
Gekonsentreerde sonkrag kan dalk SA se elektrisiteitsprobleme help oplos
Suid-Afrikaners is onlangs onkant gevang toe Eskom weer die implementering van beurtkrag aangekondig het. Met die moontlikheid van nog onderbrekings oor die volgende paar jaar, het dit dalk tyd geword om te kyk na gekonsentreerde sonkrag-tegnologie (GSK) om elektrisiteit te voorsien wanneer eenhede by steenkoolkragstasies onklaar raak.
“Die grootskaalse aanwending van GSK sal nie net skoon en ondersteunende energie aan die kragnetwerk voorsien nie, dit sal ook die plaaslike vervaardiging van GSK-komponente 'n hupstoot gee en terselfdertyd ook werkskepping ondersteun en 'n geleentheid skep om oormaat-elektrisiteit en kennis na naburige lande uit te voer," sê dr Toyosi Craig, 'n projekbestuurder by AEE Power in Sandton, Johannesburg. Hy het onlangs sy doktorsgraad in Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal.
Craig het met sy navorsing gepoog om die sleutelfaktore en kragte wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van GSK-tegnologie, te identifiseer en om 'n strategie en raamwerk te ontwikkel wat die aanvaarding van hierdie tipe tegnologie in Suid-Afrika sal versnel.
Hy het verskillende metodes en ontledings gebruik om die stand van GSK in die land en pogings om dit plaaslik aanvaar te kry, te verstaan; om die sensitiefste faktore wat die aanvaarding van GSK beïnvloed, sowel as die vrese, uitdagings en beperkings wat met GSK verband hou, te identifiseer; en om moontlike maniere om dit te oorkom, voor te stel.
“Ek het verskillende metodes gebruik om die kennisgaping wat in die innovasie- en aanvaardingsanalise van GSK met betrekking tot koste, vorderingsverhouding, leereffek, tegniese en nie-tegniese, sosiale, handels- en ekonomiese impak bestaan, aan te spreek.
Craig sê daar is 'n gebrek aan inligting oor die invloed van GSK-tegnologie op die Suid-Afrikaanse handel- en plaaslike vervaardigingsektore, asook oor plaaslike navorsings-, ontwikkelings- en innovasiegemeenskappe.

“My studie is belangrik omdat onlangse gebeure getoon het dat die toekoms van GSK in Suid-Afrika nie baie rooskleurig is nie, aangesien die regering se jongste hersienings van die Geïntegreerde Hulpbronneplan (IRP) nie voorsiening maak vir nuwe GSK-aanlegte ná 2030 nie. Op die oomblik is daar geen planne om nuwe aanlegte tot 2030 te bou nie.
“Dit is kommerwekkend aangesien Suid-Afrika teen 2030 42% van sy elektrisiteit uit hernubare energiebronne wil opwek."
Craig voeg by dat sy navorsing as 'n raamwerk vir die verbetering en aanwending van GSK-tegnologie dien, wat oor die lang termyn na verwagting tot die verlaging van die koste en tariewe van GSK-tegnologie sal lei en dit meer mededingend met ander hernubare energietegnologie sal maak.
“My bevinding was dat werkverliese weens die aanvaarding van hernubare energie minder sal wees indien GSK bevorder word, omdat kundiges van ander konvensionele tegnologie hul vaardighede sonder moeite sal kan oordra.
Die ontwikkelingskoste van GSK is besig om te daal, wat die tegnologie die hoofbron van energie in die toekoms sal maak. Lande wat nie hierop ag slaan nie mag dalk agterbly."
Craig wys egter daarop dat GSK steeds duurder is as ander soorte henieubare kragopwekkingstegnologie, ten spyte van GSK se opgaarvermoë en die feit dat dit vir 24 uur lank ononderbroke krag kan voorsien. Hy voeg by dat een van die redes hiervoor is dat daar minder geinstalleerde kapasiteit is in verhouding tot ander hernubare tegnologie en ook die beperkte aanvaarding- en aanwendingstrategieë.
