
#WomenofSU – Fokus op Nicolette van den Eijkel
Nicolette van den Eijkel staan vir geen uitdaging terug nie.
Of dit nou die bestuur van nuwe bouprojekte is, of om te verseker dat studente toegang het tot fasilteite wat hul sal help om suksesvol te wees, van den Eijkel speel 'n sleutelrol in die dag-tot-dag bestuur van die Universiteit Stellenbosch. As Hoofdirekteur van Fasiliteitsbestuur het sy omvattende ervaring in die fasiliteitsbestuursektor en het sy al verskeie top posisies in die openbare- en private sektor beklee.
As deel van die US se Vrouemaand-vieringe, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met van den Eijkel oor haar loopbaansukses gepraat.
Jy het 'n baie suksesvolle loopbaan. Jy was voorsitter van die Suid-Afrikaanse Fasiliteitsbestuurvereniging en het verskeie posisies in die openbare en privaatsektor beklee. Waaraan skryf jy hierdie sukses toe?
Ek het deur my loopbaan al verskeie rolle vervul en was bevoorreg om verskeie uitdagende poste te beklee, wat opwindend en motiverend was. Te danke aan hierdie verskeidenheid in my agtergrond, kon ek altyd 'n vars perspektief bring na die spanne wat ek lei en ek dink baie sukses le daarin opgesluit. Ek het verseker nie op my eie sukses behaal nie, ek probeer altyd spanne help om hul beste te bereik.
Wat motiveer jou?
Ek glo nie aan middelmatigheid nie. Ek probeer om elke dag my beste te gee.
Ek word ook gemotiveer deur die wete dat my rol by fasiliteitsbestuur 'n positiewe verskil in die lewens van student en personeel kan maak. As ek my werk goed doen, sal studente en personeel 'n beter leer- en werkservaring hê.
Wie inspireer jou en hoekom?
Vroeg in my loopbaan het ek 'n manlike bestuurder gehad wat waarskynlik sy tyd vooruit was. Dit was in die 1980's en hy het afrigting en mentorskap aangemoedig. Hy het met sy voorbeeld gelei en gewys dat sukses van jouself afhang en nie van ras of geslag afhang nie. Hy het nie diskrimminasie geduld nie en het my aangemoedig om uit te styg, my nie aan seksisme te steur nie en te bereik wat ek moet. Dit was goeie raad.
Ek word ook geinspireer deur die sterk vroue om my. Gewone vroue wat wonderwerke verrig omdat hulle nie toelaat dat enigiets hul terughou of verhoed om sukses te behaal nie.
Het jy enige raad vir jong vroue wat 'n loopbaan in fasiliteitsbestuur beoog?
In fasiliteitsbestuur laat ons dikwels toe dat mense ons soos steundienspersoneel behandel. Die realiteit is egter dat 'n organisasie nie kan funksioneer sonder effektiewe fasiliteitsbestuur nie. Ons moet verseker dat ons altyd soos professionele mense optree wat ons rol in en bydra tot die organisasie verstaan. Base, kollegas en diensverskaffers behoort ons as niks minder as ervare kundiges te behandel nie. Om 'n fasiliteitsbestuurder te wees verg baie vaardighede – van beplanning en finansiele bestuur tot veranderings- en mensebestuur. Hierdie is vaardighede wat baie vroue die werkplek kan bied. Wees selfversekerd, professioneel en wys jou staal.