Skip to main content
Begrip vir die ‘op en af’ van skisofrenie

Begrip vir die ‘op en af’ van skisofrenie

FMHS Marketing & Communications
10 Oktober 2016

​Verbeel jou jy loop laataand alleen in 'n lang, donker gang van 'n ou gebou af. Elke kraak van 'n vloerplank maak jou senuwees klaar en elke skaduwee lyk bedreigend. Verbeel jou nou dat jy hierdie angs en paranoia elke dag, heeldag ervaar.

Dít is presies hoe baie mense met skisofrenie voel in hul alledaagse lewens.

In teenstelling met wat mense oor die algemeen glo, het mense met skisofrenie nie veelvoudige persoonlikhede nie, maar ervaar hulle eerder 'n wye verskeidenheid simptome wat dit laat voorkom asof hulle onrustig, angstig of depressief is.

"Skisofrenie kan sogenaamde 'positiewe' of 'negatiewe' simptome veroorsaak," verduidelik Bonga Chiliza, 'n medeprofessor in psigiatrie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch. "Positiewe simptome is wanneer hulle stemme hoor (hallusinasies) of dinge glo (wanvoorstellings) wat nie eg of waar is nie – byvoorbeeld dat elite teenmisdaad-agente hulle agtervolg. Negatiewe simptome is wanneer die persoon minder doen as wat van hulle verwag word, byvoorbeeld, hulle glimlag minder of het minder gesigsuitdrukkings, hulle is onversorg, of reik nie uit na vriende of familie nie.

"Mense met skisofrenie het ook probleme met hulle denkprosesse (kognisie), en hulle sukkel soms om te konsentreer tydens lang gesprekke. Hulle sukkel ook om in te pas in sosiale situasies, en lei gereeld aan ernstige angs en depressie," sê Chiliza.

Skisofrenie is 'n steurnis van die dopamienstelsel in die brein. Dopamien is 'n chemikalie wat natuurlik in die brein voorkom wat stimuli uitfiltreer waaraan mens elke dag blootgestel word. Die filter werk nie goed in mense met skisofrenie nie, en veroorsaak dat hulle dink alles wat hulle sien en hoor is betekenisvol.

Antipsigotikum kan help om die dopamienfilters te korrigeer, en dit word algemeen aangewend om die positiewe simptome van skisofrenie te behandel.

"Starende blikke van bure of 'n polisiemotor wat verby ry sal minder en minder betekenisvol raak as mense aanhou om hul antipsigotikum te neem. Maar ongelukkig help dit nie vir die negatiewe simptome, soos depressie of angs, nie," sê Chiliza.

Hy en sy span doen navorsing oor psigo-maatskaplike rehabilitasie (PMR), asook ander intervensies. Daar is bewys dat PMR help met die verligting van die negatiewe simptome van skisofrenie.

Een van die hoofkomponente van PMR is psigo-opvoeding van familielede, wat behels om met die pasiënt se familie te werk oor 'n aantal sessies om die verskillende aspekte van skisofrenie en die behandeling daarvan te bespreek.

"Ons skisofrenie-navorsingspan het bevind dat PMR 'n uitvoerbare intervensie is in die openbare gesondheidsektor as veelvuldige families terselfdertyd opgelei kan word in een groep," verduidelik Chiliza.

Volgens hom het die groepsessies 'n paar uitdagings uitgelig waarteen die families van mense met skisofrenie te staan kom.

"Die groepe herinner ons daaraan dat baie mense met 'n seun of dogter met skisofrenie net een van die vele laste is wat hulle dra en kwessies soos armoede, dwelmmisbruik en rampokkery moet in ag geneem word wanneer mens met die families van mense met skisofrenie werk," sê Chiliza.

Foto: Pixabay