
Bou die legkaart van ons nuwe internasionaliseringsrealiteit
Internasionale mobiliteit, synde een van die hoekstene vir die internasionalisering van die hoër onderwys, beleef 'n uitdagende tyd. Die doelpale vir beplande studente-uitruilbesoeke en Study Abroad-programme hou aan skuif, en wat eers 'n gegewe was, het skielik 'n moontlikheid geword, toe “mits reis moontlik is", en uiteindelik “ongelukkig gekanselleer".
Ek het in die vroeë fases van die inperking ons ou familietydverdryf van legkaart bou opnuut ontdek en ywerig deur die duisend stukke gesoek na die raam, gevolg deur die dakke, riviere, bome en mense, en gewoonlik gestoei met die moeilike laaste deel – die blou lug of wolke. Op hierdie reis het ek in Bled (Slowenië), Brussel, Leipzig, Parys, Amsterdam en Venesië besoek afgelê, in Chequers Inn in Norfolk, Verenigde Koninkryk, tuisgegaan, en uiteindelik ook die Karlsteinkasteel naby Praag besoek. Boonop het ek Che Guevara en Mona Lisa raakgeloop (onderskeidelik links en regs onder).
By US Internasionaal beskou ons onsself as internasionaliseringspraktisyns – kollegas wat daadwerklik netwerke bou, reageer en handel om 'n internasionale, interkulturele en globale element by die universiteitsgemeenskap te integreer. Internasionalisering is transformerend, verander sienings en voeg waarde toe tot die individu én die instelling. Dit verander ook hoe jy self sake beskou, en dien as aansporing om voort te gaan met die daaglikse administrasie, om moeilike vrae te beantwoord en om meer kreatief te dink. In dié verband is die einste Guevara se woorde oor motivering en werk 'n inspirasie:
Dit gaan nie oor hoeveel pond vleis 'n mens kan eet, of hoeveel keer per jaar jy strand toe kan gaan, of hoeveel oorsese ornamente jy met jou huidige salaris kan koop nie. Wat regtig saak maak, is dat die individu meer voltooid voel, met veel meer innerlike rykdom en 'n veel groter verantwoordelikheidsbesef.
Ondanks al die uitdagings, gaan US Internasionaal se werk uiteindelik oor die holistiese ontwikkeling van die individu, en waardetoevoeging tot mense se lewens. Ons taak is ook om kollegas by ons instelling te inspireer om “internasionaliseringspraktisyns" uit eie reg te word – om internasionaal, interkultureel en globaal te dink wanneer hulle institusionele prosesse skep of nuwe akademiese programme ontwerp.
Die voortslepende uitwerking van die pandemie gaan voort om lewens, bestaansmiddele en drome te verwoes. By tye voel dinge so oorweldigend soos om met 'n nuwe legkaart van 3 000 stukke te begin. Nogtans, as 'n mens stap vir stap werk, kom jy wel aan die gang. Dít is ons benadering in die soeke na nuwe internasionaliseringsmetodes, wat die bekende kernelemente sal behou, maar by die onstuimige tye sal moet aanpas. Navorsingsamewerking moet dalk na die kuberruim verskuif, maar sal steeds gesamentlike publikasies as uitset oplewer. Gesamentlike akademiese programme sal moontlik 'n sterker aanlyn komponent hê, maar sal steeds die toegevoegde waarde van sertifikasie en persoonlike groei bied. Studenteprogramme sal in wese meer globaal wees, en sonder onnodige rompslomp en 'n gewag by registrasietoonbanke.
Ek nooi jou om saam met US Internasionaal die legkaart van ons nuwe internasionaliseringsrealiteit te bou en die nuwe moontlikhede wat dít bring te ondersoek.