
Voornemende Maties besoek Tygerberg-kampus
Voornemende studente wat in die bevoorregte posisie is om te kan kies by watter universiteit hulle wil studeer vir ʼn loopbaan in gesondheidswetenskappe is deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) uitgenooi vir ʼn kort besoek aan die Tygerberg-kampus gedurende die Oktober-vakansie.
Hierdie werwingsinisiatief, wat bekend staan as die Visit@Tygerberg, is ʼn strategiese inisiatief van die FGGW om diversiteit by die fakulteit te verhoog. "Die doel van die besoek is om voornemende studente te motiveer en inspireer om die Universiteit Stellenbosch hulle eerste keuse te maak," het me Farah Fredericks gesê. Sy is die koördineerder van Studentewerwing en -Ondersteuning by die FGGW.
Die groep van 59 nuut-geselekteerde swart studente het baie geleenthede gehad om met die huidige studente en personeellede te skakel tydens inligtingsessies oor beurse, werkswinkels oor akademiese ondersteuning by die fakulteit en toere na die fasiliteite op kampus.
Die groep het baie positiewe terugvoering gegee, wat gewissel het van "ʼn Ongelooflike ondervinding" tot ʼn meer ernstige "Ek voel dat dit my wanpersepsies oor die Universiteit Stellenbosch uit die weg geruim het en dit het my gehelp om te besluit waar ek volgende jaar sal wees".
Die studente is tydens die besoek vergesel deur Studente-ambassadeurs – hulle is almal huidige studente wat die Visit@Tygerberg bygewoon het toe hulle self moes besluit het waar om te studeer. Hulle is aangemoedig om eerlike en openlike antwoorde te gee op enige vrae en bekommernisse wat die voornemende studente gehad het. Een leerder het genoem dat die ambassadeurs se vriendelikheid en ontferming 'n groot indruk op haar gemaak het.
Die algemene opinie van baie van die besoekende leerders is deur een voornemende student raak opgesom in die terugvoering: "Ek het gevoel dat die ondervinding vir my gewys het wat ek regtig wil van ʼn universiteit verwag. Ek werk nou daaraan om volgende jaar na die Universiteit Stellenbosch te kom. Jipppiee!"