Skip to main content
ADA bied 7de jaarlikse Winterskool aan

ADA bied 7de jaarlikse Winterskool aan

Amanda Tongha
30 Junie 2016

Sowat 200 voornemende en huidige doktorale studente neem tans deel aan die 7de jaarlikse Afrika Doktorale Akademie (ADA) Winterskool by Universiteit Stellenbosch (US). Die groep, wat nadoktorale navorsers insluit, is by US van 27 Junie tot 8 Julie 2016.  

Die groep spandeer twee weke by US en woon klasse en werkswinkels by oor hoe om hul doktorale opleiding suksesvol te voltooi. Robert Kotzé, Senior Direkteur van die Nagraadse en Internasionale Kantoor(NGIK), het die groep by US verwelkom en gesê met 15 nasionaliteite teenwoordig is hulle 'n "internasionale klaskamer". Deelnemers van lande soos Eritrea, Tanzanië, Malawi, Zimbabwe, Kameroen, Namibië en die VSA woon die winterskool by. Hy het aan die groep vertel dat die ADA 'n "gunstige omgewing" binne die US is en gesê die universiteit is verbind tot nagraadse sukses en hoër onderwys op die vasteland.

"Die ADA gaan oor doktorale opleiding, kapasiteitsbou en vroeë akademiese loopbaan ontwikkeling. Dit is 'n uitdrukking van die US se verbintenis tot hoër onderwys in Afrika."

Kotzé het ook inisiatiewe soos die gesamentlike doktorale skool met die Universiteit van Makerere in Uganda uitgelig. Die US het onlangs met behulp van 'n ruim skenking deur die Carnegie-korporasie van New York, doktorale werkswinkels by Makerere, 'n vennootuniversiteit van die US, aangebied. Sowat 100 afgevaardigdes van Makerere en vier ander openbare universiteite in Uganda het die werkswinkels bygewoon.

Kotzé het verder verwys na internasionalisering by die US en gesê die NGIK sien uit daarna om prof Hester Klopper, nuutaangestelde viserektor: Strategiese Inisiatiewe en internasionalisering by die universiteit te verwelkom. "Die ADA is 'n uitdrukking van die US se verbintenis tot internasionale doktorale opleiding en die belangrikheid van internasionalisering sal verder uitgelig word wanneer prof Klopper in Augustus by ons aansluit."

Vanjaar se winterskool word ook bygewoon deur 20 studente van die Suider-Afrikaanse Stelselontleding Sentrum(SASAC).​ Hulle vorm deel van 'n konsortium van vier universiteite; die Universiteit van die Wes-Kaap, Universiteit van Limpopo, Universiteit van die Witwatersrand en die US, wat navorsing doen binne die raamwerk van stelselontleding. Die ADA Winterskool maak deel uit van 'n twee maande lange kapasiteitsontwikkeling program vir die groep.