Serve as we learn
Langeberg InReach | 16 - 21 Maart 2026 Langeberg InReach
Gemeenskappe in die Langeberg-streek in die Wes-Kaap het ʼn welkome gesondheidshupstoot ontvang tydens ʼn sesdaagse InReach onder leiding van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Die inisiatief is in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand, hoëronderwysinstellings en verskeie nie-regeringsorganisasies aangebied. Die Langeberg InReach ondersteun die provinsiale Begin Goed, Leef Goed-program, wat fokus op die ondersteuning wat kinders en jong mense nodig het vir ʼn gesonde wegspring in die lewe.
Studente en ervare gesondheidswerkers het saam met plaaslike dienste in die landelike dorpe Robertson, Montagu en Bonnievale gewerk. Deur hierdie gemeenskappe binne te reik, het InReach gehelp om die openbare gesondheidstelsel deur die lewering van noodsaaklike dienste en voorkomende sorg te versterk. Die Langeberg InReach het van 16 tot 21 Maart plaasgevind en het vennote byeengebring wat ʼn verbintenis deel om gesondheids- en welstandsdienste meer toeganklik in landelike gebiede te maak.
“Ons noem dit doelbewus ‘InReach’ pleks van ‘Outreach’ (uitreik),” het dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Opleiding en Sosiale Impak van die FGGW, gesê. “Ons skakel eers met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand om hul behoeftes te verstaan. Ons kundiges en studente werk dan saam met vennote om die gesondheidstelsel te ondersteun en sorg direk te lewer waar dit nodig is.”
Die rigtinggewende beginsel van die program is Dien soos ons Leer. “Deur die ondersteuning van gesondheidsorgdienste in gemeenskappe doen ons studente ook waardevolle leerervarings in die regte wêreld op,” het prof Karin Baatjes, Visedekaan: Leer en Onderrig, gesê.
The Langeberg InReach brought together a range of health, wellness, and educational activities to the region to strengthen the local health system and support community wellbeing:
Sleutelfeite:
- 73 katarakoperasies
- Mobiele teater by die Worcester-hospitaal
Sleutelvennootskappe:
- Africa20Twenty
- Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand
- Al-Imdaad-stigting
Altesame 73 pasiënte van die Langeberg-streek se sig is herstel deur katarakchirurgie wat deel van die InReach uitgemaak het. Die operasies is by die Worcester-hospitaal uitgevoer, waar ʼn mobiele opwipteater dit moontlik gemaak het om chirurgiese kapasiteit oor ʼn kort tydperk te verhoog.
Die inisiatief is uitgevoer in vennootskap met Africa20Twenty, ʼn organisasie sonder winsbejag wat toegang tot katarakchirurgie reg oor Afrika bied, asook die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand en die Al-Imdaad-stigting. Oftalmoloë van die US en die Tygerberg-hospitaal het die prosedures uitgevoer, terwyl toegewyde gesondheidsorgpersoneel van die provinsiale gesondheidsdepartement dwarsdeur die proses ʼn deurslaggewende rol in die sifting, voorbereiding en ondersteuning van pasiënte gespeel het. Al-Imdaad het die inisiatief verder ondersteun deur maaltydpakkies op die dag van die operasie aan pasiënte te verskaf.
Katarakchirurgie kan lewensgehalte drasties verbeter deur sig, onafhanklikheid en die vermoë om ten volle aan daaglikse aktiwiteite deel te neem, te herstel. Hierdie ingryping het ook gehelp om lang waglyste vir katarakprosedures in die streek te verkort. Die katarakspan het ʼn ambisieuse doelwit gestel om 70 operasies te doen om die FGGW se 70ste bestaansjaar te vier en het dié teiken uiteindelik oortref.
Sleutelfeite
- 50 FGGW-studente
- Studente het gehelp met gesondheidsifting, immunisasies, voorkomingsaktiwiteite, oogondersoeke
- Ses gemeenskappe, skole en kindersorgfasiliteite is in en om Robertson, Montagu en Bonnievale besoek
Sleutelvennootskappe:
- Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand
Meer as 50 studente van die FGGW het primêre gesondheidsorgverpleegkundiges ondersteun deur noodsaaklike dienste direk aan gemeenskappe in en om Robertson te lewer. Hul betrokkenheid het die gees van die InReach-benadering vasgevang, wat leer en diens deur betekenisvolle betrokkenheid by die openbare gesondheidstelsel naas mekaar plaas.
Voorgraadse studente van Arbeidsterapie, Verpleegkunde, Fisioterapie, Geneeskunde, Dieetkunde en Spraakterapie het drie dae lank by mobiele kliniekspanne aangesluit wat in ses gemeenskappe, skole en kindersorgfasiliteite in Robertson, Montagu en Bonnievale werksaam is.
Studente het in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand gehelp met gesondheidsondersoeke, immunisasies, voorkomings- en gesondheidsbevorderingsaktiwiteite, oogtoetse en ander frontlinie-dienste wat vroeë intervensie en langtermynwelstand ondersteun. Deur saam met professionele verpleegkundiges te werk, het studente praktiese ervaring opgedoen terwyl hulle gehelp het om plaaslike inwoners se toegang tot primêre gesondheidsorg te verhoog.
