
US en Michael & Susan Dell-stigting werk saam om studentesukses te bevorder
Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Michael & Susan Dell-stigting (“MSDF") het onlangs die bekendstelling van die Dell Young Leaders-program by die US aangekondig. Die program sal Stellenbosse studente uit lae-inkomsteomgewings aanvullende steun bied om suksesvol te gradueer.
Die eerste klas van 100 kwalifiserende eerstejaars is vroeg in November aangekondig. Die program beoog om oor 'n tydperk van vyf jaar 1 000 Dell Young Leaders by Maties te ondersteun.
Dell Young Leaders kom gewoonlik uit lae-inkomstehuise en is die eerstes in hulle gesinne om aan 'n universiteit te studeer, so om 'n graad te verwerf is 'n noodsaaklike stap vir vooruitgang. Die program ondersteun studente waar hulle dit die nodigste het, en help hulle individuele uitdagings die hoof bied sodat hulle kan gradueer en met 'n sinvolle loopbaan kan begin. Altesaam 97% van Dell Young Leaders het tot dusver gegradueer óf werk steeds aktief aan hulle grade, en 98% van gegradueerdes is in diens geneem of studeer verder.
Die Dell Young Leaders-program – wat al die afgelope dekade in Suid-Afrika bedryf word – keur studente wat vir professionele grade ingeskryf is om 'n aanvullende beurs te ontvang wat die tekort op hulle totale universiteitsrekeninge betaal. Studente ontvang ook deurlopende, toegespitste en persoonlike advies en kampushulpbronne van toegewyde programpersoneel. Dít sluit in mentorskap, akademiese steun, welweeshulpbronne, leierskapsontwikkeling, loopbaanafrigting, en werksplasing vir gegradueerdes. Uiteindelik help die program studente met uitdagings wat hulle op hulle reis na gradedag én die arbeidswêreld ondervind.
“Ons put voortdurend inspirasie uit die vasberade studente in ons program, wat ontsaglike struikelblokke te bowe kom om nie net húlle lewens nie, maar ook die lewens van hulle gesinne en gemeenskappe te verbeter," sê Helen Vaughan, programbestuurder van MSDF se University Success-portefeulje in Suid-Afrika. “Ons is opgewonde oor die geleentheid om met die US saam te werk en nog meer studente by te staan om te gradueer, sinvolle werk te kry en leiers in hulle gekose beroepe te word."
Om te sorg dat al hoe meer studente floreer, het die US hom ook daartoe verbind om meer van sy eie beursgeld aan te wend sodat 'n groter getal studente uit hierdie program kan voordeel trek, wat studentesukses 'n reusehupstoot behoort te gee.
“Ons is opgewonde oor die moontlikheid om ons beursaanbod vir studente uit lae-inkomsteomstandighede by ons universiteit uit te brei deur 'n omvattende, veelsydige steunprogram in vennootskap met MSDF se Dell Young Leaders-program," sê prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier. “Die Dell Young Leaders-program is 'n instrument om die US sy kern- strategiese doelwitte te help bereik. By die US is ons studente vir ons belangrik en is ons daartoe verbind om elkeen van hulle 'n transformerende studente-ervaring te bied."
Hierdie inisiatief is die jongste in die US se reeks pogings om studentesukses te bevorder, en te sorg dat die Universiteit toeganklik is vir kwalifiserende studente uit alle omstandighede, veral diegene wat hindernisse vir suksesvolle universiteitstudie ondervind.
Volgens Karen Bruns, die US se senior direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, pas die US–MSDF-vennootskap volmaak in by die Universiteit se doelstellings: “Hierdie vennootskap sal beslis uitkomste verbeter vir studente wat Dell Young Leaders word, en sal op lang termyn ook hulle gesinne baat. Dít strook met die US se voorneme om 'n positiewe sosiale impak te hê, en te sorg dat ons studente ons nasionale ekonomie help bou met gepaste vaardighede wat hulle in ons kurrikula sowel as buite hulle formele onderwys verwerf."