Skip to main content
Afrika betaal vir globale laksheid oor klimaatsverandering

Afrika betaal vir globale laksheid oor klimaatsverandering

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
08 Mei 2023

​Afrika moet ophou om die prys te betaal vir die res van die wêreld se onwilligheid om vinnig genoeg op te tree in reaksie op die onweerlegbare gevolgtrekkings dat klimaatsverandering eg is en dat die impak van globale verhitting verwoestend kan wees, sê prof Guy Midgley, tussentydse Direkteur van die Skool vir Klimaatstudies​ aan die Universiteit Stellenbosch (US).

  • Afrika produseer slegs 2% van die wêreld se koolstofuitlatings, tóg word dié vasteland deur ʼn akute klimaatsveranderingsrisiko in die gesig gestaar en word hy reeds deur die nadelige uitwerking daarvan geraak. 
  • Slegs ʼn klein gedeelte van globale klimaatsverwante navorsingsfinansiering word na Afrika se wetenskaplikes en instellings gekanaliseer.
  • Afrika word derhalwe gedwing om meer as die globale gemiddelde deel van sy skamele navorsingsbefondsing aan klimaatsverandering te bestee.  
  • Koolstofbelasting is een van die doeltreffendste ingrypings om klimaatsverandering te help temper.

Is Afrika in die middel van ʼn klimaatskrisis?

Prof Guy Midgley, tussentydse Direkteur van die Skool vir Klimaatstudies aan die US, vra of hierdie ʼn manier is om debat te formuleer oor die globale onderdrukking en wanvoorstelling van data deur gevestigde belange oor geprojekteerde verhittingstendense en die potensieel verwoestende uitwerking daarvan.

In sy toespraak by die onlangse Volhoubaarheidsekspo met die titel “Hoe om ʼn klimaatramp te vermy: ʼn Afrika-beskouing", het Midgley gesê: “Ons het in 2007 ondubbelsinnige bevestiging van die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) gekry dat antropogene (mensgeskepte) kweekhuisgasse sedert die 1950's globale verhitting veroorsaak het. Daar is nie meer ʼn verdedigbare 'ander kant' vir hierdie gevolgtrekking nie."

ʼn Teiken van netto-nul uitlatings teen 2050 lyk voorts nou eenvoudig onvoldoende om ʼn veilige klimaat gedurende hierdie eeu te bewerkstellig. “Ons moet by netto-negatiewe uitlatings uitkom, waar koolstofdioksied uit die atmosfeer onttrek word (om verhitting te temper)."

Afrika dok onregverdiglik op vir die res van die wêreld se onwilligheid om vinnig genoeg op te tree in reaksie op hierdie gevolgtrekkings dat klimaatsverandering eg is en dat die impak van globale verhitting verwoestend kan wees, het Midgley gesê.

“Afrika dra bitter min tot die oorsake van klimaatsverandering by, maar ervaar die nadeligste gevolge daarvan." Die vasteland produseer slegs 2% van die wêreld se uitlatings, tóg staar van die dreigendste risiko's Afrika in die gesig. Dit sluit ʼn afname in kos- en watersekerheid in, asook biodiversiteitsverliese (tot 60% van inheemse Afrika-spesies), asook ʼn toename in menslike morbiditeit en mortaliteit weens hitte en aansteeklike siektes.  

Die las op Afrika-lande se staatskas is voorts aansienlik. “Ons is een van die vastelande wat die vinnigste ter wêreld verstedelik en klimaatsverandering moet die manier waarop ons ontwikkel beïnvloed." As die risiko's van klimaatsverandering nie in ag geneem word nie, kan dit infrastruktuur ondermyn omdat dit nie na behore beplan is nie, het Midgley gesê.

Die teenstrydigheid tussen Afrika se bydrae tot uitlatings en die sosio-ekonomiese uitwerking wat klimaatsverandering op sy mense sal hê, word verskerp deur die ongelyke toewysing van fondse vir navorsing oor klimaatsverandering. ʼn Baie klein gedeelte van globale klimaatsverwante navorsingsbefondsing word na Afrika-wetenskaplikes en -instellings gekanaliseer, het hy verduidelik. “Internasionale befondsers het oënskynlik hierdie soort belegging in die streek laat vaar."

Die wyse waarop die wêreld op klimaatsverandering reageer is ʼn risiko vir Afrika, het Midgley bygevoeg. “As ons almal soos normaal voortgaan en die wêreld verhit teen 3° of meer teen die einde van die eeu, sal die uitwerking verwoestend wees."

Deur van ʼn instrumentpaneel gebruik te maak wat deur die Massachusetts Institute of Technology (MIT) ontwerp is om die impak van moontlike ingrypings te toets, het Midgley gedemonstreer hoe verskeie aksies en scenario's globale verhitting sou raak. MIT is een van die US se vennote in die Global Alliance of Universities on Climate Change en die US is een van 15 lede van dié Alliansie oor die wêreld heen.

Die demonstrasie het getoon dat ʼn globale koolstofbelasting een van die doeltreffendste ingrypings blyk te wees om globale verhitting te temper. Dit het ʼn sterk en bykans oombliklike sein na die mark gestuur, asook innovasie en beleggings in nuwe tegnologie aangedryf. ʼn Skuif na meer volhoubare stede en vervoer het ook ʼn impak op globale verhitting gehad. Aansienlike ontwikkeling in negatiewe uitlatingstegnologieë en die verbetering van koolstofdioksiedverwydering sal nodig wees om ʼn teiken van minder as 2° te behaal.

Die instelling van aansporings vir hernubare energie moet ʼn belangrike fokus vir Afrika wees. Nie net sal die wêreld by die vermyding van die uitgebreide vernietigende impak van steenkool en olie baat nie, maar Afrika-gemeenskappe sal ʼn meer volhoubare en gesonde lewenstyl geniet, asook volhoubare ekonomiese ontwikkeling, het Midgley gesê.

“Dis duidelik wat ons moet doen om gevaarlike klimaatsverandering te vermy. Ons moet hernubare energie aanmoedig, die vraag na energie-effektiwiteit verhoog en nuwe maniere vind om koolstofdioksied uit die atmosfeer te onttrek om die globale temperatuurverhoging onder 2° te hou. Nou moet ons net hierdie planne in werking stel. Dít is die uitdaging van ons tyd."

  • Midgley het onlangs ʼn A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang.