​ hardloop.

"Ons hoofdoel is dat Shaun moet kwalifiseer om aan die Olimpiese Spele in Rio deel te neem in die 400 m. Dit beteken hy moet 45.5 sekondes hardloop. Tans is sy persoonlike beste 45.7 sekondes," sê Ferreira.

De Jager en Ferreira het in Augustus 2014 begin saamwerk na die skielike afsterwe van De Jager se vorige afrigter, Mario Smith. "Shaun was besig met die rehabilitasieproses ná​​ 'n heupoperasie en ons het die res van 2014 en 2015 meestal op sy rehabilitasie gefokus, en om die grondslag vir 2016 te lê."

Volgens Ferreira was dit De Jager se fokus op die uiteindelike doel wat haar dadelik beïndruk het.

"Elke keer as ons 'n besluit moes maak of hy aan 'n byeenkoms gaan deelneem of nie, was dit vir hom belangrik dat die byeenkoms hom moet help vir Rio 2016. As atleet is hy 'n student van sy item. Hy analiseer sy wedlope en is gefokus om elke keer die spesifieke doelwit te behaal. Dit maak dit baie maklik om hom af te rig. Hy het baie maklik in die groep ingeskakel, en ek geniet sy stil, dog sterk, bydrae tot die groep."

Ander atlete in Ferreira se groep sluit in Arnu Fourie, Fanie van der Merwe en Ilse Hayes.

Ferreira het verder gesê: "As deel van die rehabilitasieproses het ons redelik baie werk in die gimnasium gedoen, iets waaraan Shaun nie werklik gewoond was nie. Ek glo dit het hom gehelp het om sy persoonlike beste tye in die 100m en 200m te hardloop."

Nou is die plan om dieselfde in die 400m te doen.

Die SA Senior Atletiekkampioenskap word van 15-16 April by Coetzenburg aangebied. Die 400m vir mans vind Saterdag 13:20 plaas. 

Vind die volledige program by www.bolandathletics.com. Kaartjies kos R50 per persoon per dag.