Skip to main content
Vooruitgang in mediese navorsing bring nuwe etiese uitdagings

Vooruitgang in mediese navorsing bring nuwe etiese uitdagings

Alec Basson
05 Augustus 2016

Tegnologiese vooruitgang in die gesondheidswetenskappe het nuwe en komplekse etiese uitdagings gebring wat ons die hoof sal moet bied.

Dit was een van die gevolgtrekkings van prof Keymanthri Moodley van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch in haar intreerede op Donderdag (4 Augustus 2016).

"Nuwe biologiese- en inligtingstegnologie het nie net ongekende geleenthede geskep om die mediese wetenskap te bevorder nie, maar het ook komplekse etiese uitdagings in beide kliniese geneeskunde en mediese navorsing gebring," het Moodley gesê.

Sy het twee navorsingsgebiede uitgelig waar hierdie verskynsel waargeneem kan word, naamlik sintetiese biologie (die ontwerp en bou van nuwe biologiese sisteme) en die stoor van data, bloed en menslike weefsel.

Volgens Moodley het die vooruitgang in sintetiese biologie geweldige implikasies vir gesondheidsorg en die biologiese wetenskappe in die algemeen.

"Die potensiaal vir nuwe genetiese navorsing, die ontwikkeling van beter medisyne en die bestuur van weerstandigheid teen konvensionele behandeling is enorm."

Moodley het gesê die stoor van bloed en data in biobanke  ̶  geleë by die kruising van wetenskap, genetika, genoom-studies, die samelewing, etiek, die wet en die politiek  ̶  het belangrik geword  vir mediese navorsers omdat dit enorme transformerende potensiaal het.

Moodley.JPG

"Die stoor van bloed en data in biobanke vir toekomstige navorsing word algemeen as voordelig vir die mensdom beskou."

Moodley het gesê navorsers moet egter ook bewus wees van die ingewikkelde web van etiese en sosiale kompleksiteit wat eie is aan die versameling, berging en toekomstige gebruik van biomonsters.

Sy het ook die aandag gevestig op ander etiese kwessies soos wetenskaplikes wat "God speel", bioveiligheid en biosekuriteit.

"Terwyl ons bly is oor die vooruitgang in die mediese wetenskap, moet ons versigtig wees vir die wyse waarop diegene in die mediese beroep 'God speel' wanneer nuwe vorms van lewe geskep word of DNA gemanipuleer word om siektes uit te skakel."

Moodley meen daar moet op die algemene welsyn van mense gefokus word.

In die verband het sy gewys op die tendens in bio-etiek om van individuele welsyn na solidariteit en wederkerigheid wat die algemene welsyn bevorder te beweeg. Bio-etiek is die studie van moraliteit soos dit op die biologiese wetenskappe, insluitend gesondheidsorg en -navorsing van toepassing is.

Hoewel hierdie skuif uiters belangrik is, gaan dit afhang van die mate waartoe vertroue tussen pasiënte en dokters en tussen navorsers en diegene wat aan navorsing deel neem herstel word, het Moodley gesê.

"Dit is belangrik om die fokus van eiebelang na gemeenskaplike welsyn te verskuif, maar dit sal slegs gebeur as vertroue in die mediese wetenskap herstel word."

Sy het kenners van bio-etiek aangemoedig om sterk voorspraak te maak vir etiese kwessies in alle kontekste waar onreg gedy en om voort te gaan om oor etiese dilemmas te praat en debatte oor kontroversiële maatskaplike uitdagings te bevorder.

  • Foto 1: Pixabay
  • Foto 2: Profs Jimmy Volmink, Dekaan van FGGW, Keymanthri Moodley en Eugene Cloete, Visierektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, by die intreerede.