
#VrouevanUS: Vroue blink uit
Dinamies, doelgerig en vroulik.
By die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het die geslagsprofiel oor die jare aansienlik verander. ʼn Stewige persentasie vroue bevind hulle tans óf in senior navorsingsposisies óf is oënskynlik onstuitbaar op pad na die boonste sport van die leer.
Onder die baie uitblinkers is 8 vroue wat as top-navorsers gereken word met ʼn Scopus h-indeks hoër as 25. Daarbewenens word 4 van die 5 SARChI-leerstoele aan die FGGW deur vroue beklee, staan 6 vroue aan die hoof van navorsingsinstellings en is meer as die helfte van alle na-doktorale genote vroue.
Tog, sê prof Marietjie de Villiers, van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, is daar bepaalde uitdagings vir vroue in navorsing. “Een hiervan is om met kinders jou loopbaan sonder verposing te bevorder. Jy moet van die begin af voltyds in die laboratorium wees en begin publiseer. Op die ou einde word jy op grond van jou publikasierekord as navorser gereken."
Dit is ook ʼn kwessie waaroor prof Nulda Beyers, voormalige direkteur van die Desmond Tutu TB Sentrum, sterk voel. “Mans en vroue moet hulle sáám beywer vir die reg om kinders werk toe te bring. Dit moet as ʼn gesins- of kinderreg beskou word en nié net as ʼn vrouereg nie."
Prof Eileen Hoal van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika sluit hierby aan. “Die situasie vir vroue is beslis beter as wat dit in die vorige eeu was, maar ons kan vir seker nie op ons louere rus nie. In hierdie stadium is al die fakulteite aan die US ewe skuldig daaraan dat daar geen kindersorggeriewe is nie en die FGGW het eers onlangs 'n borsvoedingsfasiliteit gevestig."
Wat sê van die jong, vroulike uitblinkers oor hul prestasies en die glasplafon-kwessie?
Dr Stefanie Malan-Müller is ʼn na-doktorale genoot aan die Departement Psigiatrie.
Sy het haar PhD behaal met ʼn psigiatriese genetiese studie waarin geen-uitdrukking en epigenetika op 'n multiomics-vlak ondersoek is om vas te stel hoe die oorspronklike teen-tuberkulosemiddel, D-cycloserine, help met angsvermindering in 'n dieremodel van posttraumatiese stres. Dis al in mense ondersoek en suksesvol gebruik vir die behandeling van verskeie angsversteurings, maar die werking op molekulêre vlak was nog nie presies vasgestel nie. Sy het bevind dat dit grotendeels 'n anti-inflammatoriese effek in die brein meegebring en ook gene gereguleer het wat betrokke is by leerprosesse en geheue.
Vir haar na-doktorale navorsing fokus Malan-Müller op ʼn subprojek van die “Shared Roots"-vlagskipprojek van die Mediese Navorsingsraad, waarin die mikrobioom van die ingewande van pasiënte met posttraumatiese stresversteuring, asook van kontrolegroepe, bestudeer word om te bepaal of daar verskille in hul mikrobiome is wat ʼn rol in dié siekte kan speel. Hul bevindings is onlangs in die joernaal Psychosomatic Medicine gepubliseer. Sy en haar studieleiers, profs Sian Hemmings en Soraya Seedat, is tans besig met die daarstelling van ʼn nasionale inisiatief wat die mikrobioom van die ingewande in die neurowetenskap sal ondersoek.
In haar tyd aan die FGGW het sy 13 navorsingsartikels en ʼn boek-hoofstuk gepubliseer. “Ek sou graag eendag as senior navorser 'n oorsigrol oor 'n nagraadse studentenavorsingsgroep wou vervul."
Wat die glasplafon-kwessie betref, meen sy dat vroue op haar gebied – selfs as sy wyer as die FGGW kyk – in die algemeen in ʼn meer bevoorregte posisie is omdat daar sekere beurse is waarvoor net hulle aansoek kan doen. "Daar word baie hard probeer om aan vroue geleenthede te gee. Ek glo mens moet proaktief wees, geleenthede aangryp en dinge láát gebeur. Ofskoon ek meen dat die finansiering vir na-doktorale genote aan die kwyn is – en dit is kommerwekkend – dwing dit ons om kreatief te wees in ons soeke om finansiering vir navorsing te bekom."
