Skip to main content
Kanker ‘n bedreiging vir mense met MIV

Kanker ‘n bedreiging vir mense met MIV

Wilma Stassen
30 November 2016

MIV word al hoe meer 'n hanteerbare kroniese toestand, en soos wat die lewensverwaging van mense met MIV styg, groei die behoefte ook vir verbeterde opsporing en voorkoming van komorbiditeite wat die lewensduur van hierdie bevolking bedreig.

'n Belangrike komorbiditeit vir mense met MIV is lewerkanker – 'n siekte wat dikwels deur kroniese hepatitis B-infeksie veroorsaak word.

"Lewersiekte het een van die groot oorsake van sterftes onder mense met MIV geword," sê dr Tongai Maponga aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch. Sy navorsing vir sy PhD het ondersoek ingestel na die impak van MIV op hepatitis B-verwante lewerkanker en lewerfibrose. Kroniese hepatitis B-infeksie, wat gewoonlik tydens die kinderjare opgedoen word, is verantwoordelik vir die meeste gevalle van lewerkanker in Suid-Afrika.

Maponga se navorsing het bevind dat lewerkanker vroeër in mense met MIV voorkom en dat dit die oorlewingstydperk vanaf diagnose halveer. Sy studie is onder leiding van drr Monique Andersson en Richard Glashoff van die Afdeling Geneeskundige Virologie aan die FGGW aangepak.

"Pasiënte met MIV is geneig om heelwat jonger te wees wanneer hulle lewerkanker ontwikkel, in vergelyking met dié sonder MIV. As jy spesifiek na vroue kyk, kom dit sowat 13 jaar vroeër in diegene met MIV voor," sê Maponga. Suid-Afrikaanse pasiënte met lewerkanker wat deur kroniese hepatitis B veroorsaak word presenteer oor die algemeen in hulle 40s met die siekte, maar met MIV as komorbiditeit presenteer pasiënte met lewerkanker in hulle 30s, en party so vroeg as hulle 20s.

Vir die studie is 107 lewerkanker pasiënte gewerf van vier onkologie-eenhede in Suid-Afrika. Die pasiënte is getoets vir hepatitis B en MIV, en die verloop van die siekte, asook hul oorlewingskoers, is bestudeer.

"Lewerkanker-pasiënte met MIV het gemiddeld 83 dae oorleef na diagnose, terwyl pasiënte sonder MIV vir so lank as ses maande oorleef het. Die meeste lewerkanker-pasiënte in Afrika kry eers mediese hulp as die siekte reeds ver gevorder het en die kans vir genesende behandeling skraal is. As die siekte op 'n vroeëre stadium opgespoor word kan daar baie meer gedoen word om die kanse vir oorlewing te verbeter," sê Maponga.

Hy stel voor dat mense met MIV ook vir hepatitis B getoets word. Diegene sonder hepatitis B-infeksie kan dan ingeënt word om toekomstige infeksie te voorkom wat hulle op risiko plaas om lewerkanker te ontwikkel, en dié wat reeds ko-infeksie het kan behandeling ontvang en op 'n lewerkanker-waarnemingsprogram geplaas word om die vroegste moontlike opsporing van kanker te verseker.

Maponga beveel ook aan dat MIV-positiewe swanger vroue getoets word vir hepatitis B en dat die standaard-inenting, wat tans aan alle kinders op die ouderdom van ses weke gegee word, toegedien word binne die eerste 24 uur na geboorte.

"As ons die swanger vroue met hepatitis B kan identifiseer, kan ons hulle op behandeling plaas om te voorkom dat hulle die infeksie na hul babas oordra. Alle kinders behoort by geboorte ingeënt te word om die venster van ses weke waartydens moeders moontlik die infeksie aan hul babas kan oordra, uit te skakel."

Hierdie studie is vroeër vanjaar tydens die 21ste Internasionale VIGS-kongres aangebied, en word binnekort gepubliseer.

Foto: Dr Tongai Maponga het ondersoek ingestel na die impak van MIV op hepatitis B-verwante lewerkanker en lewerfibrose.