Candice vind haar droomwerk by Innovus
Ontmoet Candice Verwey, die nuwe administratiewe beampte by Innovus se afdeling vir intellektuele eiendom.
Sy is gebore en getoë in die piepklein dorpie Saron aan die voet van die majestieuse Saronsberg tussen Porterville en Tulbagh. Sy moes dié idilliese dorpie verlaat om op haar eie voete te staan nadat sy matriek geskryf het. Candice het werk in Wynberg gekry en dadelik begin spaar om vir haar Diploma in Kantoorbestuur en Tegnologie aan die Kaapse Universiteit van Tegnologie te gaan studeer.
In haar werkslewe was sy in diens van een van Suid-Afrika se eerste aanlyn boekwinkels, Kalahari.net, en die gewilde Aleit-geleentheidsgroep in Somerset-Wes. Sy het ook as finansiële assistent in verskeie maatskappye gewerk voordat COVID gekom het en sy toe besluit het om 'n rukkie by die huis te bly om haar seun en dogter groot te maak.
"Ek wou nog altyd vir die Universiteit werk in 'n kreatiewe posisie en op 'n plek waar ek elke dag kan leer," sê Candice. “Ek sal graag vir altyd hier wil bly en hier aftree. Ek voel tuis."