Malan-Müller het groot bewondering vir haar studieleiers: die "formidabele" Seedat – hoof van die Departement Psigiatrie – en die toegewyde Hemmings.
Me Lieketseng Ned is ʼn lektor by die Sentrum vir Rehabilitasiestudies en ʼn PhD-student aan die Departement Globale Gesondheid.
“Terwyl ons die 1956-optog van sowat 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria herdenk, en as ʼn ontluikende navorser, kan ek nie anders as om na te dink oor die status van vroue in verskillende omgewings van die samelewing nie, insluitende die akademiese ruimte waarin ek myself bevind.
"Reusestappe is gedoen wat die bevryding van vroue in verskillende vorme ondersteun het, met meer finansieringsgeleenthede wat voorkeur aan vroue verleen en meer rolle in die akademie wat nou deur vroue gevul word. Hierdie ondersteunende werksomgewing het my in staat gestel om toegang tot geleenthede vir persoonlike én professionele ontwikkeling te verkry, vir finansiering en die geleentheid om my stem daarbuite te laat hoor om tot die ontwikkeling en versterking van gestremdheid en rehabilitasie as ʼn vakgebied by te dra," sê Ned.
Volgens haar sluit van haar tasbare doelwitte en prestasies in die aanpak van haar PhD-studies aan die US. Dit fokus op die potensiële relevansie van inheemse kennisstelsels in ons huidige onderwysstelsel “om tot die gesondheid en welsyn van my mense – die inheemse mense in landlike gebede – by te dra. Hierdie fokus beteken baie vir my as 'n jong, landelike vrou wat waarde aan inheemse gemeenskappe en hul kennisstelsels heg."
Volgens Ned was sy gelukkig om 'n Ththuka-beurs van die Nasionale Navorsingstigting te bekom, wat haar in staat stel om haar doktorsgraad te doen. “Danksy hierdie finansiering kon ek twee vroue met beurse vir hul nagraadse studies in gestremdheid en rehabilitasie ondersteun. Die finansieringsgeleenthede vir jong vroue in die Fakulteit het ook baie gehelp om die bykomende kostes vir my PhD te betaal. Ek was byvoorbeeld die afgelope twee jaar 'n begunstigde van die Early Research Career-finansiering, wat my in staat gestel het om saam met twee jong vroue te werk wat met my navorsing gehelp het – die een met data-insameling en die ander met die transkribering en vertaling van onderhoude. Dit was vir my betekenisvol omdat dit belangrik is dat vroue mekaar in 'n manlike-oorheerste samelewing ondersteun. Dit is veral as 'n swart vrou vir my van belang in die lig van die veelvuldige stryde wat ons in ʼn wit-oorheerste ruimte in die gesig staar."
Volgens Ned sluit van haar belangstellings in die akademiese ruimte in die skepping van geleenthede vir meer vroue (swart, landelik, gestremd) om die ruimte te betree waar oor gestremdheid geteoritiseer word en om gestremdheidstudies met swartwees-studies te verbind.
"Ons het meer ingewydes nodig – mense wat hierdie ervaring van die verband tussen armoede en gestremdheid lééf, wat begin navors en teoretiseer oor gestremheid en rehabilitasie – en nie mense wat op kundigheid op die gebied aanspraak maak, maar geen ervaring hoegenaamd het nie. Hierdie 'kundiges' verbruik bloot kennis van gemarginaliseerde gemeenskappe. Dit sal werklik ruimtes vir swart vroue as deel van die transformasie-agenda ontsluit.
"Hierdie kwessies moet geprioritiseer word om 'n nuut geformuleerde narratief moontlik te maak, waarin vrouekwessies nie net 'n skielike golf in Augustus is nie, maar weerspieël word dwarsdeur die tipe projekte en verantwoordelikhede waarby hulle betrokke is."
