
CNN praat met twee pesbeheerspesialiste met Matie-bande
'n CNN Inside Afrika-televisie-insetsel het die kollig geplaas op die werk wat navorsers en assosiate van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch doen om Wes-Kaapse landboupeste te beheer.
Die verslag van agt minute is op 26 Januarie 2016 uitgesaai, en was getiteld 'Sterilized fruit flies could save South Africa's crops'. Dit het gefokus op alternatiewe pesbestuursmetodes vir die beheer van vrugtevlieë, wat in samewerking met die Departement se Geïntegreerde Pesbestuursnavorsingspan van dr Antoinette Malan en dr Pia Addison getoets en gebruik word. Dit sluit onder meer in die steriele insektegniek en die gebruik van entomopatogeniese nematodes wat insekpeste aanval.
Onder diegene waarmee 'n onderhoud gevoer is, is Matthew Addison, 'n HORTGRO- navorsingsgenoot in die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie. Navorser Sheila Storey van die Nemlab diagnostiese laboratorium, wat werk doen in samewerking met die Departement, het ook haar kundigheid gedeel. Sy fokus op die uiteindelike kommersialisering van die gebruik van entomopatogeniese nematodes.
"Hierdie biologiese beheermaatreëls word tans geïmplementeer en geoptimaliseer in sagtevrugteboorde en wingerde in die Wes-Kaap," verduidelik dr Addison. "Ons hoop ons navorsing kan daartoe bydra dat produsente minder afhanklik van sintetiese chemiese gifstowwe kan raak."
Vrugtevlieë is 'n kommerwekkende landboupes wat onder streng kwarantynvoorwaardes bestuur word. Die voorkoms daarvan kan 'n direkte, vernietigende effek op vrugteproduksie in 'n streek hê. Dit moet daarom goed bestuur word om te keer dat dit 'n nadelige effek op vrugte-uitvoere het.
CNN het van hul navorsing bewus geraak danksy 'n onlangse artikel in The Conversation Africa wat deur dr Addision, dr Malan, dr Ken Pringle en mnr Addison geskryf is. Dit is getiteld "Pesticides are not the only way to deal with our biggest food competitors – insects".
Agtergrond oor die Geïntegreerde Pesbestuursnavorsingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch
Navorsers in toegepaste entomologie ontwikkel en toets volhoubare maniere om insekpeste en myte wat vrugtebome en wingerde aanval te beheer. Dit word gedoen in 'n poging om boere te help om hoë kwaliteit vrugte te lewer wat vry is van insekwerende gifstowwe. Die navorsingsprogram sluit studies in oor die ekologie van vrugtevlieë, motbestuur, die biologiese beheer van insekte en myre, asook kwarantynpeste.