
Beter kos, voeding kan help in stryd teen nie-oordraagbare siektes
Die Afrikadag vir Voedsel- en Voedingsekerheid is op 30 Oktober gevier. In ʼn meningsartikel vir Cape Times skryf dr Matsepo Ramaboli van die Afrika-mikrobioominstituut dat stedelike Afrikane beter kos en voeding benodig om nie-oordraagbare siektes onder hierdie groep te voorkom.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Matsepo Ramaboli*
Die Afrikadag vir Voedsel- en Voedingsekerheid word jaarliks op 30 Oktober gehou om die aandag op die dringende uitdagings van hongersnood en wanvoeding op die vasteland te vestig en hoe dit aangespreek kan word. Dit sal sonder twyfel 'n taamlike poging en samewerking verg om langdurige oplossings vir hierdie probleme te vind, veral as ons in ag neem dat Afrika se bevolking na verwagting teen 2050 amper 2,5 miljard sal wees.
Ongelukkig skets die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) 'n taamlike droewige prentjie vir die vasteland in sy onlangse verslag, Africa – regional overview of food security and nutrition: Transforming food systems for affordable healthy diets. Dit voer aan dat “Afrika nie op koers is om die teikens van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit (VOD) 2 om hongersnood te beëindig en te verseker dat alle mense die hele jaar lank toegang tot veilige, voedsame en genoegsame voedsel te hê en alle vorme van wanvoeding te beëindig, te haal nie". Ter stawing van hierdie argument dui die FAO daarop dat die hoeveelheid honger mense op die valsteland “met 47,9 miljoen sedert 2014 toegeneem het en staan dit nou op 250,3 miljoen, of amper een-vyfde van die bevolking. Hiervan is 15,6 miljoen mense in Noord-Afrika en 234,7 miljoen in Afrika suid van die Sahara".
Daar lê inderdaad baie uitdagings op die pad vorentoe.
Die feit dat die bogenoemde dag op voedsel- en voedingsekerheid fokus, beklemtoon die belangrikheid daarvan om nie net toegang tot genoeg kos te hê nie, maar ook om gesonde voedsel te verbruik. Dit is nie net 'n blote gebrek aan voedsel wat jou kan siek maak nie, maar ook die eet van ongesonde kos. Navorsing het getoon dat die verskuiwing van Afrikane van landelike neersettings na stede op soek na werk, skole en 'n “beter lewe" veranderinge in hul dieet en leefstyl – van 'n Afrika- na 'n Westerse styl – teweeggebring het. Neem Suid-Afrika as voorbeeld. Deesdae is dit nie ongewoon om te vind dat mense baie verfynde koolhidrate, verwerkte vleisprodukte en ander ongesonde voedsel met 'n hoë suiker-, vet- en soutinhoud eet nie. En terwyl gesonde kos beskikbaar is, het arm Suid-Afrikaners wat in stedelike gebiede woon, nie die geld om hierdie produkte te koop nie. Hulle het geen ander keuse as om goedkoop voedsel te koop wat nie altyd gesond en vol voedingswaarde is nie.
Dit is dus nie verbasend dat swak, ongesonde diëte tot 'n toename in vetsug gelei het nie. Dit verhoog mense se risiko om voedselverwante nie-oodraagbare siektes (NOS's) soos hartsiekte, beroerte, hipertensie (hoëbloeddruk), kanker, diabetes en chroniese asemhalingsiektes te ontwikkel. Daar word hierna as “chroniese leefstylsiektes" of “verwesterste siektes" verwys. NOS's is die vernaamste oorsaak van sterftes wêreldwyd en het van die vernaamste risikofaktore vir COVID-19-verwante sterftes geword.
Elkeen het 'n rol om te speel in die stryd teen NOS's. Indien ons voor die kromme wil bly, moet ons verseker dat voedsel- en voedingsekerheid 'n werklikheid vir almal word.
- Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.
*Dr Matsepo Ramaboli is 'n postdoktorale genoot by die Afrika-mikrobioominstituut in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.