
Bestepraktykriglyn kan verpleegkundiges help om pyn beter te assesseer en bestuur
Wanneer pasiënte met akute traumaverwante pyn ongevalle-eenhede (OE'e) betree, is die eerste gesondheidsorgwerkers wat hulle daar aantref professionele verpleegkundiges wat hul pyn moet assesseer en bestuur. Synde die frontlinie-gesondheidsorgwerkers in OE'e, het hierdie verpleegkundiges behoorlike riglyne nodig oor hoe om hierdie uiters belangrike diens te lewer wat die gehalte van sorg sal verbeter en pasiënt-tevredenheid sal verhoog.
Só sê dr Yolande Magerman van die Wes-Kaapse Verpleegkollege, wat onlangs haar doktorsgraad in verpleegkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.
Magerman het 'n bestepraktykriglyn vir professionele verpleegkundiges in die Wes-Kaap ontwikkel, asook 'n algoritme wat 'n vinnige, stapsgewyse metode vir die implementering van die riglyn bied. Volgens haar blyk daar in dié stadium geen beskikbare riglyne te wees wat hierdie verpleegkundiges kan gebruik om akute traumaverwante pyn te assesseer en bestuur nie.
Magerman sê pynassessering help om die tipe pyn te bepaal, asook hoe dit die pasiënt se funksionering raak en watter intervensies nodig is. Pynbestuur verwys na die gebruik van mediese en nie-mediese intervensies om pyn te beheer en neem pasiënte se lewensgehalte in ag, asook hul vermoë om produktief by die werk, in die gesin en in die gemeenskap te funksioneer.
Benewens ʼn opname onder professionele verpleegkundiges en pasiënte in vyf OE'e in die provinsie gedoen, het Magerman 'n omvattende oorsig van relevante navorsingsliteratuur gedoen om die beste beskikbare riglyne oor pynbestuur te beskryf.
Sy sê pynassessering en -bestuur, asook organisatoriese ondersteuning is die sleutelelemente van die bestepraktykriglyn.
“Volgens die riglyn moet selfrapportering van die pyn deur die pasiënt wanneer ook al moontlik in die assesseringsproses ingesluit word, omdat pyn 'n subjektiewe ervaring is. Pasiënte moet vir die teenwoordigheid of risiko van pyn gesif word deur direkte vrae daaroor te vra eerder as om te aanvaar dat pasiënte of hul gesinslede of versorgers die inligting vrywilliglik sal verskaf.
“Die riglyn bepaal voorts dat verpleegkundiges 'n omvattende pynassessering moet doen deur voldoende inligting oor die pasiënt se pyn, simptome, kliniese geskiedenis en funksionele status te bekom voordat 'n besluit oor beide diagnose en behandeling geneem word. Hulle moet ook navraag oor die pasiënt se geloofsoortuigings, kennis en vlak van begrip van pyn en pynbestuur doen.
“Benewens die gebruik van geldige pynmetingsinstrumente om vas te stel of die pyn min, matig of erg is, moet verpleegkundiges hul pasiënte se pynkenmerke aanteken, asook hoe hulle op die pynbestuursplan reageer."
Magerman benadruk die belangrikheid van 'n behoorlike organisatoriese struktuur wat noue samewerking verseker tussen al die betrokke personeel wat by die sorg van die pasiënt betrokke is, omdat dit van deurslaggewende belang vir die behoorlike assesering en bestuur van pyn is.
Sy sê hierdie riglyne is belangrik omdat alhoewel die meeste van die verpleegkundiges wat aan haar studie deelgeneem het toereikende kennis van die assessering van akute traumaverwante pyn gehad het, hulle gevoel het dat hierdie kennis nie op datum is wat die nuutste beste verplegingspraktyke betref nie.
“Die praktyk van pynassessering en pynbestuur in OE'e was nie konsekwent en gestandaardiseer nie. Hierdie sentrums is oorvol, wat verpleegkundiges in 'n baie moeilike situasie plaas om sorg van gehalte aan pasiënte met akute traumaverwante pyn te verskaf.
“Die verpleegkundiges het saamgestem dat bestepraktykriglyne die beste bewyse en ingeligte aanbevelings oor die assessering en bestuur van akute traumaverwante pyn aan hulle sal bied. Dit sal uiteindelik pasiëntuitkomste verbeter.
“Dis belangrik om pynbestuur saam met die pasiënt te beplan en strategieë met en sonder medikasie te gebruik om pyn te bestuur."
Oor die algoritme wat sy ontwikkel het, sê Magerman dis in die vorm van 'n dokument wat die stappe van die bestepraktykriglyn volg om vinnige, maklike toegang te bied waarna verpleegkundiges kan verwys om die vlak van die pyn doeltreffend te bepaal.
“Die algoritme sal 'n vinnige verwysingsriglyn vir die assessering en bestuur van pyn wees in OE'e wat dikwels besig en oorvol is.
“Dit moet heel eerste in die siftingskamer geplaas word, omdat dit is waar pasiënte se eerste interaksie met die verpleegkundiges plaasvind en die eerste pynassessering gedoen word. Daarna moet areas met maklike toegang vir pynassessering deur die verpleegkundiges in die OE geïdentifiseer word, soos wagkamers of langs die pasiënt se bed."
Magerman sê haar studie bemagtig verpleegkundiges om eienaarskap te neem van die akute pyn van pasiënte wat met traumaverwante beserings opgeneem word.
Sy benadruk die noodsaaklikheid van verdere navorsing om die haalbaarheid, geskiktheid, betekenisvolheid en doeltreffendheid van die bestepraktykriglyn vir professionele verpleegkundiges in OE'e te toets en in werking te stel.
- Foto met vergunning van Maxpixel.