Skip to main content
Kom geniet Tuiskoms 2017

Kom geniet Tuiskoms 2017

Ilse Arendse
27 Februarie 2017

As 2017 jou reeds onderkry, moenie bekommerd wees nie! Die Alumni-kantoor het net die regte doepa vir jou: die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Tuiskoms en Familienaweek, wat vanaf 2 Maart tot 6 Maart op Stellenbosch gehou word.

Dit is nie net vir alumni nie. Personeellede kan ook deel in die feestelikhede, en as ʼn gewaardeerde personeellid kry jy afslag op sekere van die geleenthede en vertonings.

Die Alumni-kantoor sit vanjaar weer sy vennootskap met die US Woordfees voort, so maak seker jy besoek www.woordfees.co.za om al die Woordfeesgeleenthede te sien waaruit jy kan kies en keur.

SO WAARNA KAN JY UITSIEN?

Skop die naweek af met ons Tuiskoms Musiekskouspel op 2 Maart. Kom geniet klassieke, pop- en rock-liedjies uit die boonste rakke met bekendes soos Corlea, Jannie Moolman, Timothy Moloi en Lindiwe Bongani..

Wees op die uitklyk vir hierdie reeks "Terug Klas Toe"-fakulteitspraatjies wat van vroegoggend tot laatmiddag op 3 Maart by die Boeketent sal plaasvind. Gesprekke sal onder meer insluit ʼn paneelbespreking oor die stand van die ekonomie en loopbaankeuses in 2050; veranderinge in kerk en teologie; veroudering sonder Botox, Prozac of Viagra; ʼn praatjie oor GMO-kosse; korrupsie; en die impak wat tegnologie tot dusver op onderrig en leer gehad het.

Die Kayamandi kos-en-wyn-ervaring op 3 Maart is ʼn interaktiewe viering van erfenis, kos, wyn, kuns en kultuur. Geniet tradisionele Suid-Afrikaanse kookkuns saam met top Stellenbosch-wyne van die R304-omgewing in die hart van Kayamandi terwyl die AmaZink-groep en ander Woordfees kunstenaars sorg vir vermaak.

Kom prikkel daardie lagspiere met Dowwe Dolla, Suid-Afrika se gunsteling blondine, in #DowweDolla op 3 Maart. Ouma Dowe Dolla maak ook haar verskyning om 'n meer wyse perspektief aan alledaagse gebeure in ons land te gee.


Allamapstieks, bollemakiesie, aspris, verfomfaai, wildewragtig, klipkoggelmander. As dié woorde jou tone laat krul, is die Tuiskoms Veldtrap met Woorde op 5 Maart net vir jou. Alle woordenaars kan daarvoor by Coetzenburg aantree. In plaas van ʼn registrasienommer, kry jy ʼn woord en vier so ons mooi taal. Bring jou familie en vriende en, soos altyd in Stellenbosch, is die asemrowende natuurskoon gewaarborg. Registreer by http://www.veldtrap.co.za/.

Is jy mal oor rugby? Op 6 Maart kan jy by ons mini-ondersteunerspark kom wys jou bloed is maroen. Al speel ons manne nie op hul tuisveld nie, kan jy op ʼn grootskerm in die Jan S Marais-park na die Varsitybeker-rugbywedstryd tussen Maties en Shimlas kyk.