
Covid-19 het ons epidemiese gereedheid tot die uiterste toe beproef
Covid-19 het ons vermoë om infeksiesiektes te hanteer tot die uiterste toe beproef. 'n Roetine-infrastruktuur, opgeleide personeel, voortgesette navorsing, en samewerking tussen verskillende sektore kan ons help voorberei vir toekomstige uitbrekings. Só skryf prof Hassan Mahomed (Wes-Kaapse provinsiale departement van gesondheid en die Afdeling vir Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid) in ʼn meningsartikel vir Cape Times (17 Februarie 2022).
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.
Hassan Mahomed*
Oor 'n paar jaar van nou af sal baie van ons terugkyk op 'n tyd toe ons epidemiese gereedheid werklik tot die uiterste toe beproef is omdat ons inderhaas innoverende maniere moes vind om die Covid-19-pandemie te hanteer. Die Internasionale Dag van Epidemiese Gereedheid is vir die eerste keer op 27 Desember 2020 gehou om die belangrikheid en behoefte aan epidemiese gereedheid te beklemtoon namate die wêreld die Covid-19-pandemie moes hanteer.
Wat as 'n uitbreking van 'n ernstige respiratoriese siekte in Wuhan, China begin het, het binne die bestek van 'n paar maande na al die uithoeke van die wêreld versprei. Hoewel uitbrekings en pandemies niks nuuts is nie en daar stelsels in plek is om dit te hanteer, is die omvang van die huidige pandemie iets wat nog nooit gesien nie is – deels weens die snelle vooruitgang van vervoergeriewe wêreldwyd wat verskillende wêrelddele soveel meer met mekaar verbind.
Ons het met die tradisionele openbare gesondheidsmaatreëls soos inperkings, isolasie en kwarantyn gereageer toe ons besef het hoe die siekte versprei. Ongelukkig het dit ook die onbedoelde gevolg gehad dat dit die wêreldekonomie negatief beïnvloed het. Die dra van maskers, fisiese afstandskepping en die was van hande het ons algemene, alledaagse leuses geword.
Suid-Afrika het sekere endemiese siektes soos tuberkulose, diarreïese siekte, MIV en malaria waarvoor ons standaardprotokols ontwikkel het om dit te hanteer. Ons is egter ook onderworpe aan uitbrekings van algemene aansteeklike siektes soos masels, witseerkeel en cholera. Daarby word dit ook algemeen erken dat nuwe aansteeklike siektes met gereelde tussenposes hul opwagting wêreldwyd maak, soos die geval was met MIV in die 1980's en meer onlangs met EARS (ernstige akute respiratoriese sindroom), zikavirus en MERS (Midde-Oosterse respiratoriese sindroom) en waarvan sommiges Suid-Afrika geraak het en ander nie. Nog 'n groot bron van kommer is die voorkoms van bekende siektes waar die organismes gemuteer het om weerstandig te raak teen huidige behandelings weens die wydverspreide misbruik van antibiotika.
Ten slotte …
Weens die wisselende omvang van epidemies, is dit baie moeilik om ten volle voorbereid te wees op alle moontlike uitbrekingscenario's. Dit is egter noodsaaklik om 'n roetine-infrastruktuur en opgeleide personeel in plek te hê en die dokumentering van uitbrekingsreaksies en voortgesette navorsing is nodig om die toenemende verfynde reaksies wat ons moderne wêreld vereis, te lewer. Dit is ook duidelik dat die reaksie op epidemies en uitbrekings nie net 'n gesondheidskwessie is nie, maar ook 'n verreikende invloed op ons ekonomie kan hê. Samewerking tussen sektore is noodsaaklik om veral groot epidemies te hanteer wat groot dele van die bevolking kan raak.
- Klik hier om die volledige artikel soos geplaas te lees.
*Prof Hassan Mahomed is tans 'n openbare gesondheid geneeskundige spesialis by die Wes-Kaapse provinsiale departement van gesondheid en die Afdeling vir Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch.