
Covid-19 en semestermobiliteit aan die US: Verken nuwe moontlikhede
Die Universiteit Stellenbosch (US) roem daarop dat hy 'n lewendige Study Abroad-bestemming is. Die span by US Internasionaal volg 'n eenstopdiensbenadering om sowel inwaartse as uitwaartse studente op hulle Study Abroad-reis by te staan.
Sowat 400 tot 500 semestermobiliteitstudente word gewoonlik elke akademiese jaar ontvang, met die groter inname normaalweg in die tweede semester (Julie–Desember). Die innames in 2018 en 2019 was onderskeidelik 552 en 499, en Duitsland en Nederland was die grootste toevoerlande. Dít is die gevolg van gevestigde en historiese vennootskapsooreenkomste en samewerking met hierdie twee Europese lande. ('n Onlangse vennootskapsooreenkoms met SKEMA Bestuurskool in Frankryk het 'n effense verskuiwing teweeggebring – lees verder vir meer hieroor.)
Die Covid-19-pandemie het 'n merkbare impak op die hoër onderwys in die algemeen én op studentemobiliteit en die internasionalisering van hoër onderwys in die besonder gehad. Die verbod op internasionale reis en kontakbyeenkomste sowel as regulasies oor sosiale distansiëring het studentemobiliteit ernstig beïnvloed, en US Internasionaal het 'n ongekende afname in sowel in- as uitwaartse semestermobiliteit ervaar. Die inname vir 2020 het met sowat 50% tot 246 studente gedaal. Om die akademiese jaar suksesvol te voltooi, het die US flink na 'n aanlyn onderrig-en-leerplatform oorgeskakel en met noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) begin om die nuwe realiteit te hanteer. Nietemin besluit die meeste studente juis op 'n semestermobiliteitsgeleentheid om die land fisies te ervaar en hulle binne én buite die klaskamer in die plaaslike kultuur te verdiep – 'n behoefte waarin die aanlyn platform nie werklik kon voorsien nie. Die oorskakeling na ERTLA was ook nie sonder sy uitdagings nie. Volgens een studie het US-studente wat aanlyn moes leer 'n aantal uitdagings ondervind, waaronder “huisverwante uitdagings, konnektiwiteits- en persoonlike uitdagings, akademiese uitdagings, en geestesgesondheid".[1] En met bykomende hindernisse met betrekking tot immigrasie, die aanvanklike stadige beskikbaarstelling van entstowwe, en 'n aansienlike afname in die aanlyn kursusaanbod, het etlike studente hulle beplande Study Abroad-semester hetsy gekanselleer of uitgestel.
Namate die virus hom egter stelselmatig begin uitwoed het, is verskeie beperkings ook verslap, waaronder dié op reis en kontakbyeenkomste, wat 'n stadige terugkeer na kampusaktiwiteite moontlik gemaak het. Die US het ERTLA vir aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) – 'n kombinasie van kontak- en aanlyn onderrig en leer – verruil. Vir US Internasionaal het dít 'n snelle toename in die semestermobiliteitsinname beteken, en 'n rekordgetal inwaartse semesterstudente is vir die akademiese jaar 2021 aangeteken. 'n Allemintige 421 studente het vir 'n semestermobiliteitsprogram in die eerste semester alleen geregistreer – byna ewe veel as vir 'n volle akademiese jaar vóór Covid. En aangesien die tweede semester 'n groter inname as die eerste gehad het, het die algehele inname vir 2021 met 100% toegeneem.
'n Groot bydraer tot hierdie snelle toename is die vennootskap met SKEMA Bestuurskool, wat sowat 50% van die totale getal inwaartse semesterstudente verteenwoordig. Hierdie studente wissel van voorgraadse tot nagraadse (magister-) studente en volg 'n gespesialiseerde stel kursusse aan die US wat aangebied word in samewerking met verskillende vennote, soos die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, die Volhoubaarheidsinstituut, en die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe sowel as Lettere en Sosiale Wetenskappe. Gevolglik het die vennootskap 'n geleentheid vir dosente uit hierdie omgewings geskep om met SKEMA-akademici aan kurrikulumontwikkeling saam te werk.
Daarbenewens kom die meeste inwaartse semesterstudente nou as gevolg van dié vennootskap uit Frankryk (en nie meer Duitsland en Nederland nie). En aangesien verskeie SKEMA-studente oorspronklik van Franssprekende Afrikalande kom, het US Internasionaal se inname van semestermobiliteitstudente van die Afrikavasteland boonop toegeneem. Histories registreer die meeste internasionale studente van Afrika vir volle graadprogramme, en feitlik nie een vir 'n semestermobiliteitsprogram nie. Hierdie nuwe ontwikkeling bied opwindende geleenthede om die moontlikheid van meer semestermobiliteitsaktiwiteite onder instellings in Afrika te ondersoek.
Maar hoewel die toename in semestermobiliteitsgetalle positief is, lê die opwindendste geleentheid van hierdie vennootskap in die kans om internasionaliseringskakeling te herbedink en uit te brei. Samewerking aan kurrikulumontwikkeling tussen akademici bied opwindende geleenthede vir vakkundige ontwikkeling, navorsingsamewerking sowel as persoonlike en beroepsontwikkeling. Die pasgemaakte kursusse kan plaaslike (graad)studente die voordele van 'n geïnternasionaliseerde kurrikulumaanbod laat ervaar. US Internasionaal het reeds US-studente in die program BCom Internasionale Besigheid geleenthede gebied om as deel van die verpligte uitruilkomponent van hulle graadprogram vir van hierdie kursusse te registreer. Dit sou die moeite werd wees om die moontlikheid van verdere uitbreiding na ander graadprogramme te verken en studente die geleentheid te bied om aan 'n geïnternasionaliseerde klaskamer deel te neem en/of by 'n geïnternasionaliseerde kurrikulumaanbod baat te vind.
Die geleenthede vir internasionale samewerking ná Covid-19 is oneindig indien innoverende denkers om 'n tafel byeenkom en beraadslaag. Natuurlik is daar ook 'n magdom uitdagings, veral in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys, wat die implementering van nuwe internasionaliseringsaktiwiteite kan bemoeilik. Dít kan egter oorkom word indien ons vasberade aanhou gesels en saamdink. Ons durf nie die geleentheid misloop om die internasionalisering van hoër onderwys te herbedink en te hervorm deur bloot terug te keer na die ou manier van dinge doen as 'n tradisionele residensiële universiteit nie.
[1] Onwuegbuzie, AJ, Ojo, E, Burger, A, Crowley, T, Adams, S & Bergsteedt, B. (2020). “Challenges experienced by students at Stellenbosch University that hinder their ability successfully to learn online during the Covid-19 era: A demographic and spatial analysis". International Journal of Multiple Research Approaches, 12:240–281.