
#WomenofSU – Fokus op Dr Ronel Retief
Dr Ronel Retief is 'n baanbreker. Aan die begin van die jaar het sy amptelik die posisie as Registrateur by die Universiteit Stellenbosch (US) ingeneem, wat haar die eerste vrou by die instelling maak om hierdie sleutelrol te beklee.
Retief spog met 'n uitstekende akademiese rekord, omvangryke ervaring en sy speel 'n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse hoër onderwyssektor waar sy insette in plasingstoetse, keuringsgeleenthede, akademiese administrasie en studente-ondersteuning lewer. As deel van die Vrouemaand-vieringe, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met haar gesels oor haar loopbaansukses.
Jy het 'n suksesvolle loopbaan en het al oor die jare verskeie posisies beklee. Jy was Adjunk Registrateur by die Tygerberg-kampus en is die eerste vrou wat die posisie as Registrateur aan die US beklee. Waaraan skryf jy jou sukses toe?
Ek ondersteun Malcolm Gladwell se teorie in Outliers dat daar nie iets soos 'n selfgemaakte mens bestaan nie. Ek het ondersteunende, akademies ingestelde ouers gehad, en onderwysers, familie en vriende wat my aangemoedig het om uit te blink in alles wat ek aangepak het.
Onlangs het ek besef wat 'n gawe 'n lewensmaat (in my geval, my man) is wat in my vermoëns glo en my nooit ooit terughou nie. Ek moet daarom my loopbaanvordering tot dusver toeskryf aan die mense en omstandighede wat dit vir my moontlik gemaak het om die geleenthede wat oor my pad gekom het, na te jaag.
Wat motiveer jou?
Uitdagings en die vind van oplossings deur samewerking met ander, motiveer my geweldig. Ek hou van die dinamiek en uiteenlopende insigte wat individue na 'n span bring. My posisie bied my die geleentheid om met 'n verskeidenheid mense saam te werk, insluitende studente, en ek word gemotiveer deur die gedagte dat ek dalk 'n verskil in hul lewens kan maak.
Is daar enige vroue wat jou inspireer en waarom?
Ek sou sê my ma. Sy is een van die mees veerkragtige, positiewe mense wat ek ken. Sy verdra nie juis selfbejammering nie en het ons altyd aangemoedig om na buite onsself te kyk en die behoeftes van ander eerste te stel. Ek bewonder ook hoe oopkop sy is – sy veroordeel nie en gee hul altyd die voordeel van die twyfel. Sy is heeltemal onselfsugtig, sonder om haarself te verloor. As ek 'n bietjie soos sy kan wees, sal ek voel ek het iets merkwaardig bereik.
Ek word ook daagliks geïnspireer deur vroue wat oor my pad kom – sommige is kollegas, ander studente, baie is vriende. Ek bewonder vroue wat wys is en die gawe het om betekenisvol met ander om te gaan, net soveel soos ek begeester word deur dié met 'n sin vir humor en die vermoë om perspektief te behou.
Het jy enige raad vir vrouestudente aan die US?
Wees oop vir geleenthede en die moontlikhede wat dit inhou. Wees trots op jou werk, selfs al is dit nie iets waaroor jy passievol voel nie. Bemagtig ander op jou pad boontoe - dit is waarlik bevrydend om erkenning te gee en, anders as wat algemeen beweer word, neem dit niks van jou af weg nie.