
Akademici slyp wetenskapstemme by Conversation-werkswinkel
Dertig akademici van die Universiteit Stellenbosch (US), gretig om hulle vaardighede ten opsigte van die skryf van wetenskap vir die algemene publiek te verbeter, het op 22 Mei 2018 deelgeneem aan ʼn slypskool wat deur The Conversation Africa aangebied is.
Twee lede van die redaksie van The Conversation Africa, Shallan Govender (kopiehoof) en Candice Bailey (gesondheid- en geneeskunderedakteur) het die kursus aangebied wat deur die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie in samewerking met die Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap en Tegnologie (CREST) gereël is.
“Daar is soveel ongelooflike navorsing wat verskuil bly in akademiese silo's, maar ons wil dit verander", het Bailey gesê. “Dit is ons taak om wetenskapnuus en die menings van kundiges te vat en dit aan die algemene publiek beskikbaar te stel op ʼn gebruikersvriendelike manier."
'The Conversation' is ʼn aanlynplatform wat dit vir akademici moontlik maak om hulle werk ten toon te stel en openbare erkenning vir hulle kundigheid te kry. Alle inhoud word gepubliseer onder ʼn 'Creative Commons"-lisensie. Dit beteken dat enige media-onderneming dit weer mag publiseer op voorwaarde daarvan dat die skrywer en bron erken moet word. Hierdie innoverende platformis oorspronklik in 2011 in Australië van stapel gestuur. Soortgelyke uitgawes het in die VK en VSA gevolg. Die Afrika-uitgawe is in 2015 van stapel gestuur, gevolg deur spesifieke platforms vir Frankryk, Kanada en Indonesië. Daar is kantore in Afrika in Johannesburg, Lagos en Nairobi.
Sedert die begin in 2015 van die Afrika-weergawe het 2 163 skrywers (almal akademici) 3 216 artikels vir hierdie platform geskryf en het hulle 350 000 lesers per maand bereik. Ongeveer 90% van hierdie inhoud word weer deur ander media vrygestel. Dit beteken dat die somtotaal van lesers wat per maand bereik word, ongeveer 1.8 miljoen is. Hierdie blootstelling help akademici om met beleidvormers in gesprek te tree en mag selfs lei tot samewerking vir navorsing tussen verskillende organisasies en lande.
'The Conversation Africa' word deur skenkings befonds. Die kern-befondsing kom vanaf die “Bill and Melinda Gates Foundation", en word aangevul deur fondse vanaf universiteite en ander navorsingsorganisasies. Die US het onlangs ʼn skenker geword.
Pogings om ons navorsing met die gemeenskap te deel, lê ons na aan die hart, het dr Therina Theron met die aanvang van die slypskool gesê. “Om wetenskap na die gemeenskap te kommunikeer, is miskien nie die belangrikste aktiwiteit vir akademici nie, maar dit word toenemend belangrik vir ons befondsers en medewerkers," het sy verduidelik. “Mense stel belang in hierdie stories oor vordering in wetenskap en hoe dit op hulle lewens van toepassing is."
Foto-byskrif: Om wetenskapnuus en -menings aan die gemeenskap bloot te stel – dit was die fokus van ʼn slypskool oor die skryf van wetenskap wat CREST op 22 Mei 2018 aangebied het. Op die foto (vlnr) verskyn Martin Viljoen (mediabestuurder by Universiteit Stellenbosch), S Govender (kopiehoof by The Conversation), Candice Bailey (gesondheid- en geneeskunderedakteur by The Conversation) en Dr Therina Theron (Senior Direkteur: Navorsingsontwikkeling).