
Basil het sewe rektore in sy loopbaan sien kom en gaan
Vir die afgelope 50 jaar het Basil van Wyk, 'n Administratiewe Beampte en Gebou-bestuurder van die RW Wilcocks-gebou in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), sewe rektore sien kom en gaan. Hy was daar deur die apartheidsjare, toe die segregasie van individue volgens ras in Suid-Afrika beteken het dat die Universiteit beskou is as 'n instelling slegs vir blankes. Maar hy was ook 'n getuie van die ontbanning van anti-apartheid organisasies soos die ANC en van die dag in 1992 toe die Universiteit die eerste keer sy deure geopen het vir alle Suid-Afrikaners.
Wanneer 'n mens met Basil praat is dit duidelik dat hy 'n argief is van institusionele inligting. Hierdie kennis het hy opgebou van die dag dat hy vir die eerste keer die US hoofkampus op Stellenbosch betree het, 'n besluit wat aangedryf is deur behoefte eerder as deur loopbaan-keuse.
“Ek het die skool verlaat toe ek 12 jaar oud was en in graad 6. Ek het groot geword by my ouma en oupa in Kylemore, maar hulle het finansieel swaargekry en ons het erg daaronder gely. Daar was dikwels nie kos op die tafel nie en soms het ek gewonder hoe ons familie sou oorleef," verduidelik Basil as hy terugdink aan 2 Junie 1969, die eerste dag wat hy by US begin werk het.
“Die daaglikse stryd is die rede dat ek skool verlaat het en besluit het om 'n inkomste te verdien om by te dra tot ons huishouding. Ek moes my drome om 'n onderwyser te word, laat vaar."
Hy praat oor die boom naby Admin A, waar hy op sy eerste werksdag aangetree het en in die daaropvolgende jare elke oggend met die res van die verf-span.
“Langs daardie boom was daar 'n klein hokkie waar die toesighouer gesit het as hy verf vir die verwers gemeng het. Destyds is die geboue altyd met grys verf geverf en die vensterrame met wit verf. Ons het nie steierwerk gebruik nie, maar slegs lang lere om by die hoogste plekke by te kom," verduidelik Basil.
“Dit was baie gevaarliker om op hierdie lang lere te werk, maar ons het nie 'n keuse gehad nie: óf jy aanvaar die werksgeleentheid of jy sit sonder werk, en werk was baie skaars."
Basil was verantwoordelik om die swaar lang leer vas te hou terwyl die verwer sy werk voltooi. Wanneer die verwer een deel voltooi het, sou hy afklim en Basil sou die leer na 'n ander afdeling verskuif sodat die verwer weer kon opklim om 'n nuwe deel te verf.
Tydens ruspouses het Basil baie van sy tyd benut om deur die universiteit se tuine te stap, wat vir hom mooi en rustig was.
“By tye soos daardie vergeet 'n mens van die swaarkry wat jou agtervolg."
Maar selfs as 'n jong kind het Basil gepoog om 'n sukses van sy lewe te maak.
Werk vir sukses
“Om suksesvol te wees moet 'n mens hard werk en die vasberadenheid hê om jou einddoel te bereik. Ander mense gaan jou nie motiveer nie. Jy moet jouself motiveer. My motivering was die swaarkry wat ek my gesin moes sien verduur weens 'n geldtekort."
“Ek het myself afgevra, wil jy vir die res van jou lewe sukkel, wil jy die een wees waarop lewenslank getrap en gebruik word? Wil jy iemand se 'boytjie' wees? Dis hoe 'n mens daardie tyd beskou is."
Die antwoord was nee en so het Basil se reis om sy omstandighede te verbeter, begin.
“Ek moet baie harder werk as ander, want ek het geen kwalifikasies gehad nie. Ek het geleer om met my oë te “steel" en te leer hoe om verskeie dinge te doen ten einde 'n sukses te maak van my loopbaan."
Hy het elke kursus wat hy kon vind, voltooi, en terwyl sommige van hulle nogal moeilik was en hom laat kleitrap het, het hy vasgebyt.
“Daar was dae wat ek in die klas gesit en wonder het waaroor op aarde praat hulle," sê hy en lag.
Dit was ook moeilik, sê hy, om te sien hoe sy eweknieë erkenning kry en bevorder word vir hul harde werk terwyl hy ook baie moeite gedoen het.
“Maar ek het altyd vir myself gesê: Basil, doen net te alle tye jou bes en onthou dat daar altyd diegene sal wees wat slegter daaraan toe is as jy, en diegene wat beter vaar."
“'n Mens moet onthou daar is nie kortpaaie na sukses nie. Ja, jy moet optimisties wees en in jouself glo, maar jy moet ook realisties wees en besef sukses gaan nie net in jou skoot val nie. Jy moet werk om jou drome te bewaarheid."
Tien jaar gelede het Basil “teruggekeer" skool toe en graad 9 geslaag deur die ABET-program.
“Ek is nog nie waar ek wil wees nie, maar ek kom darem nader daaraan," sê die pa van drie: twee dogters genaamd Heline en Masadie, en 'n seun Brendon.
Verander sy omstandighede vir die nuwe generasie
Hy is al 41 jaar getroud met sy vrou, Pauline, en sy kinders is nou almal groot. Masadie, sy naasoudste dogter, is 'n Universiteit Stellenbosch alumnus wat die graad BA Admin aan US behaal het en 'n nagraadse diploma in Insolvensiereg aan die Universiteit van Johannesburg. Heline, sy oudste kind, werk as 'n belastingkonsultant terwyl sy seun, Brendon, 'n sweiser is. In ware Van Wyk tradisie voltooi een van sy ses kleinkinders tans sy BRek-graad aan US.
Terwyl hy in staat was om sy omstandighede te verbeter en dié van sy kinders, erken hy dat die pad nie altyd maklik was nie en dat 'n mens dit ook nooit moet verwag nie.
“Geeneen van ons kan wegkom van uitdagings in ons lewe nie. Dis deel van die pakket. Dit is hoekom dit belangrik is om die hoogtepunte van die lewe te geniet en dankbaar te wees vir wat jy reeds het."
Ondersteun ander
Ten spyte van die uitdagings wat hom in die gesig gestaar het, is Basil deur die fakulteit bekend vir sy vermoë om ander te laat lag, afgesien van hoe frustrerend 'n situasie mag wees, en natuurlik, sy behulpsaamheid. Dit is die man wat die huidige dekaan van die fakulteit, prof Anthony Leysens, in 1985 ontmoet het toe hy aan die universiteit begin studeer het.
“Ek het Basil geken vandat ek 'n student was en toe hy die fotokopiëring gedoen het vir studente in ons fakulteit. Hy was en is altyd behulpsaam, bereid om die ekstra myl te stap, maar hy vat ook nie nonsens van ons jong inkommers nie! Basil is 'n mense-mens, altyd gereed met 'n glimlag en 'n snaakse storie om jou te laat glimlag. Hy blink uit in wat hy doen en het voortdurend hard gewerk om homself op te hef."
Volgens Leysens “weet min mense dat Basil as haker 'n legende is by Kylemore Rugbyklub," iets wat Leysens self geleer het toe Basil aan hom “'n helpende hand gereik het op 'n moeilike tyd" in sy lewe deur aan Leysens wysheid en praktiese hulp te verskaf.
“Ek wil jou bedank vir jou lojaliteit, vriendskap en toewyding, soms onder moeilike omstandighede. Jy is 'n yster!"
Loopbaan-hoogtepunte en toekomsplanne
Een van die hoogtepunte van sy loopbaan, sê Basil, was toe hy gevra is om te praat namens die C3 personeel by die gedenkdiens gehou ter ere van wyle prof Russel Botman in 2014.
“Hy het 'n oopdeur-beleid gehad en ek het baie tyd by hom deurgebring om te praat oor die pos wat hy beklee het en hoe hy 'n bydrae kon maak om al die personeel en studente van die universiteit ingeslote te laat voel. Dit was dus moeilik en pynlik toe hy so skielik gesterf het."
“In die 50 jaar wat ek by hierdie universiteit gedien het was prof Botman die enigste Rektor wat 'n mens laat voel het dat jy ingesluit en gehoor word. Hy het nie omgegee oor die kleur van jou vel, jou inkomste of jou kwalifikasies nie. Of jy 'n koshuis-skoonmaker of professor was, hy het altyd met 'n glimlag gegroet of gestop om met jou te gesels. In sy oë was ons almal God se skeppings en daarom gelykes," sê Basil, om die impak van Botman se leierskap en van sy dood aan te dui.
Dit is sy hoop, sê Basil, dat sommige van Botman se beginsels sal voortbestaan deur diegene wat hom geken het.
“In die toekoms sou ek graag 'n instelling wou sien waar vriendelikheid en werklike vriendskap waardeer word, waar respek verdien word en nie outomaties gegee moet weens 'n titel nie, en waar elke werker, afgesien van hul rang, gerespekteer en waardeer word vir hul bydrae. Hierdie universiteit behoort aan ons almal wat hier werk en studeer en selfs aan die gemeenskappe rondom ons."
Tans werk Basil aan 'n boek oor sy lewensreis. Hy het reeds 73 bladsye geskryf, maar sê dat, hoewel daar 'n boek is wat voltooi moet word, hy nie binnekort gaan aftree nie.
“Ek is op my lewensreis geseën en God het altyd 'n deur geopen vir my wanneer ek dit nodig gehad het. As dit nie Sy plan was nie, sou ek nie die dinge gehad het wat ek vandag het nie. Maar dit is ook die opofferings wat my ouma en oupa gemaak het en al hul pogings om my te help met hul beperkte kennis, wat my gemaak het wie ek vandag is."
Prof Nico Koopman, Vise-Rektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het Basil namens die Rektor se bestuurspan geluk gewens met die groot mylpaal.
“Universiteit Stellenbosch is toegewy daaraan om 'n gesogte werkgewer te wees. Ons waarde-stel poog om aan werknemers 'n werkomgewing te verskaf waar hulle kan uitstyg en waar hulle deernis, respek en billikheid ervaar."
“Ons vier ons kollega, Basil van Wyk, wat hierdie instelling 50 jaar gelede aanvaar het as sy werknemer van keuse. Nie slegs bestuur en personeel nie, maar ook studente eer sy toewyding tot hierdie instelling. Hy het hier begin as 'n jong man en stel 'n voorbeeld wat studente en personeel inspireer. Hy is een van ons grootste Maties en dit is 'n eer om hom 'n kollega te noem."
Foto: Basil van Wyk het aan die Universiteit Stellenbosch begin werk toe hy slegs 12 jaar oud was nadat hy skool verlaat het om te gaan werk om sy gesin finansieel te ondersteun. Hier is hy op die plek waar die verwer-huisie gestaan het toe hy aan US begin werk het. (Stefan Els)