
Aktuariële Wetenskap-gegradueerde met gesogte Kanseliersmedalje vereer
Die Universiteit Stellenbosch (US) se gesogte Kanseliersmedalje vir 2021 is toegeken aan Bradley Moorcroft, ʼn US-gegradueerde in aktuariële wetenskap.
Hierdie medalje word jaarliks toegeken aan ʼn finalejaar- of nagraadse student wat akademies uitgeblink het en op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het, asook hard gewerk het om hoedanighede aanvullend tot die kurrikulum te ontwikkel.
Moorcroft se HonsBCom-graad (Aktuariële Wetenskap) cum laude is by die virtuele gradeplegtigheid in Desember 2021 aan hom toegeken. Hy het vandeesweek na Stellenbosch teruggekeer om die medalje by die April-kontakgradeplegtigheid van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskap te ontvang
Moorcroft het die afgelope vier jaar al sy vakke vir sy BCom- en HonBCom-graad in Aktuariële Wetenskap met onderskeiding geslaag en 90%–99% in die helfte van sy modules behaal. In sy honneursjaar was hy ook die topstudent en het hy die hoogste gemiddelde punt van die afgelope vyf jaar behaal.
Hy het boonop die standaard bereik wat nodig is om aanbeveel te word vir vrystelling van alle eksamens van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (AVSA) wat tot op hede vir sy studies beskikbaar is. Dit is ʼn uiters seldsame prestasie.
In sy kommentaar oor die toekenning sê Moorcroft: “Daar is so baie uitsonderlike finalejaar- en nagraadse studente wat in my groep gegradueer het en dit is ʼn groot verrassing en reuse-eer om op hierdie manier erkenning te kry. Hierdie is die kersie op die koek van ʼn lonende en genotvolle Stellenbosch-hoofstuk.
“Dit was nogal ʼn uitdaging om my aktuariële studie tydens die Covid-19-tydperk met ander verantwoordelikhede te balanseer. Derhalwe sien ek hierdie toekenning ook as ʼn erkenning van die ure van toewyding en harde werk wat dit geverg het om hierdie reis te onderneem."
Hy voeg by dat baie mense ʼn ondersteunende rol gespeel het en tot sy sukses bygedra het. “Ek kan nie alleen erkenning vir hierdie toekenning aanvaar nie. Ek is baie dankbaar vir die getroue steun en aanmoediging van diegene wat gedurende die hoogte- en laagtepunte van die afgelope vier jaar die naaste aan my was."
Hy meen die feit dat hy sy studie met ʼn span-ingesteldheid benader het, het hom gehelp om sy doelwitte te bereik. “Dit is ʼn benadering wat ek vir enige inkomende student sal aanbeveel. Ek was gelukkig genoeg om ʼn stewige groep klasmaats te kon vorm. Ons het mekaar ondersteun, uit mekaar se suksesse en foute geleer, mekaar gehelp om sleutelkonsepte te snap en wonderlike vriendskappe gesmee."
Moorcroft, wat van Gqeberha in die Oos-Kaap kom, het in 2020/21 aansienlike leierskappotensiaal as primarius van die Simonsberg-koshuis getoon. Hy was ook hoofseun van Kingswood-kollege in Makhanda en was op hoërskool kaptein van die hokkie- en waterpolospanne.
Wanneer hy nie studeer of sy ander verantwoordelikhede nakom nie, trek hy sy hardloopskoene aan en raak aktief. “Vir my is dit die beste medisyne vir die gemoed en die siel."
Hy het vanjaar as ʼn aktuariële analis by Discovery Bank aangesluit en beskryf dit “as ʼn briljante ervaring tot op hede". Hy is ook van plan om as Genoot van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (GAVSA) te kwalifiseer.