Breadcrumb
Ons Departement
Wat is Grondkunde?
Grond is die uiters dun maar kosbare vel wat ons planeet bedek wat alle aardse lewensvorme onderhou en voedingstowwe bydra en besoedelingstowwe na akwatiese omgewings filter. Grondkunde fokus op die belangrikheid van gronde as 'n baie stadig hernubare natuurlike hulpbron. Dit behels die studie van die eienskappe en prosesse wat in gronde voorkom, sowel as die volhoubare gebruik en bestuur van gronde tot voordeel van die mensdom. Grondkunde is 'n onontbeerlike studieveld vir volhoubare voedselproduksie in die toekoms.
Ons Departement
Die Departement Grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch doseer en doen navorsing in al die belangrikste subdissiplines van Grondkunde, wat grondvorming, klassifikasie en kartering (Pedologie), grondchemie en -vrugbaarheid, grondfisika en waterbestuur, en grondbiologie en -ekologie insluit. Voorgraadse studente word toegerus met fundamentele wetenskaplike kennis van gronde, maar ook praktiese ervaring. Dit sluit in die leer van hoe om gronde in die veld te klassifiseer en 'n grondkaart en grondgeskiktheidsopname saam te stel; hoe om grondmonsters te neem en grondchemiese, biologiese en fisiese eienskappe in die veld en laboratorium te bepaal; en hoe om die resultate van die analise te interpreteer en wetenskaplike verslae op te stel. Nagraadse studente word gementor om eksperimente te formuleer en uit te voer, data te analiseer en te interpreteer, en navorsing vir publikasie in eweknie-geëvalueerde publikasies op te stel.


Pedologie:
Studie van die genese, morfologie, klassifikasie en geografiese verspreiding van gronde

Grondchemie:
Studie van die chemiese samestelling, eienskappe en reaksies van gronde

Grondfisika:
Studie van die toestand (vloeistof, vaste stof, gas) en beweging van materie en vloei en transformasies van energie in gronde

Grondbiologie:
Studie van lewende organismes wat gronde bewoon en hul funksies en aktiwiteite

Grondhidrologie:
Studie van die voorkoms, verspreiding en beweging van water oor, deur en onder die landoppervlak

Grondekologie:
Studie van die onderlinge verbande tussen organismes en gronde