Skip to main content
Ontmoet Jana Eloff: #MyTygerMaties60

Ontmoet Jana Eloff: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
07 September 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Jana Eloff.

As dit nie was dat sy so baie vir ander omgegee het nie en 'n behoefte het om mense te help, sou Jana Eloff dalk ’n restaurant in haar ma se agterplaas oopgemaak het en nou ’n sjef gewees het. “Ek is mal oor kosmaak. Lasagne en malva-poeding is my kendisse,” spog sy.

Eloff het egter besluit om haar kamer in Worcester vir een in Huis Francie van Zijl te verruil en is nou ’n eerstejaar MB,ChB-student.

Een van haar doelwitte is om eendag by ’n hospitaal te werk wat haar nodig het en waar sy kan hoop gee vir ander. Sy sê te veel mense word dokters omdat hulle geld najaag en voel dié gierigheid is die professie se grootste uitdaging. “Dit is veronderstel om oor liefde te gaan.”

Sy sê haar oupa, Dieter Leicher, is vir haar ’n inspirasie en het haar laat glo dat ’n mens deur harde werk enigiets kan vermag. “Hy het deur baie moeilkie tye gegaan, maar hy het altyd in die Here bly glo en uiteindelik ’n groot sukses van sy lewe gemaak.”

Vinnige feite:

  • Sy is ’n uithaler-toutrekker en het in matriek haar skool se Toutrekker van die Jaar trofee ontvang.
  • Haar ma het ook medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
  • Sy is gek ook fantasieverhale en het die Harry Potter-reeks verslind.
  • Haar boodskap aan tieners sal wees om hul drome na te jaag. “En werk hard, want dis net jy wat jou drome kan laat waar word.”