
#USvroue: Mentors help ingenieursdosent om haar voete te vind in die lewe
Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende 'n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Iemand het een keer gesê grootouers is 'n klein bietjie ouer, 'n klein bietjie onderwyser en 'n klein bietjie vriend. Wanneer 'n mens egter na Dr Chantelle van Staden se verhaal luister, word dit gou duidelik dat jy ook 'n klein bietjie mentor kan byvoeg. Want dít is presies wat haar grootouers, veral haar ouma, vir haar was. Van Staden, 'n dosent in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), praat met groot deernis oor haar verhouding met hierdie twee mense wat sy as haar eerste mentors beskou.
Sy kom oorspronklik van Durban, maar sy was 16 toe sy saam met haar ma en jonger suster na Saldanhabaai aan die Weskus verhuis het. Dit was moeilik om nie 'n vaderfiguur in die nabyheid te hê nie, sê Van Staden. “Aangesien ek dikwels in my gedagtes met gesinskwessies geworstel het, het ek gesukkel om op skool te konsentreer en op die ou einde het ek 'n taamlike herrie veroorsaak.
“Gelukkig het my grootouers ingegryp. Hulle was my eerste mentors wat vir my met groot liefde gesê het ek het 'n lang en mooi lewe voor my, en dat ek baie innerlike krag het. Deur tyd en liefde in my lewe te belê, het hulle potensiaal wat ek nie geweet het ek het nie, in my ontsluit. Hulle het my gehelp om my sokkies op te trek en vorentoe te kyk."
Van Staden sê dít was 'n groot keerpunt in haar lewe, want sy het besef daar is mense wat aan haar kant was. Sy het harder begin werk op skool en haar punte het aansienlik verbeter.
“Ek skryf dit alles hoofsaaklik toe aan mentorskap," voeg Van Staden by.
Sy sê sy wou aanvanklik gaan medies studeer, maar haar ouma het haar aan die wêreld van ingenieurswese bekendgestel.
“My ouma het eintlik 'n rekeningkundige agtergrond gehad en sy was die kapitale rekenmeester vir 'n groep jong siviele, chemiese en nywerheidsingenieurs wat 'n deel van hulle nagraadse studieprogram by die maatskappy waar sy gewerk het, gedoen het.
“Sy het my altyd van haar interaksies met hierdie ingenieurs vertel en hoe goed hulle gevaar het, en sy het toe voorgestel dat ek ingenieurswese oorweeg."
Omdat sy altyd in die wetenskap belanggestel het, het Van Staden in graad 11 vir 'n kompetisie vir wetenskapprojekte ingeskryf en 'n beurs by die Departement van Waterwese losgeslaan. Dit het haar in staat gestel om ingenieurswese aan die US te studeer.
“Ek was só opgewonde om universiteit toe te gaan, maar ek het gou uitgevind dit verskil baie van skool. My eerste jaar was nogal moeilik. Ek het menige dae my ma in trane gebel om te sê ek dink nie ek kan dit doen nie."
Maar net soos op skool, het Van Staden daarin geslaag om haar reg te ruk en haar voorgraadse studie te voltooi nadat sy in haar tweede jaar 'n groep wonderlike, hardwerkende vriende gevind het wat haar baie gehelp het.
Sy sê haar bekering in haar derde jaar was 'n deurslaggewende gebeurtenis in haar lewe.
“Alles het verander. My hele lewe het verander ten opsigte van my fokus en my buie en my verhouding met myself en met ander mense. Ek het 'n meer volronde, omgee-mens geword wat gevul was met God se omgee-liefde. Jesus het my regtig gehelp om te genees en te vergewe. Dit het my seerkry weggeneem en uiteindelik ook my gebroke verhouding met my pa ten volle herstel.
“Ek het besef die lewe bestaan uit baie meer as net om 'n ingenieur te word, baie geld te maak, goed te vaar en goeie punte te behaal; dit gaan oor mense en dit is hoe jy hulle lief het en dien wat werklik 'n verskil maak."
Van daar af het sy 'n mentor en tutor vir van haar medestudente geword. “Dit was baie bevredigend en ek het dit regtig geniet."
Van Staden sê prof Johan Vermeulen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese was tydens haar meesters- en PhD-studies 'n wonderlike mentor en studieleier vir haar. Sy beskryf hom as 'n opregte, plat-op-die-aarde-, ware omgee-mens wat haar soos 'n dogter behandel het en haar altyd welkom laat voel het.
Toe sy 'n dosent geword het, was prof Petrie Meyer, Visedekaan: Navorsing en Bedryfskakeling in die Fakulteit Ingenieurswese, ook 'n invloedryke mentor vir haar.
“Hy is die gaafste en liefdevolste mens en 'n vriend. Hy wil regtig jou geesdrif vasvang en seker maak dat niemand dit steel nie," sê Van Staden.
“Ek dink dit is wat 'n mentor is: iemand wat jou geesdrif raaksien en dit wil aanvuur, beskerm en bevorder en jou wil help om na die volgende vlak te beweeg. Die groot ding van mentorskap is dat dit 'n tweerigtingstraat is. Jy weet iemand het uiteraard meer ondervinding as jy, maar hulle kan ook 'n vriend wees. Ek dink dit gaan daaroor om 'n vriendskap te smee.
“Ek glo vas in sterk interpersoonlike verhoudings soos om ruimte te skep vir mense om vriende te wees. Jy moet mekaar leer ken en op 'n dieper vlak as net oor werk aansluiting vind. Goeie mentors gee vir jou as persoon én jou groei om en wil hê jy moet sukses behaal. Hulle moedig jou aan en doen alles in hulle vermoë om toe te sien dat jy sukses behaal.
“Mentorskap moet vir jou 'n veilige ruimte skep waarheen jy kan kom as jy gelukkig, opgewonde, hartseer, seer en angstig is of wanneer jy hulp nodig het wanneer dinge verkeerd loop."
Van Staden beklemtoon die waarde van mentorskap vir vroue in die ingenieursberoep en meen daar is ruimte vir vroue om mentors en rolmodelle vir ander vroue, veral jongmeisies, te wees.
Sy voeg by dat vroue in leierskap in besonder 'n baie groot rol speel om as mentors vir die volgende geslag op te tree.
“Ek dink dit is belangrik om iemand in jou hoek te hê wat jou kan help om weg te vind, om 'n professionele en sosiale netwerk te bou, om te floreer en om 'n werk-lewe-balans te skep en jou kan aanmoedig wanneer dinge moeilik raak. Dit is baie belangrik dat wanneer 'n vrou 'n sekere ruimte betree, sy nie soos 'n bedrieër voel en dat sy nie by die kultuur van die organisasies pas nie."
Wanneer sy nie besig is om klas te gee en as mentor op te tree vir die ingenieurs van môre nie, gaan draf of stap Van Staden graag in die berg saam met haar man. Sy is ook 'n pleegma vir 'n tien maande oue baba en hou daarvan om vriende te onthaal of ander mammas in 'n park te ontmoet.
- Foto deur Stefan Els (Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking)