Skip to main content
Wêreld Premature Dag: Voeding vir die vroeggebore baba

Wêreld Premature Dag: Voeding vir die vroeggebore baba

FMHS Marketing & Communications
16 November 2016

Wêreld Premature Dag, wat op 17 November herdenk word, vier die lewens van premature babas en skep bewustheid van hierdie toestand.

"Na raming word 15 miljoen babas elke jaar te vroeg gebore – dit is gelykstaande aan meer as een uit elke 10 babas!" sê dr Evette van Niekerk, 'n navorser aan die Afdeling Menslike Voeding by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch.

Premature babas word gebore voor 34 weke van swangerskap en weens komplikasies is sterftesyfers hoog in hierdie groep. Baie van die babas wat oorleef word deur 'n leeftyd van gestremdheid in die gesig gestaar, insluitend leergestremdhede en sig- en gehoorprobleme. Van Niekerk verduidelik dat vroeggebore babas veral kwesbaar is in omgewings met beperkte hulpbronne en in ontwikkelende lande weens 'n tekort aan praktiese, goedkoop sorgmiddels soos warmte, ondersteuning vir borsvoeding, en basiese sorg vir mediese- en asemhalingsprobleme.

"Voeding speel 'n belangrike rol in die oorlewing van premature babas. Maar weens die onvoltooide ontwikkeling van die ingewande, kan baie van hierdie babas nie enterale voeding hanteer nie," sê Van Niekerk. (Enterale voeding verwys na die lewering van voedingswaardig-volledige voedsel direk na die maag).

Vroeggebore babas het meer voedingsbehoeftes as babas wat na 'n volle swangerskapstermyn gebore word. Om 'n "normale" groeikoers te bereik en breinontwikkeling en langtermyn-gesondheid te bevorder, moet vroeggebore babas verkieslik dieselfde lewering van voedingstowwe ontvang as wat hulle intra-uteriene sou gekry het.

Ongelukkig dui data vanoor die wêreld daarop dat daar 'n agterstand is in die tipiese groeikoers van vroeggebore babas in vergelyking met normale fetale groei, veral in dié wat baie vroeg gebore word en dié met die laagste geboortegewig. Die algemeenste oorsake vir beperkte groei na geboorte is onvoldoende voeding, voedselintoleransie, en kritieke siektes.

"Borsmelk geniet wye erkenning as die optimale kos vir voltermyn- en vroeggebore babas. Die verskeie voordele van borsmelk sluit in die vroeë bereiking van enterale voeding, die voorkoms van aktiewe ensieme wat help met die maturasie van die onvolgroeide dermkanaal, en agente wat infeksie teenwerk en pasgebore babas beskerm. Die gebruik van borsmelk word sterk aanbeveel in neonatale eenhede," sê Van Niekerk.

Borsmelk bevat ook komplekse melkstysels, genaamd menslike melk-oligosakkariede (MMO), wat die kanse vir die ontwikkeling van 'n ernstige toestand, genaamd nekrotiserende enterokolitis (NEK), wat algemeen in vroeggebore babas voorkom, verlaag.

"Borsvoeding na geboorte in omgewings met beperkte hulpbronne en ontwikkelende lande soos Suid-Afrika kan ondersteun word deur die praktyk van kangaroe-moedersorg in neonatale eenhede. Kangaroe-moedersorg is 'n tegniek wat op pasgebore babas toegepas word en behels dat die baba deur 'n volwassene vasgehou word met vel-tot-vel aanraking. Dit het verskeie gesondheidsvoordele vir moeder en kind, ondermeer verbeterde liggaamsafmetings, beter borsvoeding, en moeder-tevredenheid," sê Van Niekerk.

Sy sluit af met die woorde van Vassilios Fanos: "Menslike melk is daartoe in staat om baie siektes te voorkom. Die eerste paar oomblike van die lewe is baie belangrik vir 'n individu se toekoms: dit word gewoonlik herken as die eerste asem in die longe, maar dit is ook waar vir ander organe, en veral die ingewande ('die eerste maaltyd is soos die eerste asem')."1

  1. Fanos V. Metabolomics, milk-oriented microbiota (MOM) and multipotent stem cells: the future of research on breast milk. Journal of Pediatric and Neonatal Individualized Medicine. 2015 Mar 2;4(1):e040115.