
Dankbaar en bang gedurende Vrouemaand
Ek is 'n jaar gelede in 'n onderhoud gevra hoe dit voel om 'n jongmens in Suid-Afrika te wees. My antwoord was eenvoudig: Dis angswekkend.
Twitter-boodskappe oor 'n “vermiste suster", “vermiste kind" of “vermiste vriend" is niks ongewoon nie. Ook Facebook en Instagram is vol soortgelyke plasings, baie daarvan oor lede van die LGBTQIA+-gemeenskap wat die slagoffers van geweld en haat was, vermoor is of vermis word.
'n Jaar later is dit steeds angswekkend.
Soos die meeste vroue en niegenderkonformiste in Suid-Afrika, is ek egter nie net bang nie; ek is ook kwaad. Ek wil verandering en aksie sien en voel. Dít is waarom soveel vroue en niegenderkonformiste positief gereageer het op die oproep om 'n #TotalShutdown op 1 Augustus 2018.
Dit is vreesaanjaend om te dink daar is hoegenaamd geen plek waar niegenderkonformiste en vroue geheel en al veilig is nie. En dit is ook mý ervaring, ongeag waar ek is – of ek saam met vriende uitgaan, openbare vervoer gebruik, op kampus rondbeweeg of selfs net huis toe stap. Enigiets kan met my gebeur; ek is nie veilig in my eie lyf nie.
Niegenderkonformiste en vroue word voortdurend stilgemaak, onteer, verneder en gesensor. Ons liggame het terreine van geweld geword, en die plegers van geweld maak selfs 'n bespotting van wat ons deurstaan.
Wanneer ek oor Vrouemaand besin, staan ek in 'n tweestryd tussen dankbaarheid oor die stryd wat vroue vóór my gestry het, en die uitdagings van jong vroue in Suid-Afrika vandag.
Ek wil Vrouemaand benut om spesifiek daardie vroue te erken en te bedank wat my lewe en my geleenthede tot dusver moontlik gemaak het. Ek wil dankie sê aan die vroue soos my ma wat my grootgemaak het, gesorg het dat ek 'n opvoeding kry, en my die ruimte gegun het om die wêreld om my in al sy skakerings en met al sy uitdagings te verken. Hulle het my ondersteun en vasgehou toe ek dit nodig gehad het. Ek wil ook vroue soos Lilian Ngoyi en Albertina Sisulu bedank wat deur die geskiedenis aanhou baklei het teen die hindernisse wat hulle opgelê is – hetsy deur 'n pasboek te verbrand, sogenaamde mansruimtes te beset of 'n klip te gooi.
Terselfdertyd wil ek Vrouemaand benut om die vrese te verwoord wat ek, ander vroue en niegenderkonformiste met ons saamdra. Ek is bekommerd oor die veiligheid van mense wanneer gemeenskapslede hulle mag misbruik om ander skade aan te doen en te dreig.
Volgens Sonke Gender Justice se jaarverslag vir 2016/17 was een uit elke drie vroue in Suid-Afrika in daardie tydperk 'n slagoffer van huishoudelike geweld. Ten minste die helfte van die vroue is deur 'n liefdesmaat vermoor.
Ek is bekommerd oor die veiligheid van mense wat mishandel en uitgesluit word omdat patriargie in ons samelewing veranker is. Ek vrees die manier waarop ons leef, hoe ons mag gebruik om geweld teenoor mekaar te pleeg, wat net nóg geweld in ons gemeenskappe aanblaas. En dit is meestal niegenderkonformiste, vroue en kinders wat die gevolge van daardie geweld moet dra.
In my tweestryd kan ek nie die een gevoel bo die ander kies nie. Ek kan Vrouemaand benut ter viering en verering van die vroue wat dinge in ons samelewing laat gebeur, vroue wat niegenderkonformiste en ander vroue meer mag en ruimte gun. Terselfdertyd weet ek dat ek ook my vrese en woede kan verwoord.
Ek kan my gevoelens en gedagtes iets méér as net 'n stel van twee idees en emosies maak. En enige innerlike verwarring is natuurlik, want die wêreld bestaan nie net uit twee teenpole, uit die een of die ander nie. In Vrouemaand kan ek dankbaar én bang en nog baie meer voel.
Vroue en niegenderkonformiste van oor die hele land het op 1 Augustus aan 'n nasionale #TotalShutdown deelgeneem om hulle stemme teen geweld teen vroue, kinders en niegenderkonformiste te laat opklink.
Een van die plakkate wat op sosiale media versprei is, het mans 'n lys wenke gegee van dinge om op die dag van die #TotalShutdown te doen. Die belangrikste een was om mishandeling en intimidasie stop te sit.
Hoewel dit basies klink, kan hierdie een punt, hierdie een daadwerklike besluit deur mans, die bose kringloop van geweld verbreek. Hulle kan ophou toekyk en iets konkreet doen as hulle sien hoe mense oor die algemeen, en vroue, kinders en niegenderkonformiste in die besonder, mishandel of geïntimideer word.
My wens vir hierdie Vrouemaand is dat ons, te midde van die worsteling met alles wat ons voel, sal sorg dat ons ons eie houdings en gedrag sowel as dié van mense rondom ons bevraagteken.
Ons behoort nie meer toe te laat dat niegenderkonformiste as ongeldig beskou word nie. Ons behoort nie meer toe te laat dat mans bloot aanneem dat hulle magtiger is of dat vroue en niegenderkonformiste hulle mindere is nie.
Ons behoort die toekomstige impakmakers, klipgooiers en wetsbeïnvloeders te leer dat hulle stem saak maak, dat geen vorm van geweld aanvaarbaar is nie, en dat ons almal moet saamwerk om geweld teen niegenderkonformiste, vroue en kinders te beëindig.
*Rabia Abba Omar is 'n honneursstudent in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Hierdie artikel het aanvanklik in News24 verskyn.