
Vroedvroue speel ʼn belangrike rol in moeder- en kindergesondheid
Vroedvroue in die Wes-Kaap het hulle rol in gesondheidsorg van moeders en babas gevier tydens ʼn geleentheid wat op 3 Mei by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is. Die Afdeling Verpleegkunde het die geleentheid gereël in aanloop tot die Internasionale Dag van die Vroedvrou wat op 5 Mei 2016 herdenk word. Vanjaar se tema is "Vroue en pasgeborenes: die hart van die praktyk van die vroedvrou".
Volgens dr Doreen M'Rithaa, Hoof van Verloskunde en Neonatale Verpleegkunde in die Afdeling Verpleegkunde van die FGGW, het sowat 400 vroedvroue, studente en ander belanghebbendes die geleentheid bygewoon waar onderwerpe soos die welwees van vroedvroue, hulle finansiële welwees, etiek in verloskunde en die bevordering van vroue se gesondheid bespreek is. Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, het die gehoor toegespreek oor die FGGW se onderrig- en opleidingsaanbod in verpleegkunde oor die afgelope 60 jaar en dr Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, het die rol bespreek wat vroedvroue in die openbare gesondheidsorg van die provinsie vervul.
"Die aanwysers wat ons gebruik om die stand van moeder- en kindergesondheid te meet, is in die Wes-Kaap baie beter as in provinsies in Suid-Afrika," het Mbombo gesê. Die moedersterftesyfer in die Wes-Kaap is 76 per 100 000 lewendige geboortes, terwyl die nasionale gemiddeld 158.3 per 100 000 lewendige geboortes is. "Dit kan grootliks toegeskryf word aan die uitstekende werk deur die ongeveer 700 vroedvroue in die openbare gesondheidsorgsektor in die provinsie."
"Ongeveer 50 persent van geboortes in distrikte en landelike omgewings word deur vroedvroue hanteer en ons moet dus nie die rol van die vroedvrou onderskat nie. Ons benodig meer gekwalifiseerde vroedvroue in afgeleë gebiede waar daar steeds baie sterfgevalle voorkom," het Mbombo gesê.
Volmink het verduidelik dat uitnemende onderrig- en opleidingsprogramme ʼn sleutelrol speel om vroedvroue met die nodige vaardighede toe te rus om vroue en kinders by te staan. "Ek glo die wêreld het vroedvroue nodig, nou meer as ooit. Geboortes bly ongelukkig een van die mees riskante gebeurtenisse vir moeders en kinders, en eerder as ʼn tyd van blydskap en feesviering, bly dit steeds vir te veel mense ʼn tyd van dood en rou."
Hy het genoem dat vroedvroue ʼn belangrike rol kan speel om lewens te red. "Ons het meer van hulle nodig, en hulle benodig beter opleiding en ondersteuning."
Die US kan ʼn belangrike bydrae op hierdie gebied lewer deur gevorderde opleiding aan verpleegkundiges en vroedvroue te bied. Volmink het gesê dat die US op nasionale vlak die voortou neem in terme van die aantal graduandi wat nagraadse diplomas en honneursgrade verwerf in gevorderde verloskunde en neonatale verpleegkunde. Die Honneurs-Baccalaureus Verpleegkunde in Gevorderde Verloskunde en Neonatale Verpleegkunde het reeds in 1998 begin.
Gedurende die afgelope tien jaar het ʼn totaal van 366 studente vir die Nagraadse Diploma Gevorderde Verloskunde en Neonatologie geregistreer. Die meerderheid van hierdie studente (ʼn totaal van 336) het reeds gekwalifiseer.
Die Afdeling Verpleegkunde het ook in 2011 ʼn program in Basiese Verloskunde begin om meer gekwalifiseerde vroedvroue op te lei. Suksesvolle kandidate van hierdie program kan by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging as vroedvroue registreer. "Ons is trots dat hierdie program oor tyd bestendig gegroei het. Tot dusver het 146 studente die program suksesvol voltooi, en nog 50 studente het in 2016 geregistreer," het Volmink gesê.
Goeie kliniese praktyk verg uitmuntende opleiding, maar dit word ook bevorder deur navorsing. Studente van die Afdeling Verpleegkunde het 30 meestersgrade, waarvan die navorsingstemas spesifiek op die verloskundepraktyk en die versorging van kinders onder die ouderdom van vyf jaar gefokus het, voltooi sedert 2003.
Foto:Prof Jimmy Volmink (Dekaan, FGGW), me Elgoder Bekker (President van die Vereniging van Vroedvroue in Suid-Afrika), prof Anita van der Merwe (Hoof van die Afdeling Verpleegkunde, FGGW), dr Nomafrench Mbombo (Wes-Kaapse Minister van Gesondheid), prof Usuf Chikte (Uitvoerende Hoof van die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe, FGGW) en dr Doreen M'Rithaa (Hoof van Verloskunde en Neonatale Verpleegkunde, FGGW)