
Veiligheidsriglyne vir US-personeel tydens resestye
26 Mei 2016
Personeel word vriendelik versoek om ekstra waaksaam te wees tydens die reses wanneer daar baie minder beweging en aktiwiteite op kampus is. Maak asb 'n nota van die volgende:
Noodnommers:
- Stellenbosch-kampus: 021 808 2333. Die Whatsapp-nommer is 082 808 2333
- Tygerberg- en Bellvilleparkkampusse: 021 938 9507
- SAPD-nooodnommer: 10111.
- Sluit jou kantoordeur wanneer jy dit verlaat, al is dit slegs vir ʼn kort rukkie. Maak vensters toe, veral op die grondvloer, selfs al is daar diefwering.
- Moenie waardevolle artikels naby of in sig van vensters laat nie, ongeag of die vensters oop of toe is.
- Moenie kantoorsleutels wegsteek waar dit maklik gevind kan word nie, soos onder ʼn deurmat.
- Sluit waardevolle items soos beursies, selfone en kontant in ʼn sluitkas toe.
- Moenie groot bedrae kontant in kantore hou nie.
- Neem te alle tye waardevolle persoonlike items saam gedurende die reses.
- Moenie waardevolle items sigbaar in voertuie laat nie – dit lok misdadigers. Verwyder ook die radio/CD-speler se gesigplaat indien moontlik, en neem dit saam met jou.
- ʼn Ratslot is die beste vorm van voorkoming teen motordiefstal.
Wenke vir wanneer jy op kampus rondbeweeg
- Dit is altyd veiliger om saam in ʼn groep te stap. Wees bewus van op jou direkte omgewing en wees op die uitkyk vir verdagte optrede of vreemde gedrag.
- As jy alleen moet stap, maak gerus gebruik van Kampussekuriteit se saamstapdiens (tel 0218084666 of via Whatsapp op 082 808 2333 vir die Stellenbosch-kampus en 021 938 9507 vir die Tygerberg-kampus)
- Selfone moet sover moontlik altyd onopsigtelik aan jou persoon gedra word.
- Indien jy vermoed dat jy agtervolg word, verander van rigting en stap tot by die naaste plek waar daar mense is. Skakel Kampussekuriteit se noodnommer by 021 808 2333 of die SAPD by 10111 en meld dit aan.
Wenke ingeval jy na-ure in jou kantoor moet werk
- Parkeer so na as moontlik aan die voordeur van jou werkplek. Vermy afgesonderde, verlate parkeerareas. Parkeer snags slegs in ʼn goed verligte areas.
- Stap doelgerig en vinnig.
- Vermy donker of verlate areas.
- Let op na riskante gedrag van mense in jou omgewing wanneer jy die kantoor verlaat.
- Wanneer jy die kantoor na donker verlaat, reël vooraf telefonies met Kampussekuriteit om jou te vergesel tot by jou motor.
Toegangsbeheer by universiteitsgeboue
- Toegangsbeheer moet ten alle tye streng toegepas word, selfs gedurende die dag. Deure moet gesluit word sodat toegang slegs per kaart moontlik is.
- Bona fide besoekers moet deur die betrokke personeellid persoonlik ontvang word en die besoeker moet vergesel word totdat hy/sy weer die gebou verlaat.
- Moenie onbekende persone toegang tot US-persele gee nie en moenie persone saam met jou laat stap met jou kaart nie.
- Indien ʼn kaart gesteel of verloor word, moet dit dadelik gekanselleer word.
Rapporteer verdagte persone op kampus
- Memoriseer die noodnommers van Kampussekuriteit: 021 808 2333 en 082 808 2333 via Whatsapp (Stellenboschkampus) en 021 938 9507 (Tygerberg- en Bellvilleparkkampus) asook die SAPD-noodnommer: 10111.
- Rapporteer enige verdagte persone op kampus onmiddellik aan Kampussekuriteit en probeer om ʼn goeie beskrywing te gee.