
Voormalige Proteas-kaptein sluit by Maties Netbal-familie aan as afrigter
Netbal is die voormalige Proteas-speler en nuwe Maties-afrigter Zanele Mdodana se passie en sy sien uit daarna om alles wat sy as speler geleer het by haar filosofie oor afrigting te inkorporeer.
Dié sport is 'n intrinsieke deel van haar lewe.
"Netbal het deure vir my oopgeskop en my as persoon gevorm – my karakter en my persoonlikheid. Dit het my die geleentheid gegee om die wêreld deur te reis en mense te ontmoet wat ek nie andersins sou ontmoet het nie. Dit het my geleer presies wie ek is."
Zanele, wat kaptein van sowel die Suid-Afrikaanse o.20- en senior Proteas-span was, het 'n rykdom ervaring danksy haar 85 wedstryde vir die nasionale span.
"Ek was bevoorreg om deur ongelooflike vroue afgerig te word, vroue wat verstaan het dat netbal net 'n instrument is – dat dit verder as net die vier lyne van die baan strek. Dat dit gaan oor die ontwikkeling van die mens en die bemagtiging van 'n jong meisie om nie net 'n uitstaande speler te word nie, maar ook 'n uitstaande persoon."
Sy glo 'n goeie afrigter kan 'n wedstryd verander, maar 'n uitstekende afrigter kan 'n lewe verander – en dít is wat sy graag sou wou bereik.
Zanele se toetrede tot afrigting het by verskeie skole in die Port Elizabeth-omgewing begin en sy het in 2014 by die afrigtingspan van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) aangesluit. Sy het die Oostelike Provinsie se o.21-span afgerig wat 'n bronsmedalje in 2015/2016 verower het en is medeafrigter vir die SA o.19-span wat in Desember in Angola gaan deelneem.
Zanele, wat haar hele lewe lank in die Oos-Kaap gebly het, verlaat haar gemaksone op meer as een manier, maar sy is gereed vir dié uitdaging.
"Ek is 'n mens wat daarvan hou om uitgedaag te word en ek glo verandering in 'n mens se lewe is belangrik. Ek gryp hierdie geleentheid aan met alles wat ek het en alles wat ek is omdat ek dít gaan doen waarvoor ek lief is en dít wat ek glo ek gebore is om te doen."
Die pos as hoofafrigter by Maties Netbal gaan, vir die eerste keer, 'n voltydse pos wees.
"Ek sien uit daarna om 'n baie oop en beleefde verhouding met die spelers te hê want ek was 'n speler en ek weet presies waardeur hulle gaan. Ek is nog vars van die baan af en ek kan met hulle identifiseer.
"Maties het uitstekende talent en kry wonderlike ondersteuning van bestuur. Hulle het 'n fantastiese ondersteuningsbasis en professionele opset. Die spelers is baie gedissiplineer en dit is deurslaggewend vir sukses. Met hierdie belangrike komponente wat dus reeds ingeburger is, is daar net een of twee dinge vir my om op te fokus."
Zanele het baie respek vir haar voorganger, Christine Behan.
"Sy het 'n baie goeie grondslag gelê en die standaard is besonder hoog. Ek het enorme skoene om te vul, maar ek weet ek het haar steun en dit maak dit net soveel makliker."