
#USvroue: Matie omskep gemeenskapsdiens in florerende besigheid wat werk skep
Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende 'n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Hou aan' sê die tatoeëermerk op entrepreneur Maambele Khosa se pols – 'n tasbare herinnering om vorentoe te beweeg ongeag die uitdagings van die lewe. Dit is 'n eenvoudige motto wat hierdie nederige sakevrou al telkemale staande gehou het, ongeag die lewe se uitdagings, vandat sy uit Tiyani Magoro, 'n landelike nedersetting in Limpopo, na Stellenbosch verhuis het. Hier het sy SheCab, 'n vervoermaatskappy vir vroue, in die lewe geroep en is sy tans die direkteur daarvan.
SheCab voorsien reeds die afgelope twee jaar in 'n uiters belangrike behoefte in die gemeenskap deur veilige vervoer te verskaf terwyl dit werksgeleenthede vir vroue skep. Wat hierdie diens anders maak, is dat dit uitsluitlik vir vroue is en alle bestuurders is ook vroue.
Khosa se reis het in 2015 by die Universiteit Stellenbosch (US) begin toe sy vir 'n BSc-kursus in Geo-informatika en Inligting ingeskryf en voltooi het. Sy het daarna 'n nagraadse diploma in Bemarking gedoen. Sy is tans besig met haar MPhil in die Studie van Wetenskap- en Tegnologie aan die US, waar sy ook die bemarking en kommunikasie vir US se Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie behartig.
SheCab is in 2021 – toe die Covid-19-pandemie hoogty gevier het – uit noodsaak gebore. Ná berigte van aanvalle op vroue wat openbare vervoer en ander vervoerdienste gebruik het, het Khosa besluit om veilige ritte aan vroue in nood te bied. Die nuus oor haar diens het vinnig versprei en die vraag het vinnig toegeneem.
Ten einde tred te hou met die aanvraag, het Khosa haar vloot uitgebrei deur nog vrouebestuurders aan boord te bring. Die diens het tans 12 deeltydse bestuurders wat fleksie-ure werk om vroue na en van Stellenbosch te vervoer. Hoewel dit as 'n sosiale diens begin het, het die onderneming nou tot 'n florerende saak ontwikkel wat vroue bemagtig en aan hulle 'n veilige alternatiewe vervoerdiens bied. Vroue kan nou met 'n geruste hard 'n versoek vir vervoer rig omdat hulle veilig voel en weet hulle sal deur 'n professionele vrouebestuurder van die SheCab-span vervoer word.
Khosa sê dat hoewel sy danksy sosiale media baie by talle mentors kon leer – al was dit virtueel, het sy by haar ma die basiese sakebeginsels geleer. Sy het by Khosa 'n sterk werksetiek ingeskerp. “Ek kom uit 'n gesin wat moes woeker om 'n bestaan te maak. My ma het my vir gewys dat indien jy hard werk vir dít wat jy wil hê, jy dit sal kry."
Khosa se raad aan ambisieuse entrepreneurs is om risiko's te neem en konsekwent te bly. “Gryp elke geleentheid aan as 'n kans om jou alles te gee en lewer ongeëwenaarde waarde."
Omdat sy verskeie rolle – as 'n student, bemarkingspraktisyn, maatskappydirekteur en deeltydse bestuurder – tegelykertyd moet vervul, behoort Khosa 'n ekspert in tydbestuur te wees. Maar sy erken laggend dat sy geen ghoeroe is wat werkbalans aan betref nie. “Daar is dae en selfs weke wat goed agterwee bly."
Haar inspirerende tatoeëermerk herinner haar egter daagliks daaraan om te volhard en elke dag klein stappies vorentoe te neem. Namate SheCab groei en 'n positiewe bydrae lewer, is Khosa 'n sprekende voorbeeld van hoe toewyding en 'n begeerte om mekaar te ondersteun, tot ongelooflike prestasies kan lei.
Ter verduideliking oor hoe om dinge te hanteer wanneer die lewe besig word en die eise van vrouwees jou wil oorweldig, verwys sy na haar inspirerende tatoeëermerk: “Dit herinner my daagliks daaraan dat wat ek ook al doen, ek net moet aanhou. Ek moet die klein goedjies doen wat ek vandag kan doen."