
Afgetrede US-wingerdkundige met 1659-erepenning vereer
'n Man met 'n fotograaf se oog vir detail as dit by 'n wingerdstok of -blaar kom. 'n Nederige professor wat diep spore in die wynbedryf getrap het. Een wat 110% gee in alles wat hy doen, en passievol kan gesels oor sy vakgebied. Dis hoe kollegas en voormalige studente vir prof Piet Goussard beskryf nadat hy aangewys is as die ontvanger van vanjaar se 1659-erepenning van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Hy is van die min plaaslike wingerdkundiges wat al met die toekenning vereer is sedert dit in 1974 ingestel is om die eerste wynoes in Suid-Afrika in 1659 te herdenk.

Dié boorling van Prieska en die Agter-Paarl het in 1971 sy loopbaan as wingerdkunde-dosent by die Universiteit Stellenbosch begin, nadat hy ook aan die instelling studeer het. Hy het in 1984 sy doktorsgraad verwerf. Prof Goussard, wat in 2014 afgetree het, was ook vir meer as 'n dekade voorsitter van die Departement Wingerd- en Wynkunde.
"Prof Goussard het in sy loopbaan 'n belangrike rol gespeel in opleiding, navorsing en tegnologie-oordrag in wingerdbou en is 'n erkende deskundige in verskeie belangrike aspekte van wingerdbou," sê Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia Landgoed wat saam met Standard Bank, Vinpro en Die Burger koerant geleentheid moontlik gemaak het.
Hy het meer as 100 wetenskaplike en populêre artikels gepubliseer en verskeie toekennings ontvang, soos die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging (SAWWV) se gesogte merietemedalje in 2001. Hy het 15 jaar lank diens gedoen as die redakteur van die Vereniging se Suid-Afrikaanse Joernaal vir Wyn- en Wingerdkunde.
Hy het belangrike navorsing gedoen om te help sorg dat die plaaslike kwekerybedryf goeie gehalte plantmateriaal lewer wat virusvry is. So het hy onder meer in vitro-metodes gebruik om virusvrye plantmateriaal te verseker.
Prof Goussard en sy kamera in die wingerde is so te sê sinoniem. Oor die jare het hy 'n ryke foto-databasis opgebou van elke moontlike kondisie of toestand wat mens in 'n Suid-Afrikaanse wingerd kan beleef. Hy het dit oor die afgelope nege jaar met sy ensiklopediese kennis gekombineer om drie boeke (in Afrikaans en Engels) die lig te laat sien. Die eerste, Druifkultivars vir Wynbereiding in Suid-Afrika gaan oor die 66 druiwekultivars wat tot 2009 in die land verbou is. Jaarlikse Groeisiklus van 'n Wingerdstok het in 2012 verskyn, en bied 'n ryke visuele voorstelling van hoe wingerde deur die loop van 'n seisoen daaruit sien. Die derde boek, n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika is in 2015 gepubliseer en omvat die verskillende siektes, peste en afwykings wat tipies aan 'n wingerd is.
Van sy oud-studente, wat vandag self wingerdkunde aan die US doseer, het net die hoogste agting vir prof Goussard. Volgens prof Melané Vivier is dit veral sy manier om mense en hul projekte te ondersteun wat sy bo alles van hom waardeer. Dr Erna Blancquert reken hy's van die geduldigste en nederigste mense wat sy ken, veral met studente wat sukkel om van die moeiliker konsepte binne wingerdkunde baas te raak.
“Hy het diep spore in die bedryf getrap met sy navorsing en uitstekende oog vir detail as dit by die neem van die perfekte foto gekom het," vertel sy.
Foto: Prof Piet Goussard en sy vrou Laetitia (regs) saam met prof Melané Vivier en prof Maret du Toit van die US Departement Wingerd- en Wynkunde. Foto: Natalie Gabriels Photography/Die Burger
Prof Piet Goussard met die 1659-toekenning. Foto: Natalie Gabriels Photography/Die Burger