Skip to main content
Voorste US-onderrigkampioene kry erkenning by OLA-toekenningsplegtigheid

Voorste US-onderrigkampioene kry erkenning by OLA-toekenningsplegtigheid

Corporate Communications and Marketing
03 April 2023

​ʼn Diverse groep akademici van die Universiteit Stellenbosch (US) was die sterre by die toekenningsgeleentheid vir Onderrig-Leer-Assessering (OLA), wat onlangs by die Devonvale Gholf- & Wynlandgoed plaasgevind het. 

In sy verwelkomingsrede het prof Deresh Ramjugernath, Adjunk-visekanselier: Leer en Onderrig, die US se “kampioene" geluk gewens en hul passie vir onderrig en leer in diens van die gemeenskap geloof.

Uitnemendheid in onderrig en leer is van deurslaggwende belang as die US sy visie wil bereik, het Ramjugernath gesê. “Implisiet in ons visie om Afrika se toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te wees, is om uitnemendheid in onderrig en leer te behaal. Dit is ons kern- akademiese strewe."

Die doelwit van die US se Onderrigtoekennings is om die bydrae van akademici te erken wat leierskap in onderrig, leer en assessering in hul vakrigtings en oor die instelling heen bied, en daardeur die akademieskap van OLA by die US bevorder, het Ramjugernath verduidelik.

Die beloning van akademiese personeellede wat in OLA uitblink sal beter praktyke meebring, wat weer ʼn positiewe impak op menslike kapasiteitsbou sal hê, het hy bygevoeg.

Dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer en Onderrigbevordering by die US, het hiermee saamgestem en bygevoeg: “Ons hoop hierdie toekennings sal die vonk wees wat die vuur van vernuwing aansteek en van professionele leer die strategiese spelbreker maak wat ons wil hê dit moet wees."

Die OLA-toekennings word in twee kategorieë verdeel: die Toonaangewende Onderwysvakkundige en die Vakkundige Opvoeder.

Die Toonaangewende Onderwysvakkundige-toekenning is gerig op akademici wat deur publikasies oor hul onderrig- en professionele groei tot die totale OLA-kennis bydra. Hulle bied institusionele, nasionale en internasionale leierskap oor OLA.

Die Vakkundige Opvoeder-toekenning is gerig op akademici wat krities oor hul onderrig- en professionele groei nadink deur uit opvoedkundige literatuur te put en hul onderrig vir waarneming en portuurbeoordeling oopstel.  

Prof Faadiel Essop van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika, Afdeling Mediese Fisiologie, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het ʼn toekenning in die Toonaangewende Onderwysvakkundige-kategorie ontvang. Essop stel kritiese nadenke op die voorgrond as die kern van sy onderrigfilosofie en put uit die manier waarop hy oor beide die aard van realiteit én die bestuur van leer dink.

In die Vakkundige Opvoeder-kategorie het prof Herman Kamper (Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese) en Mareli Rossouw (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) toekennings ontvang.

Kamper se doelwit is om studente in staat te stel om drempel-konsepte te snap en die vaardighede aan te leer waardeur hierdie konsepte toegepas word om regte probleme op te los, terwyl Rossouw meen ons waardes en oortuigings beïnvloed die manier waarop ons onderrig. Haar benadering tot onderrig en leer word dus deur haar persoonlike motiverings van vertroue, persoonlike ontwikkeling, passie en kritiese denke gerig.

Die US se Onderriggenootskappe is nog ʼn manier waardeur die Universiteit aan uitstaande akademici erkenning verleen en hulle beloon. 

Hierdie prestigeryke genootskappe verskaf ʼn geleentheid vir akademici wat onderrig en OLA-skoliere is om vir een tot drie jaar, met verskillende vorme van ondersteuning, te fokus op kurrikulumhernuwing, die verkenning van OLA en die verspreiding van goeie OLA-praktyk in hul departemente en fakulteite.  

Die genootskappe word deur die Universiteitkapasiteitsontwikkelingsplan gefinansier.

Akademici wat tot 2021 onderriggenootskappe beklee het, is prof Elize Archer, prof Elmarie Costandius, dr Berna Gerber, prof Ian Nell, prof Nicola Plastow (2015) en prof Geo Quinot.

Twee US-akademici het vanjaar genootskappe opgeneem: prof Dennis Francis (Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie, Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe) en prof Nicola Plastow (Afdeling Arbeidsterapie, Departement Gesondheid en Rehabilitasiewetenskappe, FGGW). 

Francis se navorsing sal fokus op die rol van anti-onderdrukkende pedagogieë in die aanpak van hindernisse vir onderrig en leer met betrekking tot homofobie en transfobie in sekondêre en hoër onderrig. Plastow sal ʼn gemeenskapsinteraksieprojek ter bevordering van sosiale deelname en beroepsgeregtigheid vir ouer mense in Bishop Lavis vestig en dan die impak daarvan evalueer. Die doelwit van haar genootskap is om kritiese burgerskap by haar studente te ontwikkel deur ʼn diens-leermodel te gebruik.

Drie akademici het hul genootskappe in 2022 voltooi: prof Ingrid Rewitzky (Vise-dekaan: Onderrig en Leer, Fakulteit Wetenskap); prof Marianne Unger (Afdeling Fisioterapie, Departement Gesondheid en Rehabilitasiewetenskappe, FGGW); en dr Marianne McKay (Departement Wingerdbou en Wynkunde, Fakulteit AgriWetenskappe).

Huidige onderrig-genootskapsakademici is dr Taryn Bernard (Uitgebreide Graadprogram, Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe); prof Debby Blaine (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese); dr Marnel Mouton (Departement Botanie en Soölogie, Fakulteit Wetenskap); dr Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe); asook prof Susan van Schalkwyk (Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys, FGGW).  

Die US neem ook deel aan die genootskapprogram vir Onderrigbevordering aan Universiteite (TAU), ʼn nasionale Universiteitkapasiteitsontwikkelingsprogram-intervensie. Die program het ten doel om onderriggehalte en die professionalisering van onderrig en leer in openbare hoër onderrig te bevorder.

Dit behels die professionele ontwikkeling van ʼn groep middel- tot senior vlak akademici van verskillende vakrigtings by alle openbare Suid-Afrikaanse universiteite. Deelnemers, wat almal vakrigtingspesialiste is, word met onderrig en leer in hoër onderwys vertroud gemaak, aan Akademieskap van Onderrig en Leer-navorsing bekend gestel en as agente van verandering geposisioneer. Wanneer hulle die program voltooi het, word hulle toegerus om veranderingsprosesse met betrekking tot onderrig en leer by hul tuisinstellings te lei.

US-akademici wat tot 2022 TAU-genootskappe beklee het, is prof Elmarie Costandius, prof Ian Couper, dr Berna Gerber, prof Ian Nell, prof Geo Quinot, prof Faadiel Essop, prof Ashraf Kagee en dr Marianne McKay. 

Die twee US-akademici wat by die TAU-program vir 2022-'23 aangesluit het, is dr Albert Strever (Departement Wingerdkunde en Wynbou, Fakulteit AgriWetenskappe) en dr Nathi Gule (Departement Elektriese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese). 

Die OLA-toekenningsplegtigheid het ook erkenning van ander OLA-personeelprestasies in 2022 ingesluit, soos die US se Akademieskap van Onderrig en Leer (SoTL)-konferensiepryswenners; ontvangers van die Fonds vir Innovasie en Navorsing oor Leer en Onderrig (Finlo); Eerstejaar-prestasietoekennings; asook akademici wat die Kortkursus oor die Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (SoEL), die SoTL-kortkursus, die Assesseringskortkursus en die Kortkursus oor die Professionele Onderrigontwikkeling van Akademici (Predac) suksesvol voltooi het.