Skip to main content
WOW bied vol program op US Woordfees

WOW bied vol program op US Woordfees

Elsabé Retief
06 Maart 2017

Woorde Open Wêrelde (WOW) bied op vanjaar se US Woordfees voorwaar iets vir almal ­­– van oud tot jonk!

Die WOW-fees het Saterdag (4 Maart) by Coetzenburg afgeskop met ʼn heerlike karnaval vir die hele familie. Dieselfde dag het WOW ook verskeie projekte aangebied: die Universiteit Stellenbosch (US) is bekend gestel aan altesame 1 500 matrikulante van regoor die Wes-Kaap om hulle aan te moedig om verder te studeer; 'n spesiale dag is gehou vir onderwysers gevul met opleiding en wenke om leerders speel-speel te kry om te lees; ʼn skoolmedia-slypskool in samewerking met Media24 is aangebied; en die Verf- en Vers-slypskool, in samewerking met NB-Uitgewers, is aangebied vir leerders waar dig- en verf-aktiwiteite aan 'n storieboek en die Woordfees-tema, "Wys", gekoppel is.

Shireen Crotz, die Sanlam WOW Spelfees-koördineerder, is veral opgewonde oor vanjaar se WOW Skrywersfees. "Dit geskied oor vier dae, van Maandag tot Donderdag (6 tot 9 Maart), en elke dag word sowat 50 leerders en tien onderwysers daarby betrek.

Woensdag (8 Maart) sal nie minder nie as 120 leerders opdaag vir die skrywersfees – almal lede van die WOW Leeskring wat die vorige jaar die boeke gelees het wat by die Skrywerfees behandel is. Die vorige jaar was leerders by die fees se boek een van die ATK se genomineerde kinder- en jeugboeke.

"Van Dinsdag tot Donderdag (7 tot 9 Maart) bied ons drie taalwerksessies aan vir onderwysers om leerders in die intermediêre fase besig te hou met lekkerleesstories, en in die senior fase word gewys hoe om taalhandboeke en woordeboeke vir heerlike taalspeletjies in te span. Ook die letterkunde bly nie agterweë nie, en ons wys onderwysers hoe om digkuns en prosa kreatief aan te bied," vertel Crotz.

In samewerking met die Vriende van Afrikaans word ʼn WOW-Voorlees-slypskool aangebied om van leerders boekwurms te maak.

Saam met die ATKV word ʼn toneelslypskool gehou waar 220 laer- en hoërskoolleerders bekend gestel aan die wêreld van toneelspel, regie en die skryf van tekste. Die vereistes van die ATKV Tienertoneelfees, wat in Mei afskop, word ook uiteengesit.

Dan is daar ook die WOW Debatfees waaraan nie minder nie as 36 spanne van die Wes- en Oos-Kaap in verskeie kategorieë sal deelneem.

Vir meer inligting oor WOW en hul aktiwiteite tydens Woordfees besoek www.woordfees.co.za.