Skip to main content
ADA maak reg vir megawinterskool

ADA maak reg vir megawinterskool

Dr Natalie Kowalik
04 Mei 2023

Die Afrika Doktorale Akademie (ADA) was bly om vir sy somerskool in Januarie 2023 na kontakvorm te kon terugkeer, en is druk aan die voorberei vir 'n mega- hibridiese weergawe van die winterskool in Julie.

Die seisoenale doktorale skole van die ADA, wat in die Afrikasentrum vir Akademieskap geleë is, beoog om uitnemendheid in doktorale onderwys deur die hele Afrika te versterk, en het reeds 'n taamlike aanhang opgebou. Die skole word met maandelikse meesterklaswebinare aangevul. 

Die eerste volle kontaksomerskool sedert die pandemie het oor twee en 'n halwe weke van 18 Januarie tot 3 Februarie 2023 op Stellenbosch plaasgevind. Afgevaardigdes van onder meer Suid-Afrika, Kenia, Ethiopië, Uganda en Zimbabwe het 12 kursusse bygewoon wat deur wêreldklasleiers op hulle onderskeie vakgebiede aangebied is. Die ADA was bevoorreg om 13 hoog aangeskrewe aanbieders van Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State vir die skool te bekom. Die fasiliteerders het navorsings- en metodologie-opleiding voorsien aan sowel voornemende as huidige doktorale kandidate, hulle promotors en navorsers van verskeie dissiplines en in verskillende fases van hulle PhD-reis.

Saam met die Sentrum vir Samewerking in Afrika kon die ADA ook Afrika-samewerkingsbeurse beskikbaar stel om ses afgevaardigdes se deelname aan die program te ondersteun.

Boonop kon afgevaardigdes onderling skakel en sosiale geleenthede bywoon, waaronder die amptelike verwelkoming deur prof Hester Klopper (Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake). Gassprekers by die aandgeleenthede was prof Sibusiso Moyo (Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie) en prof Jonathan Jansen (uitgelese professor in die Opvoedkunde). Prof Moyo het gesels oor hoe Afrika sy kennisekonomie en wêreldwye mededingendheid deur navorsingsamewerking kan versterk, terwyl prof Jansen se praatjie afgevaardigdes genooi het om nuut oor die hoër onderwys te dink en navorsingsvermoë te benut vir die Afrika wat ons wil hê.

Vir die hibridiese winterskool, wat van 3 tot 21 Julie sal plaasvind, het die ADA die program tot 'n volle drie weke verleng. Verskeie gelyklopende kursusse sal elke week aangebied word. Die aanlyn en kontakkursusse sal intensiewe opleiding deur vakkenners bied en afgevaardigdes in staat stel om onderling te gesels en idees uit te ruil.

E-pos [email protected] vir navrae.