Hy verduidelik dat twee soorte tegnologie in Suid-Afrika aangewend word om sonkrag op te wek: sonfotovoltaïese tegnologie en gekonsentreerde sonkrag (GSK)-tegnologie. Eersgenoemde verwys na tegnologie wat sonlig in elektrisiteit omskep deur middel van sonpanele, terwyl GSK-tegnologie sonenergie in hitte omsit om turbines aan te dryf wat dan elektrisiteit opwek – net soos ander konvensionele kragopwekkingsaanlegte.
Craig meen die elektrisiteit wat in Suid-Afrika deur sonenergie opgewek word is net 'n klein deeltjie van die algehele kragmengsel, ten spyte van die oorvloed sonlig wat ons in die land het.
“Aangesien Eskom onder druk is om elektrisiteit te verskaf, moet die Department van Energie alle vorme van GSK-tegnologie toelaat om regverdig en billik mee te ding. Die departement moet ook die lokalisering van GSK-tegnologie aanmoedig omdat dit die vermoë om maksimum wins in die GSK-innovasiesiklus te verdien, sal verbeter."
Met verwysing na vorige navorsingstudies, sê Craig die potensiaal om Suid-Afrika se oorvloedige sonlig deur middel van GSK te benut is reeds bewys.
“Deur middel van GSK-tegnologie kan sonkrag enige tyd van die dag vir hitte en elektrisiteit gebruik word – selfs as daar geen sonlig is nie. Ons het dringend 'n nuwe/skoner kragbasis nodig en GSK bied die oplossing vir die pad vorentoe. Hierdie tegnologie vaar goed op groot skaal en hoe meer ons dit aanwend, hoe goedkoper sal dit word."
Nie genoeg GSK-aanlegte nie
Ongelukkig beskik Suid-Afrika nie oor baie GSK-aanlegte nie, ten spyte daarvan dat dit in 2010 een van die vernaamste hernubare energie-tegnologiemetodes was wat deur die regering as prioriteit geïdentifiseer is, aldus Craig.
“Afgesien van Helio 100, 'n 100 kW-demonstrasie-aanleg by die US, is daar net vier ander aanlegte (KaXu, Khi, Xina en die mees onlangse Kathu) wat aan die kragnetwerk in die Noord-Kaap gekoppel is, met 'n paar ander wat tans ontwikkel word."
Hy sê hoewel die aanvaarding van GSK-tegnologie stadig was in Suid-Afrika weens politieke belange en wêreldwye tendense, hoë kapitaalkoste en tariewe en politici se gebrek aan begrip vir die waarde van GSK-tegnologie, kan die proses versnel word deur verbeterde navorsing, ontwikkeling en demonstrasie-aanlegte.
“Verbeterde navorsing en ontwikkeling sal help om platforms te skep waardeur GSK vermeng kan word met ander vorme van hernubare energie-tegnologie om 'n drastiese toename in die aanvaarding van GSK te bewerkstellig.
“Strategiese beleidsrigtings, wette en die regte befondsing vir navorsing kan Suid-Afrika help om die potensiaal van sy GSK-hulpbronne maksikmaal te benut om sodoende die koste van sy sonkrag-innovasies te verlaag en die lewensvatbaarheid daarvan te bevorder."
Craig meen die regering behoort plaaslike nywerhede se deelname aan te moedig deur die aantal megawatt wat aan GSK in die Hernubare Energie Onafhanklike Elektrisiteitsverskaffersprogram toegedeel is te verhoog, aangesien dit mededinging sal verhoog en uiteindelik die tariefkoste sal verlaag.
Hy glo Suid-Afrika kan 'n wêreldleier op die gebied van die vervaardiging van GSK-tegnologie en ander GSK-verwante dienste word. “Maar vir dit om te gebeur, moet GSK weer by die IRP gevoeg word," meen Craig.
Hy sê die algemene publiek, akademici, beleidmakers, konsultante en onafhanklike energieverskaffers sal die meeste by sy navorsing baat.
- Hooffoto: Die Khi-aanleg in die Noord-Kaap. Krediet: Wikimedia Commons
- Foto 1: Dr Toyosi Craig by die gradeplegtigheid.
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Toyosi Craig
Projekbestuurder, AEE Power
Plaza Manuel Gomez Moreno 2
28020 Madrid
E-pos: [email protected]
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: [email protected]