
Zika geen bedreiging vir Suid-Afrikaanse bevolking
Suid-Afrika het 'n baie skraal kans om 'n Zika-koors uitbreking te hê soortgelyk aan dit wat tans in Brasilië ervaar word.
Hierdie virale infeksie word oorgedra deur 'n spesie van die Aedes aegypti-muskiet wat nie inheems is aan Suid-Afrika nie, het prof Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes tydens 'n onlangse Zika-simposium by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch gesê.
"Die Aedes aegypti-muskiet wat mens in sekere dele van die land kry verkies die buitelug en het nie 'n aptyt vir mensbloed nie," het Blumberg, wat ook 'n Buitengewone Professor aan die FGGW se Sentrum vir Infeksiesiektes (CID) is, gesê.
Zika-koors veroorsaak verkoue-simptome en word nie juis as gevaarlik beskou vir die persoon wat dit onder lede het nie, maar dit veroorsaak moontlik gebreke in babas wie se ma's Zika-koors tydens swangerskap gehad het, het dr Jantjie Taljaard, hoof van die FGGW se Afdeling Infeksiesiektes, verduidelik.
"Vier uit elke vyf gevalle van Zika-infeksie het geen simptome nie, maar die minderheid van mense wat wel simptome kry mag dalk matige koors, veluitslag, gewrig- en spierpyn, hoofpyn of ander nie-spesifieke simptome ontwikkel wat binne 'n paar dae opklaar," het Taljaard gesê.
Alhoewel Zika-infeksie nie gewoonlik lewensbedreigend is nie, word daar vermoed dat dit ernstige komplikasies kan inhou vir die babas van moeders wat die infeksie opdoen tydens swangerskap.
"Alhoewel dit nog nie bevestig is nie, is daar toenemend bewyse dat Zika mikrokefalie veroorsaak – dit is 'n toestand wat veroorsaak dat 'n kind 'n aansienlik kleiner kop-omtrek het as ander kinders van dieselfde geslag en ouderdom," het dr Mike Urban van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die FGGW verduidelik. "Kinders met hierdie toestand het 'n groot kans vir intellektuele gestremdheid."
Mikrokefalie kom gewoonlik in een of twee kinders uit elke 10 000 voor, maar in areas van Brasilië waar die Zika-uitbrekings voorkom het die voorkoms van mikrokefalie toegeneem tot 20 gevalle per 10 000 kinders, het hy gesê.
Volgens prof Wolfgang Preiser, hoof van die FGGW se Afdeling Geneeskundige Virologie, ontwikkel 'n mens immuniteit teen Zika nadat jy die virus opgedoen het.
"Ons glo dat die uitbreking in Brasilië so ernstig was omdat hierdie gebied nog nie voorheen deur die siekte geraak is nie en daarom het die bevolking geen immuniteit daarteen gehad nie," het Preiser gesê.
Zika is vir die eerste keer bespeur in 'n makaak-apie in Uganda se Ziika-oerwoud in 1947 en dit is vyf jaar later in 1952 in mense bespeur. Sedertdien is die virus al in verskeie Afrikalande bespeur en in 2007 is dit vir die eerste keer buite die kontinent opgemerk op die Yap-eiland in Mikronesië. Teen 2013 het dit aanbeweeg tot by Tahiti in Franse Polinesië, in 2014 het dit Nieu-Caledonië in die Cook-eilande bereik, en in 2015 is dit bespeur in die Paaseilande en Brasilië in Suid-Amerika.
Foto-opskrif:
Van links-na-regs: Prof Wolfgang Preiser en dr Jantjie Taljaard van die Sentrum vir Infeksiesiektes (CID) aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch; (voor) prof Lucille Blumberg van die Nasionale Insituut vir Oordraagbare Siektes en die FGGW; prof Jean Nachega van die CID en die FGGW en dr Mike Urban van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika van die FGGW.