
Afrika se middelvlak-gesondheidswerkers vra vir beter opleiding
Middelvlak-gesondheidswerkers in Afrika het beter opleiding nodig om hulle te help om moeder- en kindersterftes, aansteeklike siektes, trauma en geweld, MIV/Vigs en ontluikende chroniese siektes in hul gemeenskappe te verminder.
Dít is een van die belangrikste bevindinge van 'n studie wat gelyktydig deur navorsers in Kenia, Nigerië, Suid-Afrika en Uganda uitgevoer word. Die studie is onlangs in die vakjoernaal BMC Health Services Research gepubliseer.
“Afrika se gesondheidstelsels maak staat op dienste wat deur middelvlak-gesondheidswerkers gelewer word. Daarom is dit belangrik om hul opleidingsprogramme en kurrikula te hersien sodat hulle die siektelas kan help verlig, met groter doeltreffendheid kan funksioneer en tot beter gehalteversorging en uitkomste kan bydra," sê prof Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Couper, ook verbonde aan die Sentrum vir Landelike Gesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand, was deel van die Suid-Afrikaanse navorsingsgroep.

Die studie het die opleiding en kurrikula van middelvlak-gesondheidswerkers in die genoemde lande bestudeer om vas te stel watter aspekte verbeter moes word. Hierdie lande is gekies op grond van 'n bestaande samewerking tussen hul navorsers en omdat hulle Wes-, Oos- en Suider-Afrika verteenwoordig, wat 'n verskeidenheid ervarings het in die opleiding van middelvlak-gesondheidswerkers.
Couper sê middelvlak-gesondheidswerkers is noodsaaklike gesondheidswerkers wat algemene diagnoses en behandeling in primêre sorg-klinieke, gesondheidsentrums en buitepasiëntdepartemente van distriks- en sendinghospitale bied. Diegene met spesialisopleiding mag sorg in spesifieke dissiplines soos chirurgie, narkose, psigiatrie en MIV-dienste verskaf.
As deel van die studie is onderhoude met professionele verenigings, regulerende liggame, opleidingsinstansies, arbeidsorganisasies en regeringsdepartement in elke land gevoer, en beleidsdokumente en opleidingskurrikula is vir relevante inhoud bestudeer. Altesaam 421 distriksbestuurders en 975 middelvlak-gesondheidswerkers (met uitsondering van Suid-Afrika aangesien daar geen gekwalifiseerde kliniese medewerkers ten tyde van die studie was nie) by stedelike en landelike distriksgesondheidsfasiliteite het self-geadministreerde vraelyste voltooi met betrekking tot die opleiding en prestasie van hierdie gesondheidswerkers.
Addisionele vaardighede
Couper sê die studie het getoon dat hoewel tot 85% van die praktiserende middelvlak- gesondheidswerkers hul basiese opleiding as voldoende vir hul werk beskou het, het meer as 50% aangedui dat die opleidingsbenadering verander moet word. Byna 65% wou opleiding in addisionele vaardighede hê, met 18% wat vir beter opleidingsinstansies gevra het.
“Beduidende besorgdhede rakende gapings in vaardigheid en die gehalte van opleiding is ook geopper. Middelvlak-gesondheidswerkers en distriksbestuurders het gevra vir opgedateerde opleidingsmetodes wat addisionele vaardighede kan bied. Hierdie werkers wou ook hê dat hul opleiding meer op probleemoplossing en praktiese prosedures wat lewens kan red moet fokus."
“ ʼn Herhalende tema was dat die opvoedkundige inhoud van opleidingsessies nie in lyn was met die siektelas van die mense wat deur die gesondheidswerkers bedien word en die soort toestande wat algemeen word by landelike gesondheidsfasiliteite ervaar word nie. Die opleiding het nie metodes ingesluit om daaglikse probleme, soos personeeltekorte, ʼn gebrek aan toerusting en medisyne te hanteer nie."
“Middelvlak-gesondheidswerkers en opvoeders het ook die behoefte aan opvolgopleiding en voortgesette professionele ontwikkeling beklemtoon," voeg Couper by.
Hy sê daar is 'n besliste behoefte om kurrikula te moderniseer en innoverende benaderings tot leer en onderrig te inkorporeer, om die inhoud van onderwysprogramme met die siektelas wat hierdie werkers in die gesig staar te belyn en om toepaslike akkreditasie van hierdie programme te verseker.
In die implementering van sy opleidingsprogram vir kliniese medewerkers kon Suid-Afrika ook leer uit die ervaringe van die ander drie Afrika-lande sowel as internasionale ontwikkelings in mediese opleiding, voeg Couper by.
“Opleidingsprogramme vir middelvlak-gesondheidswerkers is 'n belangrike manier om menslike hulpbronne te uit te brei ten einde gemeenskappe se gesondheidsbehoeftes te bevredig as deel van die bereiking van universele gesondheidsdekking, die ontwikkeling van klinici wat met laer toelatingsvereistes en korter opleidingsperiodes as vir dokters steeds diagnostiese en terapeutiese dienste kan voorsien."
Couper sê nasionale regerings, insluitend Suid-Afrika, moet help verseker dat daar 'n instaatstellende- en akkreditasieraamwerk vir opleiding is. Hulle moet ook hulpbronne, leiding en ondersteuning aan opvoedkundige instellings verskaf om voor- en indiensopleiding (kwantiteit, kwaliteit en relevansie) te verbeter.
Hy voeg by dat meer hulpbronne en meer opleiers benodig word om die getal middelvlak-gesondheidswerkers in Afrika te verhoog.
Geteikende beleggings in infrastruktuur, vaardigheid en opleiding is nodig, en vroeë samewerking met toepaslike, sosiaal verantwoordbare mediese en verplegingsfakulteite kan die nodige ondersteuning vir nuwe programme bied, sê Couper.
“Dit is die moeite werd om in die opleiding van middelvlak-gesondheidswerkers te belê aangesien hulle meer geneig is om in onderbediende gebiede aan te bly, korter opleidingskursusse benodig en in hul kliniese praktyk minder afhanklik is van tegnologie en navorsing as geneeshere."
In plaas daarvan om middelvlak-gesondheidswerkers as 'n tussentydse oplossing in primêre en sekondêre gesondheidsdienste te behandel, moet hulle in die beplanning rakende gesondheidswerkers ingesluit word en hul rolle formeel gereguleer word, voeg Couper by.
- Bron: Couper, I et al 2018. Curriculum and training needs of mid-level health workers in Africa: a situational review from Kenya, Nigeria, South Africa and Uganda. BMC Health Services Research 18:553-562.
Hooffoto: Gesondheidswerker in Afrika. Foto 1: Prof Ian Couper
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Prof Ian Couper
Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 938 9186
Sel: 082 8010188
E-pos: [email protected]
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: [email protected]