Sleutelfeite
- 266 oogtoetse
- 215 brille voorgeskryf
- Skoolbesoeke aan Robertson, Montagu en Bonnievale
- Gemeenskapsifting by die Robertson-burgersentrum
Sleutelvennootskappe:
- Tygerberg-hospitaal
- Suid-Afrikaanse Optometriese Vereniging
- Departement Oftalmiese Wetenskappe van die KSUT
Oogtoetsing het ʼn belangrike deel van die Langeberg InReach uitgemaak, met ʼn sterk fokus op vroeë opsporing en toegang tot basiese oogsorg. Oftalmoloë van die US en die Tygerberg-hospitaal het nou met oogkundiges van die Suid-Afrikaanse Optometriese Vereniging saamgewerk, met ondersteuning van die Departement Oftalmiese Wetenskappe van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), om kinders en volwassenes dwarsdeur die streek te bereik.
Spanne het skole in Robertson, Montagu en Bonnievale en gemeenskapslede by die Robertson-burgersentrum besoek om te verseker dat oogsorgdienste direk na die plekke geneem word waar mense woon en leer. Altesame 266 oogondersoeke is tydens die InReach uitgevoer en 215 brille is aan pasiënte met geïdentifiseerde sigbehoeftes voorgeskryf. Pasiënte wat verdere assessering of gespesialiseerde behandeling nodig gehad het, is na die Worcester-, Eersterivier- en Tygerberg-hospitale vir voortgesette oftalmiese sorg verwys.
Vir talle leerders kan beter sig ʼn direkte impak op konsentrasie, leer en selfvertroue in die klaskamer hê. Volwassenes wat sorg ontvang het, het ook baat by duideliker sig gevind omdat dit hul vermoë ondersteun om te werk en daaglikse aktiwiteite te bestuur.
Sleutelfeite
- 84 kinders het tandheelkundige sorg ontvang
- Dienste het trekkings, vulsels, die seël van krake, skaleer- en poleerbehandelings, fluoriedaanwending en konsultasies ingesluit
- Mobiele dienskamers by die Robertson-burgersentrum
Sleutelvennootskappe:
- Fakulteit Tandheelkunde, UWK
Tandheelkundige sorg het ʼn belangrike deel van die Langeberg InReach uitgemaak, met ʼn sterk fokus op die verbetering van toegang tot mondgesondheidsdienste vir kinders. In vennootskap met die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se Fakulteit Tandheelkunde is mobiele tandheelkundige dienskamers by die Robertson-burgersentrum ingerig, waar 84 kinders broodnodige sorg ontvang het.
Dienste wat gelewer is, het trekkings, vulsels, die seël van krake, skaleer- en poleerbehandeling, fluoriedaanwending en individuele konsultasies ingesluit. Vir baie kinders was dit ʼn geleentheid om professionele tandheelkundige sorg naby die huis te ontvang, wat gehelp het om pyn, infeksie en mondgesondheidsprobleme oor ʼn langer termyn te voorkom.
Studente van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het die inisiatief ondersteun deur tandheelkundige gesondheidsopvoeding aan te bied en tandheelkundige sorgvoorrade te versprei. Deur kinders van jongs af oor goeie mondhigiëne en voorkomende sorg te leer, het die program ten doel gehad om gesonder gewoontes te bevorder wat ʼn leeftyd kan voortduur.
Sleutelfeite
- 16 studente en personeellede van Ingenieurswese
- Beligting herstel en vervang, klein toerusting reggemaak, dele van die hospitaal se CCTV-netwerk herstel en stoorhouers geverf
Sleutelvennootskappe:
- Fakulteit Ingenieurswese, US
As deel van die program het studente en personeel van die US se Fakulteit Ingenieurswese ʼn volle dag by Robertson-hospitaal deurgebring en hul moue opgerol om met algemene instandhouding en herstelwerk te help. Die span van 16 personeellede en studente, wat die Gibela-ingenieursnavorsingsleerstoel verteenwoordig, het ʼn wye reeks take uitgevoer om die hospitaal se infrastruktuur te help versterk.
Hulle het beligting herstel en vervang, klein toestelle reggemaak, dele van die hospitaal se CCTV-netwerk herstel en stoorhouers met ʼn nuwe laag verf opgeknap, asook ander praktiese bydraes gelewer.
- Infeksievoorkoming en -beheer, en bewustheidsassesserings oor antimikrobiese weerstand, is by Robertson- en Montagu-hospitale uitgevoer, wat bewustheid van hierdie kritieke kwessies onder meer as 35 plaaslike gesondheidswerkers verhoog het.
- Gesondheidswerkers vanuit die streek het opleiding ontvang in die gebruik van ultraklank by die versorgingspunt, klinikus-as-opleier-instruksie, en praktiese oefeninge in situ wat daarop gemik is om gesondheidsorglewering aan plaaslike gemeenskappe te verbeter en studente-opleiding in hierdie kliniese omgewings te ondersteun.
- In ooreenstemming met die Gesondheidsdepartement se Begin Goed-inisiatief, het 'n langdurige InReach-vennoot, STEPI (Squaring the Education Pyramid Institute), opleiding in vroeë kinderontwikkeling aan 40 plaaslike opvoeders, versorgers en ouers in die Nkqubela-township in Robertson verskaf.
Langeberg InReach | 16 - 21 Maart 2026
