Skip to main content
US presteer ondanks COVID-19

US presteer ondanks COVID-19

Nicolette Dirk
06 Augustus 2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede personeelbyeenkoms van die jaar is Maandag, 2 Augustus 2021 gehou. Dit het weer eens aanlyn plaasgevind weens die COVID-19-inperkings. Die vergadering het sommige van die uitsonderlike prestasies beklemtoon wat by die US behaal is ondanks die uitdagings van die pandemie, en die Rektor het ook die nuus bekendgemaak dat die US sy eie inentingslokaal by Lentelus op die Stellenbosch-kampus gaan vestig. Klik hier​ om meer hieroor te lees​. 

“Ons oorkoepelende prioriteite in hierdie tyd is om die akademiese projekte suksesvol te laat verloop en om volhoubaar te bly as ’n toonaangewende hoëronderwysinrigting terwyl ons terselfdertyd ook die gesondheid en veiligheid van ons studente en personeel prioritiseer,” het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, by die virtuele byeenkoms gesê. Die pandemie het nie US-studente en -personeel daarvan weerhou om op hul onderskeie gebiede uit te blink nie, soos duidelik uit die voorbeelde wat die Rektor genoem het, gesien kan word:In die 2020-akademiese jaar, wat met die herfsgradeplegtighede in Maart en April vanjaar afgesluit is, het die US daarin geslaag om sy eie rekord vir die meeste kwalifikasies ooit toegeken, te verbeter. Die Universiteit het 9 236 grade, sertifikate en diplomas toegeken, wat meer is as die vorige rekord van 9 133 in 2019. Navorsers van die US het veerkragtigheid getoon te midde van teëspoed, deur deurbrake in mediese navorsing te maak, deur biotegnologie te gebruik om uitdagings wat deur COVID-19 onstaan het, te oorkom en deur die sosio-ekonomiese uitwerking van die pandemie na te spoor. Professionele praktisyns uit verskeie US-omgewings is ook weer eens vir hul uitmuntende werk vereer by die jaarlikse Toekennings vir Uitnemendheid in Bemarking, Bevordering- en Kommunikasie in die Onderwys (MACE) vir 2021 wat op 29 Julie gehou is. Die US het nie minder nie as 26 toekennings verower, en het ook die hoogste suksesverhouding van alle instellings wat ingeskryf het, behaal.“Hierdie prestasies spreek boekdele vir die US se vermoë om vinnig te kan beweeg en aan te pas in moeilike tye,” het De Villiers gesê. Hy het veral personeel vir hul “harde werk en opofferings” bedank.Hy het egter ook erkenning gegee aan die “uitdagings, smart en hartseer” wat personeellede in hierdie tyd beleef, en het ’n “aantal stappe beklemtoon wat ons kan doen om selfsorg te bevorder”: 
  • Wees oplettend en fokus op die oomblik.
  • Onderskei tussen wat jy kan en nie kan beheer nie.
  • Vind aansluiting by die natuur en by ander. 
  • Neem ’n blaaskans van die nuus. 
  • Handhaaf ’n balans tussen roetine en buigsaamheid. 
  • Sien om na jou liggaam en bly fisiek aktief. 
“Ek weet dit is makliker gesê as gedaan, maar dit is belangrik, kollegas. Uitbranding is werklik ’n bedreiging, so kyk asb na julleself, want die US se toekoms is opwindend en ons behoort almal deel te hê daaraan,” het hy gesê. Die Rektor het ook daarop gewys dat die implementering van die US se Strategiese Raamwerk 2019– 2024 die halfpadmerk bereik het. “Ons het goed gevorder oor ’n breë front.” Hy het nuwe personeellede welkom geheet en daarop gewys dat die US daarin geslaag het om van die beste akademici en navorsers te lok, wat onder andere die volgende mense insluit:
  • Prof Elmi Muller, ’n baanbreker-klinikus wat die eerste MIV-positief-na-positief-nieroorplantings in die wêreld gedoen het;
  • Prof Tulio de Oliveira, ’n wêreldbekende bioinformatikus wat in Desember 2020 ’n nuwe COVID-19-variant in Suid-Afrika geïdentifiseer het; 
  • Prof Shannon Hoctor, die hoofredakteur van die South African Journal of Criminal Justice; en
  • Prof Kopano Ratele, die voormalige direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Navorsingseenheid van Mans, Verwonding en Geweld. 
Groot klem is ook COVID-19-inentings geplaas by die personeelbyeenkoms.  “Inentings is veilig en hulle werk. Dit is waarom ek my inspuiting gekry het,” het De Villiers gesê terwyl hy ’n foto vertoon het van toe hy teen COVID-19 ingeënt is. "Om ingeënt te word, is die verantwoordelike ding om te doen – nie net om jou eie en jou gesin se onthalwe nie, maar ook om die uitgebreide Universiteitsgemeenskap en die breër samelewing te beskerm. So, asb kollegas, ek wil julle aanmoedig om jul inspuitings te kry.”
  • Klik hier​ om die volledige personeelbyeenkoms te kyk.