
Bevorder sosiale impak deur studentebetrokkenheid
Op 8 Februarie 2024 neem meer as 5 000 nuwe Matie-studente deel aan die jaarlikse Sosiale Impak‑gemeenskapsoggend by die Universiteit Stellenbosch (US) tydens die amptelike Verwelkomingsweekprogram vir nuwelinge. Die Afdeling vir Sosiale Impak bied aan studente 'n geleentheid om betrokke te raak by aktiwiteite wat aktiewe burgerskap aanmoedig, deur hul akademiese kennis met ander organisasies en vennote oor die hele Stellenboschgemeenskap heen te deel, ingesluit die Tygerberg‑kampus en die omliggende gebiede.
Die Afdeling vir Sosiale Impak in oorleg met die Sentrum vir Studentelewe en -leer in die Afdeling Studentesake is opgewonde oor geleenthede om relevant te bly wanneer dit kom by die kritieke kwessies en uitdagings wat Suid-Afrikaanse samelewings en gemeenskappe in die gesig staar. Studente wil graag deelneem aan 'n verskeidenheid aktiwiteite gerig op betrokkenheid wat in samewerking met gemeenskapsvennote en studenteleiers beplan word. Die Sosiale Impak‑gemeenskapsoggend sluit ook goed aan by die Universiteit se visie om onder meer kennis in diens van die samelewing te bevorder, die Universiteit se missie om plaaslike gemeenskappe te verryk, en die instelling se strategiese tema om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke in die omliggende gemeenskappe van die US te bou.
Die tema van die Gemeenskapsoggend is saamgestel om studente betrokke te maak by:
- Die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot die moontlikmaking van sosiale impak
- Waarom en hoe die Universiteit met die omliggende gemeenskappe skakel
- Die skep van 'n groter bewustheid oor hoe kritieke uitdagings in die werklike lewe deur die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) aangepak kan word.