
WOW vir WOW!
Wow! Dít is 'n mens se spontane reaksie by die aanhoor van al die opwindende projekte wat Woorde Open Wêrelde (WOW) by vanjaar se US Woordfees aangepak het.
Fiona van Kerwel, WOW-projektebestuurder, en Shireen Crotz, die Sanlam WOW Spelfees-koördineerder, het die talle opwindende aktiwiteite uitgelig van die vol WOW-program wat Saterdag 5 Maart afgeskop het.
Meer as 1 500 matrieks het 'n opvoedkundige program by Coetzenburg bygewoon waar van senior studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, vakadviseurs van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement tot 'n adviseur van studentewerwing van die US die jongelinge toegerus met onder meer inligting oor hul derde Afrikaanse vraestel, syfervaardigheid en toegang tot die US.
Die jong mense kon inspirasie put uit boodskappe van dr Japie Gouws van die ATKV en prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, asook die akteurs Irshaad Ally van Suidooster en Hildegard Whites van 7de Laan.
WOW het ook 'n werkwinkel en ontbyt vir 320 Afrikaanse taal-onderwysers van oor die hele Wes-Kaap heen aangebied. Hulle is verwelkom deur prof Nico Koopman, waarnemende Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en het 'n skrywersgespek tussen WOW-leerders en Nasionale Boekhandel-skrywer Carin Krahtz oor haar jeugboek Elton amper famous April en juffrou Brom meegemaak, en is ook deur die aktrise Marion Holm vermaak.
'n Skoolmediakursus is ook Saterdag vir 250 leerders van 25 skole by Coetzenburg aangebied waar skoolkoerantredaksies nuttige wenke gekry het oor hoe om hul skoolkoerant interessant en prakties aan te pak. Dit was ook die afskop van die jaarprogram vir skoolkoerante waaraan opwindende pryse en studiebeurse gekoppel is.
By die Verf-en-Vers-werksessie vir 250 graad 5-leerders wat by St Idas Primêr in Idasvallei gehou is, is leerders aangemoedig om 'n gedig te skryf en te versier, wat in aanmerking vir WOW se jaarlikse Verf-en-vers-kompetisies sal kom.
Gedurende die week is 'n skrywersfees elke oggend in die JS Gericke-ouditorium deur Lapa aangebied. Theresa van Baalen het haar boek, Karla Krullebol, aan graad 3 WOW-leerders bekend gestel, terwyl Fanie Viljoen die Lulu-reeks vir gr 4- en 5-leerders, en Anzil Kulsen, skrywer en fasiliteerder van die ATKV se gemeenskapsprojek vir lees- en skryfbevordering in die Noord-Kaap, haar boek, 'n Hart vol Sand, aan graad 8- tot 10-leerders aangebied het.
'n Simposium vir grondslagfasegeletterdheid is by Cloetesville Primêr gehou, waar Henk Viljoen 'n aanbieding oor NB-Uitgewers se Alles in Een-reeks vir die grondslagfase gedoen en Helena Bester haar kennis oor ADHD met onderwysers gedeel het.
Die landwye Spelfees vir graad 1 tot 10 wat tot Oktober duur, het ook by die Woordfees afgeskop.
Nog is het einde niet. Saterdag 12 Maart word die Debatfees, in samewerking met die ATKV, vir Wes-Kaapse skole aangebied. Die WOW-toneelwerksessie is gemik op hoërskool aspirant-akteurs en dramaturge, en 'n koorkompetisie word van stapel gestuur met 'n werkwinkel vir kooropleiers by die US Konservatorium.
Sondag 13 Maart kan jy jou spelvermoë kom toets teen wenners van die Sanlam WOW-spelkompetisie by WOW Op die Spel in die ATKV Boektent om 13:00.
En ten slotte, vind die uitdunne van die ATKV Crescendo-liedjieskrywerskompetisie, aangebied in samewerking met WOW, Vrydag en Saterdag plaas, met die finale om 15:30 in die stadsaal, wat ook die WOW-projekte by die US Woordfees amptelik afsluit.
Woensdag het 'n ontspanne Van Kerwel te midde van al die WOW-bedrywighede haar tevredenheid te kenne gegee met die verloop van hul program by die Woordfees. "Die onderwysers het geleer op 'n feestelike manier en vir die kinders was dit 'n openbaring. Baie van hulle was onbewus van die moontlikheid dat hulle eendag op Stellenbosch sal kan studeer."