Skip to main content
Verborge talente kry nuwe betekenis in ons VS

Verborge talente kry nuwe betekenis in ons VS

Operations and Finance
15 November 2021

​Dit is vir my heerlik om in ons Verantwoordelikheidsentrum Bedryf en Finansies te werk. Ek het die voorreg om met talentvolle, passievolle en fassinerende mense te werk. My dag is nooit saai nie.

Die afgelope maand moes ek persoonlik diep delf en een van my verborge talente (by wyse van spreke) onthul: die talent van kook. Toe ek julle uitgedaag het om aan Prof Stan se Groot Kook deel te neem, het dit beteken dat ek self ook die bestanddele moes koop, die gesin moes vra om die kombuis te verlaat en te begin met 'n naweek van lam, lam en lam kook. Terselfdertyd het ek geweet dat die wonderlike Mari-Louis Guy, ons gassjef, ook dieselfde kos aan haar kant kook. Ek het gedoen was ek moes en die gaste om die etenstafel het nie gekla nie, want die resepte was uitstaande.

Die voorgereg het plek gemaak vir die hoofgereg: die viering van die wenners van vanjaar se uitnemendheidstoekennings. Ons tien wenners was nie net elke kompliment en toekenning werd nie, maar hulle het hul eie persoonlike stempel van uitnemendheid afgedruk op die werk wat hulle in baie onsekere en moeilike tye moes verrig.

Ons streef nie na wat ek noem operasionele uitnemendheid sonder konteks nie: ons streef na operasionele uitnemendheid om die Universiteit Stellenbosch se Visie 2040 te bereik. Laat ek daardie visie herhaal:

Die Universiteit Stellenbosch sal Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder.

Ons streef nie net daarna om uitnemend te wees nie, maar om te lei, om die voorste navorsingsintensiewe universiteit op ons vasteland te word – en as universiteit doen ons dit om kennis in diens van die samelewing te bevorder.

In ons Universiteit se Missieverklaring is ons VS reg in die kern daarvan: in ons Afdeling Finansies, in Maties Sport, by Innovus, by ons IT-afdeling en by Fasiliteitsbestuur bied en skep ons 'n wêreldklas omgewing; 'n plek wat aan die wêreld verbind is.

Aan die wêreld verbind

'n Plek wat aan die wêreld verbind is, so sê ons missie. Maar wat gebeur as ons verbinding met die wêreld verbreek word? Wat gebeur as ons verbintenis met mekaar verbreek word, op 'n skaal wat eenvoudig nog nooit vantevore gebeur het nie? Wat gebeur wanneer ons ons kampusse in die middel van die akademiese jaar vir die heel eerste keer in die geskiedenis van ons Universiteit sluit?

Dit is wat verlede jaar gebeur het; 'n krisis van 'n omvang wat ek nooit kon voorsien het nie. Ons het risiko's op soveel operasionele fronte in die gesig gestaar.

Maar die grootste risiko van 'n pandemie vir ons as 'n Universiteit en ons Verantwoordelikheidsentrum is altyd op menslike vlak: die risiko dat ons mense – ons  personeel en studente persoonlik swaar trek. Ek dink veral aan ons kollegas, vriende en familie wat siek geword het met COVID-19 sowel as ons kollegas, vriende en familielede wat verlede jaar oorlede is.

Maar dit is ook op menslike vlak dat ons die eerste keer hierdie pandemie onder die knie gekry het: in die vyf afdelings van ons VS het ons afdelingshoofde vasberade leierskap getoon om moraal te handhaaf, om wat ons gewoonlik vanaf ons kampus gedoen het, skielik van ons huise moes doen. En bowenal toegesien het dat kritieke dienste op ons kampus steeds gelewer word. Ons het rampe vermy en krisis in sukses verander. Danksy ons kollegas se toegewyde, vaardige en harde werk. Dankie, kollegas; elkeen van julle.​​