Ned sê dit was vir haar 'n inspirasie en 'n bemoedigende reis om ander swart vroue as mentors te hê, in hul geselskap te wees en hulle in aksie te sien, "want dit wys dat verandering plaasvind en gee aan my as 'n jonger, ontluikende akademikus 'n stem. Hierdie vroue sluit my studieleiers, mede-profs Gubela Mji en Elelwani Ramugondo, in.
"Ek is seker ander studente van kleur ervaar ook hierdie kragtige uitwerking, omdat hulle diverse verteenwoordiging in hul lesings kan sien. Dit is bemoedigend en bevestig jou wees en jou wording."
Dr Celeste Naude is 'n senior navorser by die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS).
Sy wil as Afrika-navorser relevante, prioriteit-navorsingsvrae op die gebied van voeding in openbare gesondheid vra en deur navorsingsmetodes van 'n hoë gehalte antwoorde hierop vind. “Ek hoop dat hierdie antwoorde besluitnemers met die nodige kennis sal bemagtig om beter besluite te neem om sodoende ongelykheid aan te pak en mense se lewe op ʼn volhoubare manier te verbeter," sê Naude.
“Ek het ek nog nie ʼn sogenaamde glasplafon ervaar of teëgekom nie. Trouens, ek voel ek is goed ondersteun en baie geleenthede gebied om myself en my loopbaan te ontwikkel. Ek het soveel moontlik daarvan gebruik gemaak en met steun en leierskap van mentors en senior bestuur kon ek op die een ná die ander geleentheid bou."
Sy het haar meestersgraad in voeding (cum laude) in twee jaar voltooi en daarna haar PhD (voedingswetenskappe) binne drie jaar, waarna sy as senior navorser aangestel is. Haar akademiese belangstelling en ondervinding sluit die sintese van bewyse in gesondheid en voeding in, asook die oordrag van kennis en bewysgebaseerde besluitneming in beleid en praktyk in die voedings- en gesondheidswetenkappe.
In 2012 het sy die MNR se Loopbaanontwikkelingstoekenning ontvang. Twee jaar later het sy die toonaangwende ARP Walker-gedenklesing by die tweejaarlikse Nasionale Voedingskongres aangebied. Sy geniet dit om nou saam met talle ander vroue in die nasionale en provinsiale staatsdepartemente te werk, en ondersteuning te bied aan die strategieë wat die gebruik van bewyse in besluitneming bevorder.
In 2015 is sy gevra om een van die mede-redakteurs van die Cochrane Effective Practice and Organisation of Care Group, in Oxford gebaseer, te wees. Sy is ook ʼn lid van die nasionale gesondheidsdepartement se Ministeriële Komitee oor Mortaliteit en Morbiditeit in Kinders. Sy is die mede-direkteur van Cochrane Voeding, wat in 2016 gevestig is en gedeeltelik in die SBGS gesetel is. Sy is tans mede-voorsitter van Cochrane Fields en ʼn lid van die Cochrane-raad.
In 2016 en 2017 was sy betrokke by die Verenigde Nasies se Voedings- en Landboukundige Organisasie se werkgroep wat implementeringshulpbronne vir nasionale voedselgebaseerde dieetriglyne ontwikkel, asook as ʼn navorser in die Bridge Collaborative, ʼn inisiatief met die visie dat die globale gesondheids-, ontwikkelings- en omgewingsgemeenskappe saamwerk om die hedendaagse komplekse, onderling verbonde uitdagings op te los deur die bewysgebaseerde impak oor hierdie gemeenskappe heen te oorbrug.
Onder die vroue wat sy bewonder, is die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, mev Michelle Obama, vir haar “Lets Move"-inisiatief wat daarop gemik is om binne ʼn generasie antwoorde op die uitdaging van kinderobesiteit te vind. Nog rolmodelle is me Thuli Madonsela (voormalige Openbare Beskermer) en vroue wat hulle vir die bevordering van bewaring beywer, soos wyle dr Wangari Maathai en haar Green Belt Movement.
Onderskrif: Dr Stefanie Malan-Müller, me Lieketseng Ned en dr Celeste Naude.
Fotos: Stefen Els