
Kan tegnologie studente se geestesgesondheid help bevorder?
Digitale tegnologieë het die potensiaal om studente se geestesgesondheid te bevorder, studenteberadingsdienste uit te brei en tradisionele berading aan te vul, skryf prof Jason Bantjes (Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad / Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) en dr Xanthe Hunt (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) in ʼn onlangse meningsartikel vir Mail & Guardian.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Jason Bantjes en Xanthe Hunt*
Baie studente in Suid-Afrika (SA) en baie ander wêrelddele ondervind hoë stresvlakke en simptome van depressie en angs. 'n Studie onder eerstejaarstudente by 19 universiteite in agt lande (Australië, België, Duitsland, Meksiko, Noord-Ierland, Suid-Afrika, Spanje en die VSA) het bevind dat 18,5% van studente die vorige 12 maande aan major depressiewe steuring gely het en 16,7 het algemene angssteuring ondervind. Wanneer hierdie probleme nie behandel word nie, kan dit studente se sosiale en akademiese funksionering ernstig strem wat weer tot gevolg kan hê dat studente druip of opskop.
Dit is waarskynlik nie verrassend dat studente soms met depressie- en angssimptome sukkel nie, gegewe die druk wat tipies gepaardgaan met die universiteitslewe en die ontwikkelingsuitdagings wat jong volwassenes dikwels ondervind soos om weg te wees van hul ouerhuis, finansiële druk, akademiese eise, meer geleenthede vir middelmisbruik en minder ouerlike toesig. Hoewel dit soms vir sommige studente baie stresvol is op universiteit, ondervind die meeste studente nie geestesgesondheidsprobleme nie en is hulle baie sterk en veerkragtig. Dit is dus 'n fout om te dink dit is normaal vir studente om die hele tyd depressief of angstig te voel.
Studente wat vir lang tydperke gespanne of hartseer voel, het ondersteuning en hulp nodig om hierdie gevoelens te beheer.
Ongelukkig ontvang die meeste studente met geestesgesondheidsprobleme nie die nodige ondersteuning en professionele hulp nie. 'n Studie in SA het bevind dat slegs 28,9% van eerstejaarstudente met geestesiektes behandeling ontvang. Daar is baie redes waarom studente nie sielkundige ondersteuning ontvang wanneer hulle dit nodig het nie. Dit sluit toegang tot dienste en die hoë koste van professionele geestesgesondheidsorg in. Maar daar is ook ander redes waarom studente nie altyd te gretig is om professionele hulp te soek nie, soos persepsies oor stigma, 'n onwilligheid om 'n geestesgesondheidspraktisyn te besoek, 'n behoefte om probleme self te hanteer of die ondersteuning van vriende te soek, besorgdheid oor privaatheid, probleme met skedulering en sienings dat psigoterapie ondoeltreffend is.
Een van die grootste uitdagings vir hoëronderwysinrigtings is hoe om doeltreffende en bekostigbare geestesgesondheidsdienste aan studente te lewer wat ook gerieflik, deelnemend en aanvaarbaar vir studente is. Een moontlikheid is om digitale tegnologieë te gebruik om studenteberadingsdienste uit te brei – nie om die konvensionele persoonlike dienste te vervang nie, maar as 'n manier om tradisionele berading aan te vul en sommige van die toegangsstruikelblokke te oorkom wat studente soms ondervind.
'n Nuwe studie wat onlangs vrygestel is, mik daarna om uit te vind of digitale tegnologieë gebruik kan word om die geestesgesondheid van universiteitstudente in die land te bevorder. Studente van die Universiteit Stellenbosch (US), asook van die Universiteite van die Wes-Kaap en die Vrystaat, het die geleentheid om 'n reeks digitale oplossings vir die vermindering van simptome van depressie en angs te toets. Hierdie intervensies sluit toepassings in wat die beginsels van kognitiewe gedragsterapie gebruik om studente strategieë en vaardighede aan te leer om hul geestesgesondheid te bestuur. Aanlyn groepsterapie wat deur 'n sielkundige gefasiliteer word, word ook getoets. Klein groepies studente wat op die verskillende kampusse gewerf is, vergader virtueel saam met n sielkundige om vaardighede aan te leer om hul stres te verminder, hul emosies te beheer en hul verhoudings te versterk. Hierdie aanlyn groepe is in SA ontwikkel in samewerking met 'n groep studenteraadgewers en die aanvanklike toetsing van hierdie intervensie het belowende resultate opgelewer. Die nuwe studie om hierdie digitale intervensies te toets, word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing aan die US gedoen. Dit is die eerste keer dat universiteite in SA saamwerk om digitale intervensies wat volgens skaal aangepas kan word, regoor verskeie kampusse toets. Daar word gehoop dat ander universiteite, insluitende die Universiteit van Kaapstad, Wits en Rhodes-universiteit, ook binnekort by die proefnemings sal aansluit.
Ten slotte …
Die nuwe studie wat bekendgestel is, beloof nie net om broodnodige data oor die moontlike doeltreffendheid van digitale intervensies vir jongmense te verskaf nie, maar ook om te toon hoe universiteite hulpbronne kan deel en kan saamwerk om nuwe benaderings tot die bevordering van studentegeestesgesondheid bekend te stel. Dit sal SA op die voorpunt van die inwerkingstelling van digitale geestesgesondheidsoplossings in die algemene kliniese praktyk plaas.
- Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
*Prof Jason Bantjes is 'n hoof-spesialiswetenskaplike in die Navorsingseenheid vir Alkohol, Tabak en Ander Middels by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Hy is ook 'n buitengewone medeprofessor by die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Xanthe Hunt is ʼn senior navorser by die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing.