
“Bly ontvanklik vir die ervaring”
Robert Kotze, senior direkteur van Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal, het Maandag 7 Februarie 2022 meer as 420 internasionale studente op kampus verwelkom vir die amptelike aanvang van hulle kontak-oriëntering.
Vanjaar se kohort is die grootste internasionale inname sedert 2019 en bestaan uit studente van onder meer Frankryk, Duitsland, Swede, die Verenigde State, Nederland en Oostenryk.
“Internasionale studente is ons skakel met die wêreld. Terwyl ons ontvanklik bly om by julle te leer, hoop ons julle sal ook ontvanklik bly om uit hierdie ervaring te leer," het Kotze gesê. “Dis 'n ander omgewing, so wees buigsaam, bly nuuskierig, waag dit buite jou onmiddellike vriendekring, en benut jou tyd hier so goed moontlik."
Hoewel die US wél die afgelope twee jaar 'n paar groepe internasionale uitruilstudente op kampus verwelkom het, het getalle beslis afgeneem. “Dit voel byna of ons 'n leeftyd verloor het, so dit is opwindend om hier te wees," sê Janna Keiser, 'n Antropologie-tweedejaar van die Universiteit van Zürich, Switserland. “Met die pandemie het dit gevoel of soveel van ons weggeneem word, ons was byna bang om weer te hoop en te droom, en het vergeet hoe opwindend 'n buitelandse studie-ervaring kan wees."
Anastasia Rentzing, 'n student in Vredesnavorsing en Internasionale Betrekkinge van die Universiteit van Tübingen, Duitsland, kon nie wag vir hierdie jaar in Suid-Afrika nie sodat sy die gevoel van inperking en afsondering wat sy in haar geboorteland ervaar het, kan afskud. “Ek was lanklaas so gelukkig. Ek sien uit na hierdie nuwe hoofstuk in my lewe en is veral opgewonde oor die warm weer, want dis nou baie koud in Duitsland. Ek hoop ook om meer oor die Suid-Afrikaanse politiek te leer aangesien dít is wat ek tans studeer," sê sy.
Paul Renoux, 'n student in Internasionale Besigheid van die SKEMA-bestuurskool, Lille-kampus, Frankryk, is ewe bly om hier te wees: “Ek hoop ek sal teen die tyd wat ek hier weggaan, weet hoe om te braai en die Suid-Afrikaanse gees met my saamneem," sê hy.
En dit is nie net die internasionale studente wat daarna uitsien om van die wanhoop van die inperking te begin ontslae raak nie. Jenni Vry, 'n plaaslike student wat besluit het om haar by die Matie Buddy-program vir internasionale studente aan te sluit, is dankbaar vir hierdie geleentheid om haar horisonne te verruim. Toe sy van die program te hore kom, het dié student in BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie dadelik geweet sy het hierdie ervaring nodig om haar uit haar gemaksone te dwing. “Die afsondering van die inperking laat my die waarde van so 'n geleentheid besef om met internasionale studente om te gaan en by hulle te leer deur hulle op kampus te laat tuis voel," sê sy. “Om 'n Matie Buddy te wees sal my ook help om, ondanks my introverte geaardheid, bande te bou met mense met wie ek nog nooit voorheen kontak gehad het nie."