
Agbiz erken prof Karaan se rol in SA landbou
Die besonderse diens wat prof Mohammad Karaan van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe lewer aan die Suid-Afrikaanse agribesigheidsgemeenskap is erken deur Agbiz, die Suid-Afrikaanse Agrikultuur Besigheidskamer. Hy het die Agbiz Eretoekenning verlede week by die besigheidskamer se kongres in Somerset-Wes ontvang. Die toekenning word elke twee jaar gemaak.
Prof Karaan se leierskapsrol in die Suid-Afrikaanse landbousektor is ook onlangs erken nadat Agri SA 'n eretoekenning in November 2015 aan hom oorhandig het.
Hy is onlangs vir 'n verdere vyf-jaar termyn as lid van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) heraangestel. Prof Karaan het gedurende sy eerste termyn, van 2010 tot 2015, 'n sleutelrol gespeel in die skryf van 'n hoofstuk in die Nasionale Ontwikkelingsplan – Visie 2030 oor hoe 'n geïntegreerde en inklusiewe landelike ekonomie ontwikkel kan word.
"Hierdie hoogaangeskrewe raamwerk geniet wye ondersteuning as 'n bloudruk vir Suid-Afrika se landboutoekoms," sê Agbiz, 'n genootskap waartoe agribesighede in suidelike Afrika vrywillig behoort.
Prof Karaan het al sy kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf: 'n BSc (Agric)-graad in 1990, 'n MSc (Agric) in 1994, en 'n PhD (Agric) in 2006. Hy het sy loopbaan as ekonomis by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika begin, voordat hy na Stellenbosch teruggekeer het as die Landelike Stigting se hoof van navorsing.
In 1996 het hy by die Universiteit Stellenbosch in landbou-ekonomie begin klas gee. Prof Karaan is in 2008 as dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aangestel, en in 2013 is sy termyn verleng. In 2014/5 het hy as waarnemende vise-rektor van die US gedien.
Prof Karaan was tussen 2005 en 2007 voorsitter van die Nasionale Landboubemarkingsraad, en het as president die Landbou-Ekonomie Vereniging van Suid-Afrika van 2008 en 2009 gelei. Hy het reeds in die direksie van verskeie toonaangewende agribesighede gedien.
Foto onderskrif:
Agbiz voorsitter Schalk Pienaar (regs) het die Agbiz Eretoekenning aan prof Mohammad Karaan van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe oorhandig. Foto: Gavin Withers