Skip to main content
Vermorsing van publiek se geld ’n bedreiging vir demokrasie – OG

Vermorsing van publiek se geld ’n bedreiging vir demokrasie – OG

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
30 Augustus 2019

Die vermorsing van reusebedrae van die publiek se geld en 'n gebrek aan nagevolge vir slegte gedrag lei uiteindelik tot burgerlike aksie soos wydverspreide protesoptogte oor die regering se onvermoë om sy beloftes na te kom. Dit was die boodskap van Kimi Makwetu, ouditeurgeneraal (OG) van Suid-Afrika, Donderdag (29 Augustus 2019) op Stellenbosch. Hy het die jaarlikse Menseregte-lesing van die Fakulteit Regsgeleerdheid by die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer. Die geleentheid is deur die HF Oppenheimer-leerstoel vir Menseregtereg aangebied.

Makwetu het in sy toespraak gesê die oudit van regerings- en openbare entiteite het getoon dat onreëlmatige besteding oor die tien-jaar tydperk sedert die 2008–09 finansiële jaar dramaties gestyg het tot R390 miljard.

“In hierdie tydperk het onreëlmatige besteding op plaaslike regeringsvlak sewe keer vermeerder van R3 miljard in 2008–09 tot R21 miljard in 2017–18, terwyl dit op nasionale en provinsiale regeringsvlakke 50 keer meer geword en van R1 miljard in 2008–09 tot R59 miljard in 2017–18 gestyg het."

Hy het ook daarop gewys dat die aantal nasionale en provinsiale regeringsinstellings wat skoon oudits ontvang het, rondom 30% huiwer, terwyl skaars 15–20% van die land se munisipaliteite skoon oudits behaal het.

Makwetu het gesê indien hierdie swak oudituitslae, wat dui op verantwoordbaarheid wat faal, oor die verloop van 'n paar jaar volgehou word, dit in uitdagings met dienslewering, 'n agteruitgang in finansiële gesondheid en 'n mislukte regering tot gevolg sal hê.

“'n Kombinasie van al hierdie faktore gee die ekonomie 'n baie groot knou – klein sakeondernemings speel bankrot, armoede vermeerder en indiensnemingsyfers daal skerp. Die buitewêreld sien dit uiteindelik raak, soos ons nou sien in die ekonomiese afgraderings en gebrek aan beleggings – dit is alles faktore wat 'n demokrasie, en die gepaardgaande beloftes aan landsburgers, kan vernietig."

Volgens Makwetu het die gebrek aan optrede, of die inkonsekwente optrede van ons leiers, 'n kultuur van “geen nagevolge" geskep. Dit is dikwels weens onvoldoende prestasiebestuurstelsels en -prosesse.

“Vakante poste en onstabiliteit in sleutelposte het sistematiese en gedissiplineerde verbeteringe vertraag en die gebrekkige implementering en onderhoud van finansiële en prestasiebestuurstelsels deur die administrasie tot gevolg gehad.

“'n Minagting van kontrole (insluitende goeie rekordhouding) en voldoening aan sleutelwetgewing in verskeie afdelings van die openbare sektor het 'n omgewing geskep waarin dit maklik is om bedrog te pleeg. Politieke binnegevegte en inmenging in die administrasie het tot verswakte oorsig en tot die gebrekkige of geen implementering van nagevolge vir oortredings gelei.

Makwetu het gesê die OG se mandaat is om oor die regering se verantwoordbaarheid vir die gebruik van openbare hulpbronne verslag te doen, met spesifieke klem op finansiële bestuur, prestasiebestuur en respek vir wetgewing.

“Met die verloop van tyd, veral gegewe sekere versuim in die stelsel van verantwoordbaarheid, het hierdie verslagdoening ook op die regering se onvermoë om gevolge vir hierdie mislukkings toe te pas, begin fokus."

Hy het bygevoeg dat die ouditering van die openbare sektor 'n belangrik faktor is om 'n verskil in landsburgers se lewens te maak. Volgens hom het dit 'n positiewe uitwerking op vertroue in die samelewing aangesien dit die kurators van openbare hulpbronne se aandag vestig op hoe doeltreffend hulle daardie hulpbronne aanwend.

“'n Onafhanklike, doeltreffende en geloofwaardige ouditkantoor is dus 'n noodsaaklike onderdeel in 'n demokrasie waar verantwoordbaarheid, deursigtigheid en integriteit onontbeerlik is."

Makwetu het gesê hy sou graag 'n verbetering in die etiese optrede van diegene in die openbare sektor wou sien, asook 'n sigbare onderneming deur alle staatsamptenare om tot die finansiële gesondheid van die land en 'n beter maatskaplike realiteit vir alle Suid-Afrikaners by te dra.

Hooffoto: Kimi Makwetu saam met proff Nicola Smit, dekaan van die regsfakulteit, en Sandy Liebenberg van die HF Oppenheimer-leerstoel vir Menseregtereg,​ by die lesing. Fotograaf: Anton Jordaan